Suid-Afrikaanse waagkapitaalfirmas – wie is hulle en waarna kyk hulle?

Is jy op soek na ’n belegging in jou onderneming? Waagkapitaalfirmas is dalk die antwoord. Dié firmas is ’n groep beleggers wat hul eie kapitaal wil groei deur in belowende ondernemings te belê. Gewoonlik is hierdie individue of firmas bereid om meer risiko te neem as tradisionele banke, want met groot risiko is daar ook die belofte van groot winste. Suid-Afrika se waagkapitaalsektor het merkwaardige groei in die afgelope paar jaar getoon met meer as R1 miljard wat in 2017 deur dié sektor belê is. In die vroeë 2000’s het Kaapstad die hoofsentrum vir waagkapitaalfirmas geword, maar daar is ook ’n groeiende hoeveelheid van die firmas in Johannesburg. Maatskappye wat in kleingrootte ondernemings met goeie idees belê is nie net beperk tot plaaslike firmas nie, maar sluit ook internasionale spelers in. Hier is ’n lys van waagkapitaalfirmas wat moontlik in jou onderneming kan belê:

  • Angelhubventures
  • Invenfin
  • EchoVC
  • I/O Ventures
  • Adlevo Capital
  • eVentures Africa Fund
  • Africa Media Venture Fund
  • KnifeCap
  • 4Di
  • Hasso Plattner Venture Africa
  • ISLabs
  • EdgeGrowth
  • Kickstarter
  • AcornEquity
  • Intel Capital
  • Trim Investments
  • Business Partners
  • Horizon Equity
  • Kalon Venture Partners
  • Rising Tide Africa
  • 22 on Sloane
  • Anza Capital
  • Venfin
  • Secha Capital
  • Newton Partners
  • Enygma Ventures
  • Capital Eye Investments
  • Vantage Capital
  • Silvertree Holdings
  • Kingson Capital

Internasionale waagkapitaalfirmas wat in Suid-Afrikaanse ondernemings belê:

Goodwell Investments

Goodwell Investments is in Amsterdam gebaseer en bied mikrofinansiering vir klein ondernemings, asook hulp met beplanning en fondsinsameling.

Greycroft Partners

Greycroft Partners is in die VSA gebaseer en belê hoofsaaklik in digitale media- en tegnologiemaatskappye. Hulle stel veral belang in kleingrootte-ondernemings met vroue as entrepreneurs.

Accion 

Accion is ook in die VSA gebaseer en fokus op die verskaffing van dienste aan verbruikers en ondernemings. Een voorbeeld van hulle belegging is AllLife-versekering in Suid-Afrika.

Waarna kyk waagkapitaalfirmas vir belegging?

  1. Leierskap

Wie is die stigter van die onderneming? Beskik hulle oor goeie leierskapvaardighede? Sal hulle die onderneming kan groei? Is hulle ten volle ingekoop in die onderneming? Die leierskap van ’n onderneming speel ’n kernrol in die sukses van daardie onderneming – indien die leierskap swak is, is die kans groter dat die onderneming gaan faal. Maak daarom seker jy is opgewasse vir die taak!

  1. Die span

Hoe lyk die span wat die onderneming moet groei? Waagkapitaalfirmas investeer in mense, nie net in idees nie. Is die span passievol, toegewyd en opgewasse om die onderneming te skaal? Maak daarom seker jy laai die regte werknemers op die bus, anders gaan julle nêrens nie.

  1. Ander beleggings

Gewoonlik is dit belangrik vir waagkapitaalfirmas dat daar nie te veel beleggers in die onderneming is wanneer hulle wil toetree nie. Indien daar wel ander beleggings is, is dit belangrik wie daardie beleggers is? Is dit beleggers wat gaan help om die onderneming te groei deur hulle bydraende netwerke of kennis, of is dit bloot iemand wat vinnig wil geld maak uit die onderneming? Hoe meer snye koek waagkapitaalfirmas met ander beleggers moet deel, hoe minder aantreklik lyk die belegging. Wees daarom baie kieskeurig oor wie in jou onderneming belê.

  1. Innovasie

Hoe innoverend is die produk? Is dit uniek en dra jou onderneming by tot die mark op ’n nuwe manier? Hoe lyk die kompetisie in die mark?

  1. Bewys van konsep

Hoewel waagkapitaalfirmas gewoonlik in nuwe maatskappye investeer, is dit goed om bewyse te lewer dat die konsep kan werk. Dit beteken dat jy die konsep reeds begin uitrol het en daar minstens bewyse is dat die idee kan werk.

  1. Plan vir gebruik van kapitaal

Waagkapitaalfirmas wil weet waaraan jy die kapitaal wat hulle belê gaan spandeer en watter groei hulle geld gaan befonds.

  1. Tien keer die potensiaal

Omdat waagkapitaalfirmas in hoërisiko-ondernemings belê, is hulle gewoonlik op soek na tien keer die opbrengs op hulle belegging. Dit is hoofsaaklik omdat sowat die helfte van die beleggings wat hulle maak ná vyf jaar geen opbrengs lewer nie en hulle vir die risiko moet opmaak deur hoë opbrengste te eis.