Cari Taljaard se verhaal

Die begin

1. Wat het jou geïnspireer om jou onderneming te begin?

Ek wou nog altyd fotografie doen. Toe kry ek ’n geleentheid om ’n fotografiekursus te doen. Ek het dit aangegryp.

2. Hoe het jy die idee vir jou onderneming gekry?

Ná my fotografiekursus het ek eers begin foto’s neem vir vriende en familie. Almal was mal oor my foto’s en het my aangemoedig om my eie klein onderneming te begin.

3. Watter struikelblokke het jy teëgekom toe jy begin het, en hoe het jy dit oorkom?

Dit was vir my moeilik om in die mark in te kom. Omdat ’n mens onbekend is en daar so baie fotograwe is, is dit nie maklik nie. Geduld, ’n mens moet net geduldig wees en dankbaar vir elke persoon wat oor jou pad kom en jou gebruik.

4. Was daar ’n spesifieke oomblik toe jy geweet het jou onderneming sou suksesvol wees?

Ek dink my onderneming is nog jonk, en het ek nog baie om te leer en baie geleenthede wat oor my pad sal kom. My onderneming is in sy “kinderskoene” en groei ek nog elke dag. Daar is nog soveel potensiaal en geleenthede wat ek moet ontgin.

Die onderneming self

5. Hoe sou jy jou onderneming beskryf aan iemand wat nog nie daarvan gehoor het nie?

Foto’s neem is my groot passie. Ek is ongelooflik lief vir mense, en die interaksie wat gepaard gaan met die neem van foto’s stimuleer my en gee my baie energie.

6. Wat onderskei jou produk of diens van jou mededingers s’n?

Ek onderskei my van my mededingers deur bekostigbare pryse , persoonlike diens en ’n vriendelike ervaring.

7.    Hoe betrek jy jou kliënte en bou jy ’n lojale kliëntebasis?

                        Om my kliënte gelukkig te hou is vir my van kardinale belang. Mense se

smaak verskil en mense hou van verskillende tipes foto’s. Ek probeer om my kliënte  te akkommodeer en die foto’s te neem waarvan hulle hou en wat hulle graag wil hê.

8.     Wat was die grootste uitdagings wat jy onlangs in jou onderneming ervaar het?

            Daar was nog geen groot uitdagings nie, maar ’n uitdaging wat ek gereeld ervaar is kliënte wat laat opdaag en van my tyd neem – dit is altyd moeilik om sulke gevalle as ’n beginner te hanteer – en kliënte wat op die laaste nippertjie kanselleer.

Groeiproses

9.     Hoe het jou onderneming mettertyd gegroei? Watter strategiese besluite het jy geneem om groei te verseker?

            Ek dink in die tyd waarin ons leef is sosiale media ongelooflik belangrik vir die bemarking van enige onderneming. Ek het gewerk aan my sosialemediaplatforms, daar bemarking gedoen en van my foto’s geplaas. Kliënte wat ek afgeneem het, het ook van my foto’s geplaas, so het ek my blootstelling verbreed. Ek het ook my visitekaartjies by ondernemings geplaas, waar mense dit raakgesien het. Ek het ook op my sosialemediaplatforms ’n gratis fotosessie bemark waarvoor mense kon inskryf en so ’n fotosessie wen.

10.    Hoe balanseer jy innovasie met die behoud van jou kernwaardes?

As ’n nuwe fotograaf wat nog voltyds studeer, balanseer ek innovasie en kernwaardes deur kreatief te groei sonder om weg te beweeg van wat vir my belangrik is. Ek eksperimenteer met nuwe idees en style, maar bly getrou aan my waardes soos integriteit, respek en kwaliteit. Deur realistiese grense te stel tussen studies en fotografie, kan ek stadig groei, leer en my unieke identiteit as fotograaf ontwikkel sonder om my kernwaardes prys te gee.

11.       Watter foute het jy gemaak, en wat het jy daaruit geleer?

Enige onderneming, groot of klein, het risiko’s. As ’n nuwe opkomende fotograaf hanteer ek risiko deur verantwoordelik en strategies te werk. Ek begin klein en stel realistiese doelwitte vir myself, sonder om finansieel of professioneel te veel op een slag aan te pak. Goeie beplanning, duidelike kommunikasie met kliënte, en die strewe na kwaliteit en professionaliteit help om risiko in my onderneming te verminder. Deur goed voorbereid te wees en verantwoordelike besluite te neem, kan ek my onderneming geleidelik en volhoubaar laat groei.

Leierskap en span

            12.       Hoe sou jy jou leierskapstyl beskryf?

As ’n eenmanonderneming sal ek my leierskapstyl beskryf as verantwoordelik en georganiseerd. Ek het nog nie mense wat onder my werk nie, maar ek neem leiding in my onderneming deur goed te beplan, verantwoordelike besluite te neem en professioneel met my kliënte te werk. Goeie diens en gehaltewerk is vir my ononderhandelbaar en ek strewe daarna. Ek het nog baie om te leer en is oop en bereid om te leer en te groei om my onderneming verder te ontwikkel.

            13.       Wat is vir jou belangrik wanneer jy ’n span bou?

Ek werk tans nog alleen. Ek werk egter soms saam met ander fotograwe, en vir my is goeie kommunikasie, respek en ’n gedeelde passie vir gehalte belangrik wanneer ’n mens saamwerk.

            14.       Hoe inspireer en motiveer jy jou werknemers?

                        Ek het nog niemand onder my om te inspireer of motiveer nie.

            15.       Hoe hanteer jy uitdagings binne jou span of organisasie?

Ek werk tans nog alleen. Wanneer daar egter uitdagings opduik, sal ek probeer om dit te hanteer deur goeie beplanning, duidelike kommunikasie met kliënte en deur die probleem so vinnig as moontlik op te los.

Die toekoms

            16.       Wat is jou langtermynvisie vir jou onderneming?

My langtermynvisie vir my onderneming is om geleidelik as fotograaf te groei en my onderneming stadig maar volhoubaar te laat groei. Omdat ek tans nog voltyds studeer, fokus ek nou daarop om goeie ondervinding op te doen, my vaardighede te ontwikkel en goeie, gehaltewerk te lewer. Ek hoop om my onderneming met tyd verder uit te brei.

            17.       Watter rol speel tegnologie in jou besigheidsplanne vir die toekoms?

As ’n ontwikkelende fotograaf speel tegnologie ’n baie belangrike rol in my besigheidsplanne vir die toekoms.

Dit is vir my belangrik om op hoogte te bly van nuwe ontwikkelinge, tegnieke en toerusting in die fotografiebedryf. Deur my toerusting goed te ken en aan te hou leer oor nuwe tegnologie, kan ek my vaardighede verbeter en gehaltewerk aan my kliënte lewer.

            18.       Hoe bly jy relevant en mededingend in ’n vinnig veranderende mark?

Dit is baie belangrik om relevant en mededingend te bly in ’n vinnig veranderende mark. Ek probeer op hoogte bly van nuwe fotografietendense, tegnologie en tegnieke. Die aanleer van nuwe vaardighede is belangrik om op hoogte van die nuutste tegnologie te bly. Ek maak seker dat ek my toerusting goed ken en ten volle kan gebruik. Kliënte se behoeftes is ook vir my baie belangrik omdat dit ook verander. Deur gehaltewerk en aanpasbaarheid in ’n veranderende mark, kan ek geleidelik groei as fotograaf.

            19.       Wat is jou volgende groot doelwit, en hoe beplan jy om dit te bereik?

My volgende groot doelwit is om my eerste troue af te neem. Ek voel ek het nou genoeg ervaring en selfvertroue opgebou om so ’n groot geleentheid professioneel te hanteer. Om seker te maak ek lewer kwaliteit werk, beplan ek om saam met ’n “second shooter”-fotograaf te werk vir ekstra ondersteuning. Troufotografie is iets wat ek al lank graag wil doen, en ek sien baie uit daarna om hierdie volgende stap in my fotografieloopbaan te neem.

Persoonlike reis

            20.       Wat het jou entrepreneursreis jou oor jouself geleer?

In ’n baie kort tydjie het my entrepreneursreis my al so baie goed oor myself geleer. Ek het geleer om my geld beter te bestuur, goed te beplan en duidelik met kliënte te kommunikeer. Ek het ook geleer hoe belangrik tydsbestuur is om ’n balans tussen my studies en fotografie te kan handhaaf. Verder het ek geleer om geduldig met myself te wees, selfvertroue op te bou en uit ervaring te leer terwyl ek my onderneming geleidelik ontwikkel en laat groei.

            21.       Hoe balanseer jy werk en jou persoonlike lewe?

Ek probeer om my werk en persoonlike lewe te balanseer deur goeie beplanning en tydsbestuur. Dit is soms moeilik, veral wanneer ek persoonlike geleenthede moet misloop as gevolg van ’n fotosessie. Ek is egter bereid om hierdie opofferings te maak omdat fotografie my passie is en ek graag my onderneming wil laat groei. Ek probeer steeds ’n gesonde balans handhaaf tussen my studies, persoonlike lewe en fotografie.

            22.       Watter raad sal jy gee aan aspirant-entrepreneurs?

Begin klein, wees geduldig met jouself en moenie bang wees om te leer uit foute nie. Bly passievol, werk hard en groei tree vir tree.

            23.       Watter impak hoop jy om op jou gemeenskap of bedryf te hê?

Ek hoop om ’n positiewe impak te hê deur mense se spesiale herinneringe vas te vang in my foto’s. My leuse op my webtuiste is “Lets create photographs that still feel beautiful years from now”. My gehaltewerk moet uitstaan in die bedryf en wil ek goeie, blywende verhoudings met my kliënte bou. Ek wil ook groei as fotograaf en ander inspireer om hulle passie na te volg.

Slotsom

24.       Wat is die beste raad wat jy ooit gekry het, en hoe het dit jou onderneming beïnvloed?

            Die beste raad wat ek gekry het, was om nie myself met ander mense te vergelyk nie. Om klein te begin en op my eie groei te fokus. Dit het my geleer om geduldig te wees (iets wat nie altyd vir my baie maklik is nie), ervaring op te bou en altyd gehaltewerk te lewer.

25.       As jy enige deel van jou reis kon oor doen, wat sou jy anders gedoen  het?

As ek enige deel van my reis kon oor doen, sou ek waarskynlik vroeër meer vertroue in myself gehad het en sekere geleenthede eerder aangepak het. Ek glo egter elke ervaring het my iets geleer en gehelp om te groei as fotograaf.

 26.       Hoe wil jy hê mense moet jou onderneming en jou nalatenskap onthou?

Ek dink nie ek dink altyd al aan nalatenskap as jong entrepreneur nie, maar ek hoop mense onthou my onderneming as een wat gehaltewerk gelewer het en mense op hul gemak laat voel het. Ek wil graag onthou word as iemand wat vriendelik, professioneel en passievol is oor wat ek doen – maar ook as ’n lekker mens wat kliënte gemaklik laat voel en hulle help om bietjie uit hul dop te kruip tydens ’n fotosessie.

Similar Posts