Blogplasings

Danielle Van Heerden

Met die uitbreking van die Covid-19 pandemie is owerhede genoodsaak om streng voorsorgmaatreëls soos inperkings en afsondering in plek te stel om die verspreiding van die virus te bekamp.

Binne enkele dae het die meerderheid maatskappye begin om hulle werknemers van die huis af te laat werk, en vinnig ook.  Dit is duidelik dat Covid-19 die manier van besigheid doen, herdefinieer.

Werkgewers staar nou verskeie uitdagings in die gesig en moet alles binne hulle vermoë doen om te verseker dat hulle besigheid die pandemie oorleef.  Dit is egter belangrik dat werkgewers nie van hulle wetlike verpligtinge teenoor hulle werknemers met betrekking tot die skep en instandhouding van ’n veilige en gesonde werksplek vergeet nie.

’n Vraag wat dikwels na ons verwys word, is wat ’n werkgewer se pligte ten opsigte van die versekering van ’n veilige en gesonde werksomgewing, soos voorgeskryf in die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid (BGV), vir werknemers wat van die huis af werk, behels.

Artikel 8 van die BGV-wet vereis dat elke werkgewer, sover dit redelikerwys uitvoerbaar is:

  • ’n veilige en risikovrye werksomgewing moet daarstel en onderhou;
  • bedreigings vir die gesondheid of veiligheid van persone verbonde aan enige werk wat verrig word, enige artikel of substansie wat geproduseer, geprosesseer, gebruik, gehanteer, opgeberg of vervoer word, en enige bedryfstoerusting of masjinerie wat in die onderneming gebruik word, moet identifiseer; en
  • moet vasstel watter voorsorgmaatreëls getref moet word om die genoemde bedreigings uit te skakel ‒ dit sluit die verskaffing van persoonlike beskermende uitrustings in.

Om te bepaal of die BGV-wet van toepassing op afstandswerknemers is, sal ons die definisie van “werksplek” en “perseel” moet gaan ontleed.

Artikel 1 van die BGV-wet definieer “werksplek” só: “’n perseel of plek waar ’n persoon arbeid in die loop van sy diens verrig”.  “Perseel” word beskryf as “’n gebou, voertuig, vaartuig, trein of lugvaartuig”.

Uit die bogenoemde definisies is dit duidelik dat die bewoording nie ’n werksplek of werksomgewing beperk tot ’n perseel wat deur die werkgewer besit, gehuur, of gebruik word nie.  ’n Werksplek of werksomgewing sluit dienooreenkomstig ’n werknemer se tuiskantoor in.

In die saak van City of Johannesburg v Swanepoel N.O. and Others het die hof ’n mate van duidelikheid gegee oor die omvang van die werkgewer se verpligting om ’n veilige werksomgewing te verseker.  Die hof het naamlik die volgende beslis: “the duty to provide a safe working environment rests upon the employer under both common law and statute.  It is the working environment that must be safe and not just the actual place where work is rendered”.

Noudat ons vasgestel het dat die BGV-wet op afstandswerknemers van toepassing is, moet ons die praktiese implikasies hiervan tydens die inperkingstyd ondersoek.

Normaalweg sal ’n werkgewer ’n omvattende risikobepaling uitvoer om enige bedreigings vir gesondheid of veiligheid te identifiseer en vas te stel watter voorsorgmaatreëls getref moet word om die genoemde bedreigings uit te skakel.

Uiteraard kan daar nie van ’n werkgewer verwag word om ’n risikobepaling by ’n werknemer se huis te doen nie, veral nie gedurende die inperkingstyd nie.  ’n Werkgewer se pligte is egter onderhewig aan dit wat onder die omstandighede redelik uitvoerbaar is.

Die voorsorgmaatreëls wat deur werkgewers geïmplementeer word, sal onderhewig wees aan die tipe werk wat werknemers by die huis verrig.  Die aard van die werk sal bepaal watter toerusting en bystand deur werknemers benodig word.

In die lig van die bogenoemde, raai ons werkgewers aan om hulle werknemers van toepaslike inligting en instruksies te voorsien om bedreigings vir hulle gesondheid en veiligheid te beperk.  Ons raai hulle ook aan om hulle werknemers te versoek om skriftelik te bevestig dat hulle tuiskantoor veilig is, en indien nie, om hulle werkgewer so gou as moontlik oor enige bedreigings vir hulle gesondheid en veiligheid in te lig.

Deel die artikel