’n Regspraktyk gebou op harde werk, geloof en verhoudings

Vir die direkteure van De Klerk Vermaak en Vennote Ing. is die reg nie net ’n beroep nie – dit was nog altyd ’n roeping. Die reis het in 1999 begin toe Werner van Wyk sy klerkskap by die firma aangepak het terwyl hy nog sy finale jaar van sy LLB-graad voltooi het. Nadat hy in 2000 as prokureur toegelaat is en sy klerkskap in 2001 voltooi het, is hy as professionele assistent aangestel. In 2008 is hy en sy huidige vennoot, Charles Pearson, as direkteure aangestel, en vandag staan hulle aan die stuur van een van die Vaaldriehoek se gevestigde regspraktyke.

De Klerk Vermaak en Vennote is reeds sedert 1964 deel van die gemeenskap. Die firma het sy oorsprong in Vereeniging, en het in 1976 na Vanderbijlpark uitgebrei waarna dit in 2021 ook ’n tak in Mosselbaai geopen het. Daardie lang geskiedenis en goeie reputasie is iets waarop die praktyk vandag nog trots is.

Soos baie ander ondernemings het hulle egter ook uitdagings beleef. Net vier maande nadat die vennote die praktyk oorgeneem het, het die Covid-19-pandemie uitgebreek. Hulle moes terselfdertyd die firma afbetaal én deur een van die moeilikste ekonomiese tye in die land se geskiedenis navigeer. Volgens hulle was dit harde werk, streng finansiële dissipline en ’n lojale span wat hulle deur dié tyd gedra het. Hulle het koste besnoei, as ’n span saamgewerk en vas geglo dat die onderneming weer sou herstel.

Daardie vertroue het vrugte afgewerp. Vandag bied die firma ’n wye verskeidenheid regsdienste aan – van testamente, boedelbereddering en trusts tot eiendomsoordragte, huweliksvoorwaardekontrakte, skuldinvordering, familiereg en notariële dienste. Wat hulle egter glo werklik die verskil maak, is nie net hul kundigheid nie, maar hul persoonlike diens. Hulle fokus daarop om langtermynverhoudings met kliënte te bou en om elke kliënt met respek, eerlikheid en professionele advies te bedien.

Die praktyk word doelbewus volgens Christelike waardes bestuur. Hierdie beginsels vorm die grondslag van hoe hulle sake doen, hoe hulle besluite neem en hoe hulle met kliënte, kollegas en diensverskaffers omgaan.

Hulle groei word grootliks gedryf deur tevrede kliënte wat die firma by ander aanbeveel. Sosiale media, persoonlike verhoudings en betrokkenheid in die gemeenskap speel ook ’n belangrike rol om nuwe kliënte te bereik. Een van die grootste uitdagings waarmee hulle die afgelope tyd te doen gekry het, is om aan banke se SEB-vereistes te voldoen.

Volgens die direkteure is sukses nooit toevallig nie. Dit verg deeglike beplanning, verantwoordelike finansiële bestuur en die bereidwilligheid om voortdurend aan te pas. Hulle glo daarin om berekende risiko’s te neem, deeglike navorsing te doen voordat belangrike besluite geneem word, en professionele versekering in plek te hê om kliënte én die onderneming te beskerm.

Die span speel ’n sentrale rol in die praktyk se sukses. Die leierskapstyl is deelnemend – personeel word aangemoedig om insette te lewer, waarna besluite geneem word met die groter belang van die onderneming voor oë. Kameraderie, respek en eensgesindheid vorm die kern van die werkskultuur. Werknemers word ook erken vir hul harde werk deur prestasiebonusse, jaarlikse bonusse en gereelde erkenning op die firma se sosialemediaplatforms.

Soos enige entrepreneur moes hy ook waardevolle lesse leer. Een daarvan was om die waarde van sy eie tyd en kundigheid te besef. Aan die begin van sy loopbaan het hy dikwels gratis of teen verminderde fooie vir familie, vriende of uit empatie vir kliënte gewerk. Vandag doen die firma steeds pro bono-werk in verdienstelike gevalle, maar hy glo dat professionele kundigheid ook billik vergoed moet word.

Met die oog op die toekoms is die fokus daarop om die Mosselbaai-tak verder uit te bou tot dieselfde vlak as die praktyke in Vereeniging en Vanderbijlpark. Tegnologie speel ’n al groter rol in dié visie en die firma belê voortdurend in nuwe stelsels en personeelopleiding om tred te hou met verandering.

Terugskouend sê hy sy entrepreneursreis het hom geleer dat geleenthede nie vanself na jou toe kom nie. Jy moet bereid wees om berekende risiko’s te neem, hard te werk en self geleenthede te skep. Terselfdertyd glo hy dit is net so belangrik om ’n gesonde balans tussen werk en jou gesinslewe te handhaaf.

Sy raad aan jong entrepreneurs is eenvoudig: Moenie bang wees om berekende kanse te waag nie. Die wat nie waag nie, wen nie.

Wanneer hy eendag terugkyk op sy loopbaan, hoop hy mense sal De Klerk Vermaak en Vennote onthou as ’n praktyk wat beginselvas was, volgens Christelike waardes opgetree het, uitstekende diens gelewer het en altyd mense bo wins gestel het. Bo alles wil hy hê die onderneming moet ’n nalatenskap wees waarop sy personeel, kliënte, familie en die gemeenskappe waarin hulle werk trots kan wees.

Similar Posts