AfriVriendelik en AfriForum Onderwys stel entrepreneurskompetisie bekend

AfriVriendelik en AfriForum Onderwys het vanjaar besluit om saam te werk om ’n kompetisie – Besigheidsbytjies – vir junior entrepreneurs van stapel te stuur. Hierdie kompetisie is op 25 April 2019 by Laerskool Roodekrans in Roodepoort bekend gestel.

Die doel van dié kompetisie is om jong kinders se entrepreneuriese vaardighede van vroeg af te ontwikkel. Laerskoolleerders van oor die land heen sal om die beste produkidee en basiese vaardighede meeding om hul produk suksesvol te ontwikkel, bemark en verkoop. Die publiek sal aanlyn vir die deelnemers kan stem mits hulle aan die aanlyn kriteria voldoen. Daarna sal ’n paneel die wenners aanwys.

Laerskoolleerders kan in twee kategorieë inskryf: graad 1 tot 3 (7- tot 9-jariges) en graad 4 tot 7 (10- tot 13-jariges). Met hierdie entrepreneurskompetisie wil AfriForum kinders beloon wat wys dat hulle selfstandig kan werk en kreatief kan wees om idees in ’n onderneming te omskep.

“By AfriForum wil ons mense én kinders aanmoedig en inspireer om daar waar hulle is ’n verskil in die gemeenskap te maak. Deur jou vaardighede as entrepreneur te ontwikkel, kan jy dalk eendag ’n werkgewer wees wat ’n verskil maak deur werk te skep. Jy leer ook om selfstandig en onafhanklik te wees van iemand wat vir jou werk moet gee. Ons wil hê kinders moet besef hulle kan eendag ‘die baas’ wees – mits hulle hard werk aan hul idees en die uitvoering daarvan,” sê Sanderien van der Walt, AfriForum se projekkoördineerder vir AfriVriendelik.

“AfriForum Onderwys glo die Besigheidsbytjies-kompetisie sal leerders se leierseienskappe ontwikkel en hulle leer om self verantwoordelikheid te neem om hul idees uit te voer. Dit sal hulle ook aanmoedig om ’n verskil in die samelewing en in ons land te maak. Ons kinders is immers die leiers van die toekoms, en hulle kan hoop skep deur van jongs af aan hul toekoms te bou,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se koördineerder vir leierskapsontwikkeling.

“As sake-eienaar het ek eerstehandse ondervinding van hoe jou lewe verryk kan word deur ’n entrepreneur of sake-eienaar te wees. Deur my onderneming kry ek die geleentheid om ’n impak in ander se lewens te hê en dit is ongelooflik vervullend. Om jou eie onderneming te bedryf leer jou ongelooflik baie van jouself, van mense en die lewe. Hoe vinniger ons kinders met hul talente kan woeker, hoe beter sal hulle toegerus wees om die lewe aan te durf,” sê Laetitia Dee, hoof uitvoerende beampte van Laetus Life, wat die kinders by dié bekendstelling toegespreek het.

“Dit is van onskatbare waarde om leerders reeds op grondslagfase met entrepreneur­skapsvaardighede toe te rus. Dit bevorder vroeg in kinders se lewe hul vaardigheid om probleme op te los, proaktiwiteit, integriteit en deursettingsvermoë en daarom is dit dan ook gevestig in hul menswees. Ons het ’n verantwoordelikheid om in ons kinders te belê en hierdie inisiatief is nie net ’n aanwins vir die individu nie, maar vir ons land in geheel,” sê Alta Strauss, motiveringspreker en entrepreneur.

Leerders, ouers en onderwysers kan www.besigheidsbytjies.co.za besoek vir meer inligting of om nader aan die tyd in te skryf vir dié kompetisie. Stuur gerus ’n e-pos na besigheidsbytjies@afriforum.co.za vir meer inligting.