Beleggingswenke vir beginners

Wanneer jy die grondbeginsels van beleggings werklik begryp, kan jy verseker dat jy ’n gebalanseerde portefeulje bou wat die regte versekerdheid, inkomste en groei vir jou belegging verseker. Finansiële beleggings is daar om jou te help om jou lang- en korttermynuitkomste te bereik. Dit is ook gebruik word om te spaar vir jou kinders se opvoeding of vir ’n vakansiebederf. Hier is die ’n paar wenke wat jou kan help.

Definieer jou beleggingsdoelwit

Dit is belangrik dat jy self weet wat die doel van jou belegging is. Vra jouself die volgende vrae:

  1. Waarom belê of spaar ek? Dit kan wees om ’n deposito vir ’n huis op te bou, vir jou aftrede of vir jou kind se universiteitstudie te spaar.
  2. Hoeveel opbrengs verwag ek?
  3. Hoeveel van my inkomste wil ek eenkant sit vir belegging? ’n Goeie riglyn is om naderhand 15% van jou inkomste in langtermynbeleggings te belê.
  4. Hoe lank het ek om die kapitaal te belê? Is dit ’n lang- of ’n korttermynbelegging?
  5. Hoeveel risiko is ek bereid om te neem? Indien die geld byvoorbeeld vir jou aftrede bedoel is, is dit beter om minder risiko te neem.

Die verskil tussen spaar en belê

Om te spaar, is om geld wat jy nie nou nodig het nie eenkant in ’n spaarrekening of in kontant te hou. Daar is bykans geen risiko aan spaar verbonde nie, maar die opbrengs is ook laer. Daarteenoor is ’n belegging die aankoop van bates soos aandele of eiendom. Oor die lang termyn lewer beleggings groter opbrengste op, maar dit kan meer risiko’s inhou vergeleke met om bloot te spaar. Of jy gaan belê of spaar, hang van jou doelwitte af en jou bereidheid om risiko’s te neem.

Kort- teenoor langtermyndoelwitte

Jou korttermyndoelwitte mag byvoorbeeld wees om ’n krisisfonds op te stel waarin jy spaar vir noodgevalle of ’n deposito op ’n nuwe kar. ’n Goeie riglyn is om genoeg spaargeld in jou krisisfonds te hê om minstens drie maande sonder ’n inkomste te kan oorleef. Vir dié tipe doelwit gaan jy laerisikobeleggings aangaan met versekerde opbrengs. Vir langtermyndoelwitte kan jy belê in beleggings wat meer risiko dra, soos eiendom en aandele. Omdat dié tipes beleggings beduidend kan fluktueer, is dit beter om jou kapitaal vir lang periodes daar te los om te verseker dat daar tyd is om enige verliese op te maak deur die bates te groei. Dit is onwys om kapitaal in aandele te belê as jy dit oor ’n maand gaan nodig hê. Dit gaan waarskynlik nie veel opbrengs lewer in so ’n kort tydjie nie en gaan waarskynlik meer risiko dra as wat die kort beleggingsperiode se opbrengs regverdig.

Faktore om in ag te neem voor jy belê:

  • Diversifiseer jou portefeulje. Weens die huidige onsekerheid wat internasionaal heers, is dit ‘n goeie idee om jou geld in verskeie tipes beleggings te plaas om jou risiko te verminder. Dit beteken om jou belegging tussen plaaslike en internasionale beleggings, asook aandele, kommoditeite en effekte te verdeel.
  • Beskerm jou geld wanneer jy van werk verander. Dit is onwys om jou pensioen te onttrek as jy van werk verwissel. Buiten die hoë boetes wat jy daarop betaal, verloor jy die voordeel van saamgestelde rente oor verskeie jare. Los eerder enige beleggings vir aftrede in jou aftreefonds of annuïteit.
  • Haal die emosies uit jou besluit. Maak eerder objektiewe besluite oor waarin jy belê sonder om emosioneel daaroor te raak. Voel jy byvoorbeeld patrioties, maar het jy nie veel vertroue in sommige Suid-Afrikaanse ondernemings nie? Belê dan eerder oorsee om jou kapitaal te beskerm.
  • Moenie die mark probeer lees nie. Belê elke maand geld eerder as om te probeer om die mark te lees. Jy het ’n veel beter kans om ’n goeie opbrengs oor die langtermyn te kry, as om te probeer raai wanneer om ’n aandeel self te koop of verkoop.
  • Hou beleggingskostes in beheer. As jy nie self belê nie en ’n middelman gebruik, maak seker dat jy nie meer as 1,5% in fooie vir dié diens betaal nie. ’n Enkele persentasie wat jy meer betaal op jou beleggings kan oor ’n 20 jaar periode honderde duisende rande wees. Maak seker jy weet presies wat die makelaar se fooistruktuur werk. Die platform Easy Equities is van die goedkoopste maniere in Suid-Afrika om in aandele te belê.