Hannes en Jeanri van Zyl. Van ’n eenvoudige vraag tot ’n groeiende handelsmerk: Die storie van WAT WIL JY DRINK?

Elke onderneming begin iewers: soms met ’n strategiese plan, soms met jare se ervaring, en soms, soos in hierdie geval, met ’n eenvoudige vraag wat net nie beantwoord word nie.

Vir die Van Zyls het alles in Desember 2020 tydens die hoogtepunt van die Covid-19-pandemie begin. Soos baie ander gesinne was hul wêreld kleiner, hul keuses minder en hul daaglikse roetines meer patroonmatig. Een vraag het byvoorbeeld telkens kop uitgesteek: “Wat wil jy drink?” Sy vrou, Jeanri, se antwoord was byna altyd dieselfde: “Ek weet nie.” Wat aanvanklik bloot ’n ligte frustrasie was, het gou ontwikkel in ’n groter besef: Hierdie is nie net húlle probleem nie; dit is ’n universele, alledaagse verskynsel.

Daardie ligte irritasie het dus vinnig vir inspirasie plek gemaak: Wat as daar ’n wyse was om hierdie besluitloosheid in iets positiefs te omskep? Wat as die vraag self die kern van ’n produk kon word? Só is die idee vir WAT WIL JY DRINK? gebore: ’n wynhandelsmerk wat nie net wyn verkoop nie, maar ’n ervaring skep waarin keuses eenvoudig, speels en persoonlik gemaak word. Nou is hierdie vraag nie meer ’n kopseer nie en jy kan maar daardie glasie sonder frustrasie gaan skink!

Ons wyn is nie net ’n oulike storie met unieke name en ’n mooi voorkoms nie. Dit is ook wyn van goeie gehalte wat elke palet sal pas. Die onderneming is gebou rondom die eenvoudige vraag “Wat wil jy drink?”—met die doel om wynkeuses makliker, lekker en persoonlik te maak.

Hoe werk die konsep?

Die etiket wat om die wynbottel vou, asook – as jy fyner kyk – die vraagteken, is die silhoeët van Jeanri as die “besluitlose vrou”. Die wynreeks bestaan uit ses versnitte, elk met ‘n unieke naam:
• Chenin Blanc, “Ek weet nie” 
• Sauvignon Blanc, “Iets koud”
• Droë Rosé, “Verras my”
• Pinotage Cabernet Sauvignon, “Dit wat oop is”
• Perlé Moscato, “Bederf my”

• Perlé Rosé, “Iets lekkers”

Elke persoon koop die versnit waarvan hulle hou. Wat ons anders maak en laat uitstaan is beslis die storie en die name.

Die reis van idee na werklikheid was egter nie sonder uitdagings nie. Sonder ’n agtergrond in die wynhandel moes hulle van voor af leer hoe om ’n wynonderneming te bou; van verskaffers en smaakprofiele tot logistiek en voorraadbeplanning. Die kompleksiteit van die bedryf, veral die behoefte om ver vooruit te beplan, het Hannes vinnig laat besef dat sukses in hierdie veld nie toevallig gebeur nie. Deur navorsing, gesprekke met kenners en ’n bereidwilligheid om te leer het hulle stadig maar seker hul voete gevind.

Van die begin af was daar egter ’n vaste oortuiging: Hierdie idee kan werk. Vir hulle lê sukses nie noodwendig in tradisionele maatstawwe nie, maar in impak. Daardie bevestiging het gekom tydens hul eerste wynfees. Die positiewe terugvoer van kliënte, die manier waarop mense met die handelsmerk kon identifiseer en die entoesiasme oor die produk het die onderneming se potensiaal bevestig. Dit was nie net ’n produk nie; dit was ’n storie waarin mense hulself herken.

Vandag word WAT WIL JY DRINK? beskryf as meer as net ’n wynhandelsmerk – dit is ’n viering van Afrikaanse kultuur, kreatiwiteit en samesyn. Die konsep is eenvoudig, maar doeltreffend: Wanneer jy nie weet wat om te kies nie, maak die handelsmerk dit vir hulle maklik. Antwoorde soos “Verras my”, “Iets koud” of “Iets lekkers” word omskep in ’n konkrete produk, ’n bottel wyn wat presies daardie gevoel vasvang.

Wat die handelsmerk onderskei, is juis hierdie herkenbaarheid. Byna almal het dit al ervaar: ’n Eenvoudige keuse word skielik kompleks. Deur hierdie universele ervaring te benut, bou die onderneming ’n sterk emosionele band met sy kliënte. Hierdie verbinding word verder versterk deur storievertelling, visueel aantreklike bottels en ’n fokus op gehalte – ’n kombinasie wat help om lojaliteit in ’n mededingende mark te bou.

Soos met baie ondernemings in die wynhandel bly kontantvloei ’n voortdurende uitdaging, en groei vereis strategiese denke. Die onderneming het doelbewus begin uitbrei deur wynfeeste regoor verskillende streke by te woon. Dit het nie net blootstelling uitgebrei nie, maar ook direkte kontak met kliënte moontlik maak. Verder is verspreiding uitgebrei na winkels in gebiede waar die handelsmerk reeds bekend was – ’n doelbewuste poging om momentum te behou en volgehoue verkope te verseker.

Groei het ook belangrike lesse ingehou. ’n Aanvanklike afhanklikheid van ’n enkele verskaffer het probleme veroorsaak toe aanvraag meer as aanbod toegeneem het. Dit het egter gelei tot die ontwikkeling van ’n meer diverse en betroubare verskaffersnetwerk. Risiko word nou meer strategies bestuur, veral wat betref die veilige en betroubare aflewering van produkte aan kliënte.

Agter die handelsmerk staan tans ’n klein maar toegewyde span wat slegs Hannes en Jeanri insluit. Soos in enige vennootskap is daar verskille, maar hulle het ’n eenvoudige ritueel ontwikkel: Een keer per week sit hulle saam oor ’n koppie koffie om te beplan, idees uit te ruil en seker te maak hulle is op dieselfde bladsy. Hulle fokus op hul onderskeie sterkpunte en vul mekaar aan waar dit ook al nodig is. Dit is ’n benadering wat hul samewerking versterk.

Die toekomsvisie vir WAT WIL JY DRINK? is duidelik: om ’n gevestigde en geliefde handelsmerk in Suid-Afrika te word wat mense bymekaar bring. Daar is ook planne om die produkreeks met ander dranksoorte aan te vul, maar met die nodige geduld en beplanning. Tegnologie speel reeds ’n belangrike rol, veral deur aanlyn verkope en sosiale media, wat help om die handelsmerk vinniger en wyer te laat groei.

Ten spyte van die uitdagings bly die kern van die onderneming onveranderd: egtheid. Die handelsmerk bly getrou aan dit wat dit van die begin af besiel het:, goeie wyn, goeie geselskap en die viering van Afrikaans. Hierdie egtheid help dit om toepaslik te bly in ’n mark wat voortdurend verander.

Op persoonlike vlak het die entrepreneursreis Hannes en Jeanri geleer om risiko’s te neem en nie bang te wees om buite hul eie bedryf te beweeg nie. Hulle glo dat baie beginsels universeel is; dat sukses dikwels lê in die vermoë om idees uit verskillende velde te kombineer en aan te pas. Die balans tussen werk en hul persoonlike lewe bly ’n uitdaging, veral omdat die onderneming en hul voltydse werke terselfdertyd aandag verg, maar gesinstyd bly veral vir Jeanri ’n prioriteit.

Hul raad aan ander voornemende entrepreneurs is eenvoudig: Moenie bang wees om te begin nie. Fokus op die potensiaal van ’n idee eerder as die risiko’s, en hanteer uitdagings wanneer dit opduik. Vir hulle gaan dit uiteindelik oor impak, en oor die moed om iets te bou wat eg en betekenisvol is.

En dalk is dit die mooiste deel van hierdie storie: dat iets so eenvoudig soos “Ek weet nie” uiteindelik kon ontwikkel in ’n handelsmerk wat mense help om presies te weet wat hulle wil hê.

Soortgelyke plasings