AfriForum Netwerk: Regering help nie “wit” ondernemings nie, nou help ons onsself en mekaar

Kallie Kriel, uitvoerde hoof van AfriForum

Die ANC-regering se rasbehepte afkeur van minderheidsgemeenskappe het tydens die COVID-19-krisis tot nuwe vlakke van gemeenheid gedaal. Hoe is dit moontlik dat enige regering – veral in ’n tyd waarin duisende kleinsakeondernemings en hul miljoene werkernemers om oorlewing veg – ’n sake-eienaar se ras as maatstaf vir die toekenning van hulp kan gebruik?

Die onetiese aard van die regering se optrede word goed uitgebeeld in ’n spotprent deur die spotprenttekenaar David. In dié spotprent roep ’n klomp drenkelinge langs ’n skeepswrak om hulp, maar daar word beveel dat die lewensreddingboeie slegs na swart drenkelinge gegooi mag word. Dit is ondenkbaar dat so iets kan gebeur, maar dit is presies wat president Cyril Ramaphosa se regering tans doen wat betref hulp aan klein ondernemings wat om oorlewing veg. As jy swart is, kry jou onderneming op grond van ras meer punte om vir hulp te kwalifiseer.

Dink jou byvoorbeeld in: ’n Groep siek mense in ’n hospitaal veg om oorlewing, maar die hospitaalbestuurder gee opdrag dat swart pasiënte voorkeur moet ontvang wanneer mediese hulp gegee word. Pasiënte vanuit minderheidsgemeenskappe word dus volgens dié hospitaal se BEE-pasiëntbeleid aan hulself oorgelaat om maar te sterf. Dit sou op moord neerkom. Dit is daarom nie vergesog nie om te sê dat die ANC-regering se rasgedrewe COVID-19-hulpprogram aan kleinsakeondernemings op ekonomiese moord neerkom wat op minderheidsgemeenskappe gerig is.

Die feit dat die regering die COVID-19-krisis wil misbruik om van minderhede se ondernemings ontslae te raak, mag vir baie mense ’n skok wees. Dit is dalk selfs iets wat hulle weier om te glo. Ongelukkig strook dié standpunt met ’n uitspraak van Ramaphosa byna twee jaar gelede dat Suid-Afrika moeg is vir ondernemings wat deur minderhede bestuur word. Lees gerus die Citizen-koerant se berig hieroor hier. Hy sê onder meer dat “our own people” sakeondernemings moet bestuur. Teen dié tyd weet ons al dat Ramaphosa se “our own people” nie minderhede insluit nie; dieselfde met sy stelling dat grond in die land aan “our own people” gegee moet word nadat dit sonder vergoeding onteien is.

Die vraag is natuurlik hoe minderhede op hierdie situasie moet reageer. AfriForum se veg-en-bou-plan bied ’n bruikbare antwoord.

Natuurlik moet ons die regering se diskriminasie op elke moontlike terrein beveg. Dit is waarom AfriForum en Solidariteit rassediskriminasie met Covid-19-hulp enduit in die howe en internasionaal op verskillende platforms sal beveg. Ek is oortuig daarvan dat die internasionale veldtog die ANC se rassisme teen minderhede finaal sal ontbloot. Die diskriminasie teen minderhede midde-in ’n krisis plaas die ANC internasionaal in ’n onverdedigbare posisie.

Die vegopsie is egter ’n beperkte deel van die oplossing. Die volhoubare langtermynoplossing is dat ons selfstandig na onsself, ons gesinne en ons eie gemeenskappe moet omsien op die pad na selfbestuur. Die vraag is hoe. Flip Buys se boek Die pad na selfbestuur bied ’n nuttige roetekaart van wat ons te doen staan.

Wat betref die toekoms van ons klein en mediumgrootte ondernemening te midde van die owerheid se rassediskriminasie teen ons, lê die antwoord daarin om ondernemings in elkeen van ons gemeenskappe in ’n helpmekaargees met ons koopkrag te ondersteun.

AfriForum het derhalwe reeds ’n aanlyn sakeplatform by www.afriforumnetwerk.co.za geskep. Sake-eienaars in ons gemeenskappe kan hul ondernemings gratis op AfriForum Netwerk lys, terwyl verbruikers ook gratis op dié platform kan soek na verskillende kategorieë van sakeondernemings in hul plaaslike gemeenskappe.

Sedert die begin van die inperking het die getal ondernemings op dié platform tot meer as 10 000 toegeneem. Dit wys dat lede van minderheidsgemeenskappe toenemend besef dat ons onsself en mekaar sal moet begin help as die regering nie minderhede se sakeondernemings wil help nie.

Die oproep om plaaslike ondernemings te ondersteun, word nie net deur sentiment gedryf nie, maar ook met die wete dat daar baie plaaslike ondernemings is wat gehalteprodukte en ‑dienste lewer. AfriForum Netwerk bied juis ter wille van gehaltebeheer ’n funksie waar verbruikers terugvoer kan verskaf oor die dienste of produkte wat hulle van ’n gelysde sakeonderneming ontvang het.

AfriForum Netwerk word gratis aangebied omdat die doel van www.afriforumnetwerk.co.za is om optimale voordeel vir sowel sakeondernemings as verbruikers in gemeenskappe in te hou. Die helpmekaaringesteldheid het ons voorgeslagte deur verskeie krisisse gedra. Daar is dus geen rede waarom ons geslag nie ook die COVID-19-uitdagings met ’n helpmekaaringesteldheid die hoof kan bied nie.

Ek doen daarom ’n vriendelike beroep op jou om jou vriende en familie van AfriForum Netwerk te vertel. Kom ons staan saam, want saam is ons sterker!