10 kostebesparingsidees vir jou onderneming in 2021

Talle ondernemings is nog besig om van die impak van die nasionale inperking te herstel, terwyl ander dalk beoog om te groei in 2021. In herstel- of groeitydperke help dit om soveel moontlik geld te spaar om jou plan vir 2021 te befonds. Hier is ’n paar maklike maniere waarop jou onderneming kostes kan bespaar.

1) Laat jou werknemers van die huis af werk

Indien jou werknemers se werk van so aard is dat dit enige plek gedoen kan word, kan jy hul toelaat om van die huis af te werk. Op hierdie wyse hoef jy nie huur te betaal vir kantoorspasie nie, of betaal jy minder vir ’n kleiner kantoorspasie.

2) Koop gebruikte toerusting

In plaas daarvan om ’n splinternuwe drukker, rekenaarskerm of lessenaar te koop, kan jy geld bespaar deur die nodige items tweedehands teen ’n laer prys aan te koop.

3) Hersien jou besigheidsversekering

Versekering kan ’n beduidende uitgawe vir kleinsakeondernemings wees. Vergelyk die premie van jou besigheidsversekering met ander op die mark. Hersien ook elke ses maande jou versekering – daar is dalk bates wat nie meer in jou besit is nie wat van jou polis verwyder kan word.

4) Belasting

Gesels met jou boekhouer of rekenmeester oor maniere waarop jou onderneming belasting kan bespaar. Jy het dalk ’n finansiële bydrae tot ’n liefdadigheidsorganisasie gemaak wat afgetrek kan word. Is daar BTW op duur toerusting wat jou onderneming kan terugeis? Jy moet toesien dat jou belasting reg is en dat jy nie te veel betaal nie.

5) Gebruik gratis sagteware

Programmatuur kan ’n groot uitgawe wees. Daar is wel verskeie gratis sagteware-opsies, van rekeningkundige tot basiese ontwerpsagteware, tot jou beskikking. Dit is in elk geval beter om eers ’n toetslopie met sagteware te doen voordat jy dit koop om seker te maak dat dit die funksionaliteit het wat jy vir jou onderneming benodig. Verder is sommige van dié sagteware so maklik om te gebruik dat jy die werk self kan doen en nie nodig het om ’n kenner aan te stel nie.

6) Verminder papier gebruik

Jy kan geld bespaar deur byvoorbeeld kontrakte en fakture in elektroniese formaat te stoor, eerder as om dit uit te druk. Dit is boonop omgewingsvriendelik. Indien dit noodsaaklik is om sekere dokumente te druk, kan jy beide kante van die papier gebruik.

7) Hou virtuele vergaderings

Daar is fantastiese sagteware beskikbaar soos Skype, Zoom en Microsoft Teams om vergaderings virtueel te hou. Indien jy verskaffers of kliënte het wat ver van jou af geleë is, kan jy hul virtueel ontmoet en sodoende koste op brandstof of vlieguitgawes bespaar.

8) Kontrakteer sommige funksies uit

Jy kan sommige funksies uitkontrakteer, eerder as om ’n permanente persoon aan te stel om die funksie te verrig. Onafhanklike kontrakteurs vra dikwels minder as iemand wat permanent aangestel word. Meeste funksies kan uitgekontrakteer word, soos die inligtingstegnologie- en rekeningkundige funksies.

9) Hersien jou krag verbruik

Het jy geweet dat 75% van kragverbruik geskied terwyl jou elektroniese items afgeskakel is? Daarom is ’n maklike manier om te spaar op elektrisiteitskostes om bloot al jou elektronika by ’n meervoudige prop in te prop en die prop af te skakel en uit die muur te trek aan die einde van die dag. In die lang termyn kan so eenvoudige daaglikse takie jou baie rande spaar.

10) Stel ’n begroting op

Een van die hoofredes waarom baie ondernemings teveel aan sekere fasette van hul onderneming spandeer, is die feit dat hulle nie ’n begroting het nie. Wanneer jy voor die tyd jou uitgawes beplan en uitlê is dit makliker om daarop te let dat jy nie oorbestee nie. Kyk elke maand of jou begroting nog bygewerk is en of daar nie dalk onnodige uitgawes is nie. So sal jy in die lang termyn verseker dat jou kapitaal bestee word aan die fasette van jou onderneming wat regtig ’n verskil maak.