Kies jou nis: Van spekgegeurde vodka tot veganvriendelike leer

Wat het spekgegeurde vodka en veganvriendelike leer gemeen? Beide word vir ’n nismark gemaak. ’n Nismark is ’n segment van die groter handelsmark wat gedefinieer word deur unieke behoeftes, voorkeure of identiteit. Nismarkte word verdeel volgens:

  • Prys (luuks, gemiddeld of goedkoop)
  • Demografie (geslag, ouderdom, inkomstevlak en opvoedingsvlak)
  • Kwaliteit (premium, handgemaak of ekonomies)
  • Geografie (inwoners van ’n sekere area, stad of streek)
  • Psigografie (waardes en belangstellings)

Die besluit om jou produk of diens te fokus op ’n nismark is ’n goeie strategie. Sodoende kan jy die kompetisie uitstof, of ’n goeie vastrapplek in ’n sekere marksegment kry. Volgens die Harvard Business Review het baie maatskappye aanvanklik op ’n nismark gefokus voordat hulle uitgebrei het na ’n wyer mark. Deur eers net op ’n nismark te konsentreer, gee ’n besigheid die kans om sy struktuur reg te kry en enige probleme vinnig uit te skryk voordat hy die konsep dupliseer vir ’n wyer mark.

Vind jou nis:

Wie?

Nismarkbemarking verwys daarna dat jou bemarkingstrategie fokus op ’n spesifieke segment van ’n wyer mark. Die uitdaging is dan natuurlik om seker te maak dat jy die regte groep identifiseer en aan húlle bemark.

Die eerste stap in jou bemarkingsproses is dus om seker te maak jy identifiseer presies wie jou mark is. Hoe oud is hulle? Watter geslag? Waarin stel hulle belang? Al dié fasette verseker dat jy die regte koper vir jou unieke produk identifiseer.

Waar?

Die vraag is altyd wáár jy aan jou nismark bemark. Gebruik al die kanale tot jou beskikking, of dit e-posse, aanlyn of drukmedia is – alles kan gebruik word. Die enigste voorwaarde is, die boodskap in jou bemarking moet van só ’n aard wees, dat dit tot jóú mark spreek. Maak seker die inhoud is aanloklik vir die “Wie” wat jy geïdentifiseer het.

Waarom?

Gesonde kommunikasie tussen besighede dryf wel verkope en groei, maar vir ’n klein besigheid kan dit die druk verminder indien hy op ’n nismark sou fokus. Klein besighede doen veral goed wanneer die kompetisie in die arena waarin hulle funksioneer, nie aan die behoeftes van die nismark voldoen nie. Dit skep ’n outomatiese vraag na jou unieke produk of diens.

Voorbeelde van suksesvolle nismarkbemarking

Under Armour

Dié bekende handelsmerk het as ’n nismarkproduk begin, wat later uitgebrei het na ’n wyer kliëntebasis. Die stigter, Kevin Plank, ’n voormalige voetbalspeler in Amerika, wou ’n hemp dra wat nie sopnat gesweet was na ’n paar minute van spel nie. Die antwoord was, ’n hemp gemaak van ’n materiaal wat droog bly. Hy het aanvanklik sowat 500 hemde gemaak, wat hy aan voormalige spanmaats gegee het en hulle was gaande daaroor. Die handelsmerk het intussen uitgebrei na ’n wyer verskeidenheid produkte, insluitend skoene. Die kern van die besigheid bly egter dieselfde – Under Armour fokus op mense wat nie swetering wil wees wanneer hulle oefen nie.

Lefty’s

Lefty’s, ’n winkel gebaseer in San Francisco, fokus op linkshandige mense. Hoewel sommige van hul produkte bloot vir die snaaksheid verkoop word, soos linkshandige koffiebekers, is daar ander wat spesifiek daarop gemik is om die gebruik daarvan vir linkshandige mense makliker te maak. Deur slim bemarking het Lefty’s dié winkel geword wat aan die behoeftes van linkshandige mense voldoen.

Untuckit

Untuckit fokus op ’n baie klein groepie mans wat graag formele hemde dra, maar dit nie wil insteek nie. Daarbenewes bied Untuckit manshemde in meer as 50 verskillende snitte en in alle groottes.

Lush

Lush is ’n nismarksuksesstorie wat wêreldwyd uitgebrei het. Hulle besigheidsmodel is daarop gefokus om kliënte van ’n spesifieke oortuiging te lok. Alle produkte wat hulle verkoop, word op etiese en eko-vriendelike wyses aanmekaargesit en vervaardig. Hulle verpakking is eko-vriendelik en geen plastiek word in enige van hulle produkte gebruik nie.