COVID-19 ‒ VERLOF EN VERLOFBEPALINGS

Inge Labuschagne en Wynand Strydom, 8 April 2020

In ’n onlangse artikel wat op 26 Maart 2020 deur Business Report gepubliseer is, bevestig Cameron Morajane, direkteur van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA), dat geen werkgewer ’n werknemer kan dwing om jaarlikse verlof te neem tydens die nasionale inperkingstyd nie. Hierdie stelling is ’n teenstrydige interpretasie van die verlofbepalings soos vervat in die Wet op Basiese Diensvoorwaardes.

Toesprake, kommentaar en persverklarings deur beamptes van die departement van arbeid en indiensneming skep nie nuwe arbeidswetgewing nie.

Alhoewel daar geen statutêre bepalings geskep is vir tye soos hierdie nie, is ons verplig om die huidige arbeidswette op ’n objektiewe manier te interpreteer.

Jaarlikse verlof

Artikel 20 van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes reguleer jaarlikse verlof en hoe hierdie verlof geneem en toegestaan moet word. Die aansoekproses vir verlof is derhalwe nie ’n vreemde konsep nie.

Artikel 20(10) van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes bepaal dat jaarlikse verlof geneem moet word “volgens ’n ooreenkoms tussen die werkgewer en die werknemer; of indien daar geen ooreenkoms in gevolge paragraaf (a) is nie, op ’n tyd deur die werkgewer bepaal in ooreenstemming met die vereistes van hierdie artikel”.

Indien ons die bogenoemde artikel op ’n objektiewe wyse interpreteer, kan ons die gevolgtrekking maak dat werkgewers inderdaad werknemers kan verplig om jaarlikse verlof gedurende die inperkingstyd te neem. Die alternatief tot jaarlikse verlof is onbetaalde verlof, waartydens werkgewers namens werknemers vir voordele van die “Nasionale Rampfonds” kan aansoek doen.

Die Wet op Basiese Diensvoorwaardes bepaal verder in artikel 20(6): “Ondanks subartikel (5) moet ’n werkgewer ’n werknemer toelaat om, op skriftelike versoek van die werknemer, verlof te neem vir ’n tydperk van onbetaalde verlof”. Laasgenoemde impliseer dat ’n werkgewer verplig is om jaarlikse verlof aan ’n werknemer toe te staan gedurende ’n periode van onbetaalde verlof.

Die huidige inperkingstyd is dieselfde as ’n maatskappy se jaarlikse sluiting in Desember. Indien werkgewers gewoonlik hulle besighede oor die Kerstyd sluit en werknemers versoek word om tydens die periode verlof te neem, is hulle geregtig daarop om hierdie periode vir die sluitingstyd in Desember te verruil en kan daar dan van werknemers vereis word om in Desember te werk.

Siekteverlof

Alvorens die nasionale inperkingstyd ingestel is, het die departement van arbeid en indiensneming ’n siektevoordeel aan werknemers toegestaan. Hierdie voordeel het voorsiening gemaak vir ’n spesiale voordeel wat sou uitbetaal indien ’n werknemer in kwarantyn geplaas word en gevolglik nie werk kan verrig nie. Dit is tans onduidelik of hierdie bepaling steeds van toepassing is.

Siekteverlof word deur artikel 22 en 23 van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes gereguleer. Kragtens hierdie artikels moet ’n werkgewer ’n werknemer vir ’n “dag siekteverlof dieselfde loon betaal as wat die werknemer gewoonlik vir werk op daardie dag sou ontvang; en dit op die werknemer se gewone betaaldag betaal”.

Die vraag wat ons onsself moet afvra, is of die werknemer op daardie dag geregtig sou wees op besoldiging, indien hy of sy nie siek was nie? Die antwoord is heelwaarskynlik nee.  Ons is derhalwe van mening dat werknemers nie onbetaalde verlof sal kan omskep in betaalde siekteverlof tydens die inperkingstyd nie.

Ophoping van verlof

Artikel 20(1) van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes bepaal dat ’n jaarlikse verlofsiklus ’n tydperk van 12 maande diens by dieselfde werkgewer is, wat onmiddellik volg op die aanvang van ’n werknemer se diens, of op die voltooiing van daardie werknemer se vorige verlofsiklus.

Artikel 20(2) reguleer die ophoping van verlof en bepaal dat ’n werknemer geregtig is op minstens 21 opeenvolgende dae jaarlikse verlof met volle besoldiging tydens elke verlofsiklus. Werknemers en werkgewers mag ook ooreenkom dat verlof gelykstaande is aan een dag jaarlikse verlof met volle besoldiging vir elke 17 dae waarop die werknemer gewerk het, of op betaling geregtig was.

Met bogenoemde in ag genome, lyk dit of verlof steeds sal opbou indien die werknemer verplig word om onbetaalde verlof te neem en/of van die Werkloosheidversekeringsfonds (WVF) of voordele van die “Nasionale Rampfonds” gebruik maak.

Openbare vakansiedae

Artikel 18 reguleer die hantering van openbare vakansiedae en bevestig dat ’n werkgewer nie ’n werknemer mag verplig om op ’n openbare vakansiedag te werk, tensy dit in ooreenstemming is met ’n ooreenkoms wat aangegaan is nie. ’n Werkgewer word ook verplig om ’n werknemer te vergoed indien hy of sy nie op daardie dag werk nie en nie ooreengekom het om op openbare vakansiedae te werk nie.

Alhoewel die redenasie oor en interpretasie van die bepaling oor openbare vakansiedae in die Wet op Basiese Diensvoorwaardes teenstrydig mag wees met die bepalings vir siekteverlof, soos bo genoem word, word die beginsels versterk deur die feit dat ’n werkgewer gewoonlik nie sake op daardie dae doen nie.

Kontak AfriForum gerus indien u enige verdere inligting benodig.