Die eerste tree na ’n groter doel: Chanel Vogl se Ovoprotein

| DeurZel-Mari

Chanel se reis na entrepreneurskap het begin met ’n persoonlike uitdaging, ’n passie vir gesonde eetgewoontes en ’n diepe omgee vir mense. Sy het ’n behoefte in die mark raakgesien: ’n volhoubare, gesonde alternatief vir eierwit wat mense kon help om hul gesondheidsdoelwitte te bereik.

Dit het in 2020 begin toe Chanel deel was van ’n somergesondheidsuitdaging saam met ’n groep inspirerende vroue. Een van hul etes het ’n omelet met een eier en twee eierwitte behels. Skielik het die vrae ingestroom: “Waar kry julle eierwitte? Ons het nie ’n Woolies nie!” en “Wat maak julle met die geel? Ek kan dit nie net weggooi nie!” Die idee om die eiergeel te mors, was vir hulle almal ’n probleem, en Chanel kon nie vrede maak met die vermorsing nie.

Sy het probeer om vloeibare eierwit aan te koop, te vries en dan aan vriende in Kuruman te koerier. Maar dit het nie gewerk nie – die produk was onprakties en het te vinnig sleg geword. Dit was duidelik dat ’n nuwe oplossing nodig was.

So is die idee van Ovo gebore – genoem na die Portugese woord vir eier. Maar om die perfekte produk te vind, was nie eenvoudig nie. Chanel het ongeveer twintig verskillende produkte getoets, op soek na een sonder bymiddels wat steeds sy hoë proteïenwaarde behou. Sy het haar kredietkaart tot die uiterste gestrek om haar eerste 25 kg boks eieralbumen aan te koop. Sy het 1 000 swart seëlsakkies bestel en saam met haar huishulp, Lena, besluit: “Swart, Mam, dit lyk soos Woolies.” Dit was ’n histeriese oomblik toe al die sakkies aankom – wat sou sy met soveel maak? Maar die eerste stap was geneem.

Die pad vorentoe was nie sonder struikelblokke nie. Chanel het haar produk aan ’n bekende in die liggaamsbougemeenskap voorgestel. Hoewel hy aanvanklik opgewonde was, het sy negatiewe kommentaar haar selfvertroue geknou. Sy het geglo die produk sou oornag sukses behaal, maar dit was nie die geval nie. Dit was ’n groot teleurstelling, maar sy het volgehou.

’n Deurbraak het gekom toe ’n vriendin haar aan ’n Mopani Apteek-kliënt bekendgestel het. Kort daarna het Mopani hul eerste bestelling geplaas. Ovo was nou op die rakke en aanlyn beskikbaar. Dit was die oomblik toe Chanel besef het: Hierdie droom kan ’n werklikheid word.

Die onderneming self

Ovo Protein is ’n gesondheidsonderneming wat spesialiseer in eierwitpoeier van hoë gehalte. Dit is ’n suiwer, vetvrye produk sonder bymiddels – ideaal vir mense wat ’n skoon proteïenbron soek.

Wat Ovo van ander onderskei, is sy eenvoud en suiwerheid. In ’n mark vol proteïenpoeiers met geursels en preserveermiddels, bied Ovo ’n gesonder, natuurlike alternatief.

Chanel bou ’n lojale kliëntebasis deur persoonlike interaksies. Met elke bestelling skryf sy ’n handgeskrewe briefie en moedig kliënte aan om hul resepte op sosiale media te deel. Hierdie persoonlike aanraking maak Ovo se gemeenskap sterk en betrokke. Hierdie interaksie het selfs gelei tot ’n digitale kookboek waarin kliënte se resepte verskyn.

Die afgelope jaar het Ovo ’n handelsmerk- en verpakkingsvernuwing ondergaan – aangesien Chanel se visie was om die produk gereed te maak vir die groter kleinhandelsmark. Dit was ’n uitdaging, veral om die verpakking in te voer en ’n geakkrediteerde verpakkingsfasiliteit te vind, maar die moeite het vrugte afgewerp.

Groeiproses

Ovo het nederig begin – Chanel en haar gesin het self die eierwit in sakkies gemeet en verseël, elke naweek met stortkappies en voorskote gewapen. Daar was geen verpakkingsfasiliteite in Nelspruit beskikbaar nie, so hulle moes dit self doen. Sy het haar eerste etikette self ontwerp – iets wat sy nou met ’n lag onthou.

Namate die aanvraag gegroei het, het Ovo ook ontwikkel. Die 200 g sakkies is aangevul met 1 kg verpakkings. Teen die einde van 2022 het Chanel besluit om haar voltyds op Ovo te fokus en die onderneming na die volgende vlak te neem. Dit het beteken dat sy na Centurion verhuis, die handelsmerk herontwerp en ’n groter mark geteiken het.

Chanel het ook waardevolle lesse oor entrepreneurskap geleer. Sy het aanvanklik geglo dat die mark onmiddellik sou reageer, maar moes leer dat sukses tyd neem. Sy het ook geleer om kritiek reg te hanteer en vol vertroue in haar eie produk te bly. Vir haar is risiko deel van die spel – maar sy berei altyd ’n plan B voor.

Leierskap en span

Tans is Chanel die enigste werknemer van Ovo Proteïen – ’n eenvrou-onderneming met ’n groot visie. Sy is streng, maar regverdig, en streef na perfeksie in haar onderneming. Sy glo in ’n sterk werksetiek en samewerking met mense wat haar passie deel.

Die toekoms

Chanel se droom is om Ovo Protein ’n huishoudelike naam in Suid-Afrika te maak. Sy wil verder uitbrei in die kleinhandelsmark en nuwe produkte ontwikkel wat bydra tot ’n gesonde leefstyl.

Tegnologie speel reeds ’n groot rol in haar onderneming – van aanlyn verkope tot kliëntebetrokkenheid. Sy hou deurlopend tred met markneigings en pas haar strategieë daarvolgens aan.

Haar volgende groot doelwit is om groot supermarkgroepe te betree. Sy weet dit verg harde werk en strategiese vennootskappe, maar sy is bereid om die sprong te waag.

Persoonlike reis

Chanel se entrepreneursreis het haar geleer om aanpasbaar en veerkragtig te wees. Sy het deur uitdagings gedruk, lesse geleer en haar visie behou. Sy weet nou: sy, haar onderneming en haar droom is uniek. En dit is wat Ovo Protein laat uitstaan.