5 maniere waarop jou besigheid TikTok kan benut

TikTok, wat deur die Chinese maatskappy ByteDance besit word, is een van die nuutste sosialemediaplatforms wat by die dag gewilder word. Indien jy dink dat TikTok bloot ‘n toepassing vir tieners is om lawwe video’s te maak, misgis jy jou. Die nuutste opname in Junie 2020 dui daarop dat TikTok alreeds 500 miljoen aktiewe gebruikers het. Dit is dus nie verbasend dat al hoe meer ondernemings by hierdie sosiale netwerk aansluit om hulle onderneming te bemark nie. Maatskappye soos Tru-Cape, Amazon, Guess en Chipotle het TikTok al as deel van hul bemarking ingespan. Hier is maniere waarop jy TikTok kan inspan om jou onderneming te bemark en te laat groei.

  1. Sluit aan by TikTok en maak video’s

Die ooglopendste opsie is om self by TikTok aan te sluit en video’s op te laai. Jy sal jou kreatiwiteit moet inspan om inhoud te skep wat aanklank sal vind by jou teikenmark. Indien jy finansiële dienste lewer, kan jy byvoorbeeld video’s maak waarin jy begrotingsraad gee. Net soos met Instagram, is hutsmerke baie belangrik. Soek dus vir hutsmerke wat verband hou met jou produk of diens, kyk wat opgelaai word onder daardie hutsmerke en skep soortgelyke video’s. Jy kan ook jou Instagram- en YouTube-rekeninge aan jou TikTok-rekening koppel, wat volgelinge toelaat om jou op ander platforms te volg.

  1. Skep of neem deel aan ‘n hutsmerkuitdaging op TikTok

‘n Briljante bemarkingsidee is om ‘n hutsmerkuitdaging te skep en te borg. Dit werk soos volg: Die besigheid wat ‘n uitdaging bekendstel, moet ‘n video maak en ‘n liedjie kies om die video te vergesel. Ander TikTok-gebruikers laai ‘n video op waarin hulle die uitdaging doen, die bepaalde hutsmerk gebruik en dan drie van hulle vriende uitdaag om ook ‘n video te maak waar hulle die uitdaging doen. ‘n Voorbeeld waar ‘n besigheid ‘n hutsmerk-uitdaging suksesvol gebruik het, is Walmart se #SavingsShuffle-dansuitdaging wat meer as 450 miljoen keer gekyk is. ‘n Slim idee sal ook wees om die uitdaging só te struktureer dat hul jou produk moet koop om die uitdaging te doen. Aan die ander kant kan jou besigheid ook deelneem aan ander TikTok-gebruikers se hutsmerkuitdagings.

  1. Adverteer met behulp van handelsmerkoornames (Engels: brand takeovers)

Jy kan net soos jy gewoonlik op Facebook betaal vir advertensies, iets soortgelyk op TikTok doen. Indien jou begroting redelik groot is, sal hierdie manier van bemarking ‘n goeie opsie wees. Hierdie advertensies beslaan die hele skerm en verskyn sodra die TikTok-toepassing oopgemaak word. Dit kan die vorm van video’s, GIFs, statiese foto’s of prente aanneem. Gebruikers sien slegs een handelsmerkoorname per dag, sodat dit nie oorbodig en irriterend raak nie. 

  1. Nader invloedryke persone op TikTok om jou handelsmerk te bemark

Vind iemand met baie volgelinge wat video’s maak oor temas wat verband hou met jou onderneming. Indien jy byvoorbeeld ‘n reeks skoonheidsprodukte het, sal jy iemand nader wat grimeervideo’s maak. Besighede wat T-hemde verkoop kan enige invloedryke persoon nader om bloot hul T-hemde in hul video’s te dra. Maak net seker dat die invloedryke persoon dieselfde waardes as jou onderneming ondersteun. Alhoewel sommige invloedryke persone betaling sal verwag, sal ander tevrede wees om gratis produkte vir hul moeite te ontvang.

  1. Gebruik dit om op hoogte te bly met die nuutste giere

As jy steeds voel dit is nog nie die regte tyd vir jou onderneming om nog ‘n sosialemediaplatform te betree nie, kan TikTok ingespan word om op hoogte te bly van wat in die mode is. Dit is veral doeltreffend as jou teikenmark jonk is. Jy kan bloot op die “discover”-opsie onderaan die skerm druk om te sien watter hutsmerke tans die gewildste is. Gevolglik kan jy jou bemarking op ander mediums aanpas by wat gewild is.

Maak nie saak of jou onderneming groot of klein is of in watter industrie jy jou bevind nie, TikTok bied talle geleenthede vir ondernemings om hul handelsmerk te groei.