Blitsgids: Word jou eie baas in dié 5 stappe

Yolandi hou van bak en brou en beoog al jare lank om haar eie spysenieringsbesigheid op die been te bring. Sy werk voltyds en kan daarom nie onmiddelik haar werk los om ’n voltydse entrepreneur te word nie. Soos Yolandi is daar talle entrepreneurs wat graag hulle staal in die mark wou wys, maar die risiko-faktor kry keer op keer die oorhand. Hoe kan Yolandi haar entrepreneur-spiere opwarm sodat sy gereed is om haar droom te bewaarheid?

Stap 1: Praat met jou werkgewer

Meeste maatskappye se indiensnemingskontrakte vereis dat ’n werknemer moet verklaar indien hulle by enige ander besigheid werksaam is. Yolandi se eerste taak is daarom om die bul by die horings te pak en haar direkte bestuurder of menslike hulpbronne in kennis te stel dat sy deeltyds ’n besigheid wil begin. Die doel is om jou werkgewer gerus te stel dat jou eie besigheid nie met jou alledaagse take gaan inmeng nie en dat jy beplan om slegs naweke en na-ure daaraan te werk.

Stap 2: Leef met min

As Yolandi R10 000 per maand verdien en sy het dalk reeds R20 000 spaargeld in die bank, moet sy nog minstens R40 000 spaar om ’n finansiële buffer van 6-8 maande op te stel.  Dit is noodsaaklik om vroeg te begin spaar sodat jy voorbereid is vir wanneer jy die groot stap neem. Werk ’n spaarplan uit en verminder jou leefkoste. Koop net wat noodsaaklik is en nie wat jy voel jy nodig het nie.

Stap 3: Maak jou somme

Yolandi se volgende taak sou wees om presies te weet wat haar produk of diens kos, vir hoeveel sy dit moet verkoop en hoeveel verkope nodig is vir haar om te oorleef. Yolandi verkoop haar soet -en southappies teen R500 ’n bord. Die bestandele kos sowat R150, haar elektrisiteit sowat R25 en haar arbeid bereken sy op R150 per bord. Dit wil sê dat haar onkostes R325 is en sy R175 wins maak op elke bord lekkernye. Yolandi wil graag binne die eerste ses maande wat sy voltyds haar besigheid bedryf weer R10 000 per maand kan verdien. Om dit te doen moet sy 57 borde eetgoed per maand verkoop (R10 000/R175). Noudat Yolandi hierdie syfer het, kan sy daadwerklik ’n bemarkingsplan saamstel met ’n duidelike doelwit.

Stap 4: Toets, toets, toets

Noudat Yolandi gespaar en haar somme gemaak het, moet sy ’n eksperiment loods om haar aannames te toets. Yolandi se hande staan vir niks verkeerd nie en sy stel ’n doelwit om 10 van haar vriende en familie te oorreed om by haar ’n bord happies te bestel. Sy maak ook seker om terugvoer in te samel en pas dan haar produk aan volgens elkeen se voorstelle. Yolandi reken dat elke kliënt gemiddeld drie borde op ’n slag sal bestel. Dit beteken dat sy 19 kliënte ’n maand gaan nodig hê om haar doelwit te bereik, naamlik om haar salaris tenvolle te kan dek.

Yolandi werk egter steeds voltyds en kan slegs ’n derde van haar tyd aan haar nuwe besigheid spandeer. Sy besluit daarom om die daaropvolgende maand te poog om minstens sewe kliënte te kry wat elkeen drie borde kan bestel. Indien Yolandi dit regkry om met ’n derde van haar tyd ’n derde van haar doelwit te bereik (7 kliënte = 21 borde), weet sy dat die kans goed is dat sy as voltydse entrepreneur kan oorleef.

Stap 5: Bou ’n brein-netwerk

Yolandi het als gedoen wat in haar vermoeë is, nou is dit tyd om ’n netwerk in te stel om te doen wat sy nie kan nie. ’n Brein-netwerk is ’n groep mense in verskillende spesialisvelde wat bereidwillig is om jou te ondersteun. Yolandi het verskeie mense wat haar moontlik kan bystaan met raad en vaardighede. Sy ken ’n webontwikkelaar by haar werk wat deeltyds bereid is om haar met ’n webtuiste te help. Sy ken ook ’n besigheidsman in haar kerk wat sy gaan nader vir advies en hom versoek om elke maand na haar vordering te kyk en voorstelle te maak. Yolandi doen ook moeite om die dame by die plaaslike tuisnywerheid te leer ken wat haar advies gee oor watter happies in die mode is. Sy maak ook ’n afspraak met ’n spysenieringsmaatskappy aan die ander kant van die stad en hulle stem in om hulle oortollige besigheid na haar kant toe te verwys. Yolandi ken ook ’n trou-organiseerder wat belangrik is as deel van haar netwerk omdat sy baie kennisse het en briljant is met mondelingse bemarking. Jou brein-netwerk kan bestaan uit enige iemand wat ’n weier netwerk het as jy, kennis het wat jy nie het nie of bloot iemand wat jy vetrou en jou aanspreeklik hou vir jou doelwitte.

As Yolandi dit kon doen, kan jy ook! Maak jou droom ’n werklikheid en wees jou eie baas!