Deon Vervoer: ’n Reis van volharding en sukses

| DeurZel-Mari

Die begin

In 1997 het ek ’n groot besluit geneem: ek het uit die Suid-Afrikaanse Polisiediens bedank en my vervoeronderneming voltyds begin bedryf. Ek het reeds ’n onderneming gehad, maar nou was dit my enigste inkomste. Aanvanklik het ek my toegespits op rommelverwydering, maar gou besef dat meubelvervoer ’n meer lonende rigting was.

Geld was egter ’n probleem. Sonder ’n salaris of finansiële rekords wat kredietinstellings sou aanvaar, was ek beperk tot net ’n bakkie, ’n sleepwa en een helper. Ek het self vir tien jaar lank meubels gedra en gepak. Dit was harde werk, maar ek het deur hierdie ervaring waardevolle insig en vaardighede ontwikkel. Die komplimente van kliënte, hul lojaliteit en verwysings het my oortuig dat ek op die regte pad was.

Die onderneming

Ons spesialiseer in huis- en kantoorverskuiwings reg oor die Wes-Kaap. Ek werk saam met vennote om goedere professioneel te verpak voordat ek dit veilig na die eindbestemming vervoer. Indien nodig, help ek kliënte met raad en verwysings vir stoorfasiliteite en langafstandverhuisings.

Wat ons onderneming uniek maak, is ons aandag aan detail en die ekstra diens wat ons lewer. Ons het al drie geslagte van kliënte bedien – ’n bewys van ons kwaliteit en dienslewering. Vandag is ons voertuie en toerusting uiteindelik perfek aangepas vir ons bedryf. Die grootste uitdaging bly egter steeds om betroubare werkers te kry, al is my kernspan van uitstaande gehalte.

Die groeiproses

Geld het my groeiproses nog altyd beperk, maar terselfdertyd het my ondervinding bepaal hoe ek my behoeftes kon balanseer. Ek moes leer watter voertuie ek regtig nodig het, veral omdat sekuriteitskomplekse dikwels beperkings plaas op grootte van voertuie. Vandag besit ek ’n drietonner en vyftonner met sleepwaens – ’n ideale oplossing vir my behoeftes.

Deur die jare het ek die onderneming strategies bestuur. Wanbetaling is feitlik uitgeskakel deur streng kontrakvoorwaardes en slegs vooruitbetalings te aanvaar. Dit beskerm nie net my onderneming nie, maar verseker ook dat kliënte hul verpligtinge nakom.

Leierskap en span

Ek glo in positiewe motivering en ’n aangename werksomgewing. Geldelike verhogings is ’n korttermynoplossing; daarom fokus ek eerder op regverdigheid en stiptelikheid in vergoeding en fooitjies. Baie werkers waardeer dit, aangesien wanbetaling deur werkgewers ongelukkig ’n algemene probleem is.

Eerlikheid, stiptelikheid en goeie werksetiek is vir my ononderhandelbaar. Ek verwag dat my span betyds opdaag en, indien nodig, vooraf plaasvervangers reël. Geen diefstal of beskadiging van eiendom word geduld nie. Ek beloon my span met ’n Kersbonus, wat help om lojaliteit en werksetiek te versterk.

Ek het tans ’n betroubare span en ons deel dieselfde morele waardes. Dit maak dit makliker om jonger werkers op te lei. Ek besef egter dat hierdie dinamika in die toekoms mag verander.

Die toekoms

Ek raak ouer, en my liggaam het meer rus nodig. Ek besef ook dat ek my onderneming se toekoms moet beplan. Gelukkig is my seun al jare lank betrokke en verstaan hy hoe die onderneming funksioneer. As ek sou sterf, weet ek dat hy dit sal kan oorneem en bestuur as sy eie.

Vir nou bly ons groei, maar ek is versigtig om nie kwaliteit op te offer nie. Groter is nie altyd beter nie. Persoonlike betrokkenheid by die onderneming verseker die beste diens. Ons vermy hoërisikokontrakte en staatsinstellings, aangesien ons onderneming onafhanklik en stabiel moet bly. Hoewel rekenaars nie meubels kan vervoer nie, bly ons op hoogte van tegnologie wat ons werk makliker kan maak.

Die kern van ons onderneming bly eenvoudig:

  1. Kliënte moet tevrede wees.
  2. Meubelvervoer moet foutloos uitgevoer word.

Ek glo dat ons onderneming suksesvol bly omdat ons fokus op die kliënt se gemoedstoestand tydens ’n stresvolle verhuising. Hierdie benadering verseker dat ons ’n lojale kliëntebasis bou.

Ek beplan om my skuldvlakke laag te hou en genoeg finansiële reserwes op te bou om onvoorsiene krisisse soos die Covid-19-inperking en voertuigprobleme te hanteer.

Persoonlike reis

Hierdie bedryf het my geleer hoe belangrik dit is om menseverhoudings te verstaan. ’n Goeie bestuurder moet sy werkers en kliënte gelukkig hou terwyl hy ’n operasie effektief bestuur. Ek het dit deur my eie ervarings geleer.

Ek glo egter ook in balans. Werk is belangrik, maar ’n gesonde gesinslewe en stokperdjies soos kamp en reis is noodsaaklik. Ek is ’n wedergebore Christen en sien my Hemelse Vader as die uiteindelike bestuurder van my lewe en onderneming.

Vir jong entrepreneurs is my raad eenvoudig: Vind jou passie, slyp jou vaardighede deur eers vir ’n werkgewer te werk en bou kapitaal op. Sny lewenskoste tot die minimum voordat jy op jou eie pad stap. En moenie in daardie moeilike beginjare skei nie – dit is finansieel rampspoedig!

Ek hoop om ’n sterk onderneming as nalatenskap agter te laat waarop my seun kan voortbou. Die moontlikhede is groot, maar die uitdagings is net so groot. Dit is nie verniet dat mense van “transport” praat nie! Gelukkig is my seun ’n gekwalifiseerde motorwerktuigkundige – ’n groot voordeel in hierdie bedryf.

Slotsom

Hou jou onderneming klein en beheerbaar, en bly onder die belastingowerhede se radar! Baie groot sake-eienaars erken dat hul lewenskwaliteit beter was toe hulle kleiner en meer beheerbare ondernemings gehad het.

As ek terugkyk, sou ek niks verander nie. Die feit dat ek nie finansieel kan aftree nie, pla my nie. Net 6% van mense in Suid-Afrika kan dit bekostig. Aftrede is boonop nie ’n Bybelse beginsel nie – maar moenie té lank probeer leef nie, want jou kragte kan voor jou geld opraak!

As mense my eendag onthou as ’n eerlike, betroubare meubelvervoerder met ’n passie vir dienslewering, sal ek in vrede rus.