5G-tegnologie en hoe dit sakeondernemings gaan beïnvloed

Daar is baie samesweringsteorieë wat beweer dat 5G-tegnologie die oorsaak is van die COVID-19-pandemie wat tans oor die wêreld heen woed. Daar is aanvalle op 5G-versenders in Bolivië; en Facebook-opmerkings deur ’n voormalige Nigeriese senator wat die virus ’n rookskerm vir die uitwerking van 5G-tegnologie noem… Hoewel dié teorieë ongegrond is, is dit tog wys dat entrepreneurs kennis neem van 5G-tegnologie en die invloed wat dit op sake kan hê.

Wat is 5G?

In telekommunikasie is 5G die vyfdegenerasie- tegnologiese standaard vir sellulêre netwerke, wat in 2019 in werking begin stel is. Soos sy voorganger (4G) is 5G-netwerke sellulêre netwerke wat in kleiner geografiese gebiede verdeel word en wat selle genoem word. Alle 5G-toestelle in ’n sel is aan die internet en ’n telefoonnetwerk verbind via ’n plaaslike antenna in die betrokke sel. Die belangrikste voordeel van dié nuwe netwerk is dat dit groter bandwydte gaan verseker, wat dit moontlik gaan maak om items vinniger van die internet af te laai. Weens dié groter bandwydte word daar verwag dat die netwerk nie net selfone gaan bedien nie, maar byvoorbeeld ook skootrekenaars. 5G-netwerke gebruik ook minder energie en kos minder as bestaande tegnologie. Die uiteindelike doel van 5G is om geen vorm van fisiese verbinding te gebruik om die verbruiker aan die internet te koppel nie.

Hoe gaan 5G die wêreld beïnvloed?

5G-tegnologie gaan ’n invloed op die wêreldekonomie hê. Die tegnologie kan veroorsaak dat lande soos Finland (wat Nokia vervaardig) en Swede (wat Ericsson vervaardig) kernmaghebbers in telekommunikasie word. In China is China Mobile en Huawei gesamentlik verantwoordelik vir die oprigting van 5G-infrastruktuur. Met verloop van tyd kan 5G-tegnologie nuwe magpole in die ekonomie skep: dié wat oor die tegnologie beskik en dié wat nie daaroor beskik nie. In die praktyk gaan die oorskakeling na 5G ’n totale herskepping van kommunikasie-infrastruktuur beteken, wat vergelyk kan word met die oorgang van telegramme na fakse. Kommunikasie gaan vinniger en doeltreffender plaasvind.

Wat beteken dit in praktyk?

Alles word vinniger

Soos verduidelik, gaan alle kommunikasie vinniger en doeltreffender plaasvind. Videokonferensies oor Skype of soortgelyke platforms gaan geen haakplekke meer ervaar nie. Selfoonopvangs gaan nooit weer ’n probleem wees nie – selfs al is daar duisende mense op een plek wat gelyktydig bel. Vinniger internetspoed beteken ook geleenthede in ’n verskeidenheid van tegnologiesektore. Die spoed gaan versnel waarteen dokumente afgelaai kan word. Waar 4G sowat 100 MB per sekonde toelaat, gaan 5G uiteindelik ’n spoed van 10 GB per sekonde bereik. Virtuelerealiteitstegnologie gaan byvoorbeeld vinniger kan ontwikkel. Die praktiese toepassing daarvan sal oor die volgende paar jaar ontwikkel, maar dit kan byvoorbeeld kontrakteurs en binnehuisversierders toelaat om hul kliënte virtueel deur huise te laat loop voordat enige baksteen gelê of meubelstuk ingedra is.

Alles word verbind

Omdat daar meer vermoë op 5G-netwerke gaan wees, gaan meer en meer toestelle aan die internet kan koppel. Vandag is selfone die meerderheid toestelle wat aan die internet koppel. 5G-tegnologie gaan egter toelaat dat sowat 500 keer meer toestelle aan die internet kan koppel. Daar word voorspel dat dit tot slimstede sal lei, wat miljoene sensors per vierkante kilometer gaan hê wat aan die 5G-netwerk gekoppel gaan wees. Dié sensors gaan byvoorbeeld help om verkeer in die geval van noodgevalle of natuurrampe te reguleer. Masjien-tot-masjien-kommunikasie gaan ook verbeter word – ’n praktiese voorbeeld daarvan is in vervaardiging, waar robotte wat produkte vervaardig met ander robotte in die produksielyn kan kommunikeer om beter resultate te lewer. 5G-tegnologie gaan ook beteken dat die moontlikheid al groter word om motors te begin gebruik wat nie deur mense bestuur word nie. Koppeling aan ’n 5G-netwerk gaan ons in staat stel om motors sonder enige insittendes te beheer, wat aflewerings en ander soortgelyke dienste gaan outomatiseer. Vir persoonlike motors gaan dit ook ’n beduidende verandering beteken. Volgens die National Highway Traffic Admdinistration word sowat 95% van alle ongelukke veroorsaak deur foute wat mense maak. Deur motors te outomatiseer, gaan minder foute gemaak word, wat minder noodlottige padongelukke tot gevolg kan hê. Die 5G-netwerk gaan dit boonop moontlik maak dat motors met mekaar kan kommunikeer om verkeersknope en ongelukke te vermy.