Netwerk: Wat is dit en waarom is dit belangrik?

Netwerk en besigheid is onafskeidbaar; die een is doodgewoon doelloos sonder die ander. Die sakewêreld gaan net soveel oor wie jy ken as oor wat jy weet en dit is belangrik dat jy goeie verhoudings met ander kweek, ten einde ’n sterk reputasie te handhaaf en nuwe geleenthede te skep.

Om ’n besigheid te bedryf moet jy bande met kliënte, ander entrepreneurs en sakemense smee en dit val nie uit die lug nie. Om doeltreffend te netwerk is ’n fyn kuns en meeste mense is nie ten volle bewus waar om te begin of wat om in gedagte te hou nie.

Sodra jy verstaan op watter vlak netwerk vir jou onderneming belangrik is, word dit tweede natuur en sal jy die vrugte in oorvloed pluk. 

Verstaan dat netwerk ’n wedersydse transaksie is

Die gesegde dat geld praat is nêrens meer van toepassing, as in die sakewêreld nie. Al is dit belangrik om passievol oor jou werk te wees, moet jy nooit vergeet dat jou hoofdoel is om wins te genereer nie. As jy daarmee kan vrede maak, is jou kop halfpad deur.

Niemand netwerk vir die lekkerte, of om bloot ’n positiewe beeld uit te straal nie. Jy moet nuwe kontakte opbou om meer geleenthede te skep, ten einde inkomste te genereer – dit is so eenvoudig soos dit. Daar is niks koud daaraan om dit te besef en ingedagte te hou nie.

Jy kan ’n trappie bo die res wees as jy die volgende in ag neem: die ander party is ook altyd op soek na geleenthede om geld te maak (al is dit indirek ’n gevolg van die produk/diens wat jy aan hulle kan bied, byvoorbeeld bemarking van hul maatskappy). Respekteer en aanvaar dit en jou besigheidsnetwerk sal floreer.

Onthou om strategies te werk te gaan

Menigte sakemense vergeet om die groter prentjie raak te sien wanneer hulle netwerk. Tensy ’n kontak jou ’n geleentheid bied wat vereis dat jy moet spring, is dit ook belangrik om verhoudings te kweek met individue en besighede binne jou industrie. Hierdie verhoudings verseker dat jou kontakte moontlike kliënte na jou sal verwys.

Wenk: Jy sal soms besigheid moet doen met nuwe kliënte teen laer pryse, sodat jy jou werk kan sirkuleer om sodoende nuwe besigheidsgeleenthede te skep.

Speel altyd oop kaarte

Moenie dinge belowe waartoe jou maatskappy nie in staat is nie. Om gereeld nuwe kontakte te bou, gebeur wanneer jy ’n reputasie as ’n betroubare entrepreneur met integriteit ontwikkel. Verwys in so ’n geval eerder ’n ander kontak wat toegerus is om die werk te doen. Onthou, op die ou end was een hand die ander.

Kommunikeer doeltreffend

Hier gaan dit nie net daaroor om ’n ferm handdruk te hê en goeie sosiale vaardighede in netwerksituasies toe te pas nie (al is dit ook van kardinale belang).

As jy gesien wil word as iemand met mag en invloed in die industrie, moet jou besigheid se kommunikasiekanale altyd sterk vloei.

As jy nog nie het nie, belê in ’n moderne webtuiste met goeie funksionaliteit en SEO (soek-enjin optimalisering), ’n effektiewe sosiale media-bemarkingstrategie en verbreed jou kennis oor die nuutste kommunikasie-mediums. Al hierdie platforms beteken dat daar vir jou netwerke gebou word, selfs wanneer jy slaap.

Stel werknemers aan wat weet hoe om te netwerk

Meeste werkplekke het lede in hul span wie se taak dit is om deurlopend met potensiële- en huidige kliënte in verbinding te tree, ten einde nuwe besigheid te genereer. Dis waar dat almal kan leer hoe om beter te kommunikeer en hulself goed te handhaaf in netwerk-situasies, maar sekere individue is meer daartoe ingestel om met mense netwerke te bou.

  •