Dié mentors sal jou help op die pad na sukses 

Sukses word bepaal deur jou vermoë om op enige gegewe oomblik die regte hulpbronne op die regte manier aan te wend. Mentorskap kan jou deurentyd help om dit wat jy reeds het, slimmer aan te wend – en soos daar in ons vorige artikel verduidelik is, kan dit die reddingsboot wees waarvoor jy nog heeltyd hoop!

’n Mentor se doel is nie om vir jou vaardighede te gee wat jy nie voorheen gehad het nie, maar om dit wat jy het, toe te pas op ’n manier wat meer waarde ontsluit. Toe jy jonger was, het jy jou ouers nodig gehad om vir jou te sê dat jy tot enigiets in staat is, sodat jy gemotiveerd kon wees om alles te beproef. Op universiteit was dit nodig om by jou studieleier kers op te steek en te hoor dat daar beperkte geleenthede in jou beroep is, sodat jy gefokus kan raak. Toe jy begin werk, was dit nodig om by jou baas te hoor dat jy baie minder weet as wat jy dink, sodat jy praktiese vaardighede kon bou. Die lewe bestaan uit momentum, en op een tydstip het jy ander raad nodig as op ’n ander.

Om dieselfde rede waarom jy waarskynlik nie dieselfde mentor sal hê vir gesondheidsadvies, bestuursvaardighede en hoe om jou gholfvoorgee te verbeter nie, gaan jy ook nie dieselfde mentor in elke tydstip van jou loopbaan hê nie.

Daar is wel drie tipes mentors wat jy êrens op jou pad na sukses gaan teëkom:

Die Grootkop

Die Grootkop is ’n senior professionele mentor wat ’n kop uitstaan bo die res. Dit is die Hoof Uitvoerende Beampte (HUB) wat 20 jaar ervaring het en al honderde in jou posisie gesien het. Dit is die persoon met wie dit moeilik is om ’n afspraak te kry, wat jou aan nuwe netwerke kan verbind en weet waar om watter hulpbronne te ontgin. Dié mentor het ook nadele – hy of sy was dalk lanklaas op grondvlak betrokke en die industrie het al baie verander. Hulle sal nie soveel tyd aan jou kan bestee soos jy wil nie maar minstens sal hulle fokus net op langtermyndoelwitte wees.

Die Planmaker

Die Planmaker is die persoon wat kortpaaie kry, nie omdat hy nie bereid is om hard te werk nie maar omdat hy altyd op slimmer maniere afkom. Dit is die persoon wat boek na boek verslind oor hoe om jou geld reg te belê, wat begrotings opstel en al sy doelwitte bereik. Dit is die persoon wat jou laat besef jy het slapgelê en wat jou vinnig daarop kan wys dat jy nie optimaal funksioneer nie. Ons almal het nodig om by mense te leer wat slimmer met geld werk, die somme maak wanneer hulle ’n huis of ’n motor koop en altyd op datum is van die nuutste tendense.

Die Buurman

Die Buurman is die tipe mentor wat die meeste onderskat word maar die meeste benut kan word. Entrepreneursvriende wat tweeweekliks bymekaarkom om mekaar verantwoordelik te hou, of kollegas wat hulle toekomsplanne met mekaar deel en met mekaar opvolg – dit is die mentors wat die enjinkamer aan die gang hou. Omring jou met mense wat van jou passies deel, wat positief is en wat op dieselfde of hoër loopbaan- en vaardigheidsvlak is as jy. Die voordeel is jy kan gereeld by hulle uitkom, jy kan idees toets en jou eie planne deurentyd aanpas. Die nadeel is dat jy in ’n groef kan verval as dit ál mentors is waarmee jy jou omring.

Ons sukkel dikwels om sin te maak van ons eie struikelblokke, terwyl ons vinnig is om iemand anders se situasie op te som. Mentorskap is die inspuiting wat ons elkeen nodig het op die pad na sukses, mits jy die regte Grootkop, Planmaker en Buurman aan jou kant het!