
Die pad van ’n droom tot ’n bedryf: Die storie van Francois Nel se Winelands Gas
Van jongs af het daar iets in my gesluimer – ’n onwrikbare droom om my eie onderneming te besit. Reeds in die laerskool het dié droom my gedryf om worsrolletjies by sportbyeenkomste te verkoop. Teen graad agt was dit al duidelik: Hier is ’n entrepreneur in wording.
Ná my tyd in die weermag en polisie het ek 18 jaar lank vir ’n internasionale maatskappy gewerk waar ek geslyp is in die kuns van sakeontwikkeling. In daardie tyd het ek vyf suksesvolle internasionale takke op die been gebring – van konsep tot oorhandiging aan ’n gevestigde bestuurspan. Maar toe 2010 aanbreek, het ek besluit: Dit is tyd om my lewenslange droom ’n werklikheid te maak.
Die geleentheid het gekom deur een van my bestaande internasionale kliënte, en só is Winelands Gas gebore. Wat as ’n afleweringsdiens begin het, het gegroei tot ’n volwaardige installasie-onderneming wat LP-gas verkoop, aflewer, installeer, sertifiseer en herstel in residensiële en kommersiële omgewings.
Die bou van ’n reputasie
Wat Winelands Gas van ander gasondernemings onderskei, is nie net hul tegniese kundigheid nie, maar hul ongeëwenaarde kliëntediens. Dit is nie net ’n slagspreuk nie – dit is iets wat ons kliënte herhaaldelik beklemtoon in meer as 70 Google-resensies. Dié resensies word persoonlik beantwoord en die onderneming kweek ook lojale verhoudings deur gereeld op sosiale media aktief te wees.
Uitdagings was daar natuurlik ook – van onbetroubare personeel tot die struikelblokke van staatsinstellings soos die SAID en die KVBA. Maar mettertyd het ons leer onderskei wie geskik is vir die span, hoe om behoorlike opleiding te verskaf, en watter stelsels nodig is om risiko’s soos niebetalende kliënte en ongelukke te bestuur.
Groei, lesse en leierskap
In ons eerste jaar het Winelands Gas ’n omset van R600 000 gehad. Teen 2024 het dit gegroei tot R4,2 miljoen. Die formule? Die regte mense, goeie diens, en ’n fokus op deurlopende innovasie. Foute soos oorhaastige besluitneming is mettertyd reggestel met deeglike navorsing en strategiese beplanning.
Leierskap in dié onderneming is demokraties van aard. Werknemers word betrek by besluitneming en gemotiveer deur ’n bonusstelsel en daaglikse waardering. Die span is nie net kollegas nie, maar ’n gemeenskap wat mekaar ondersteun – iets wat veral belangrik is vir my as eienaar wanneer ek mense aanstel.
’n Visie vir die toekoms
My droom strek egter verder as wins en groei. Ek hoop om eendag die onderneming aan my kinders oor te dra – nie net as ’n lewensvatbare onderneming nie, maar as ’n nalatenskap van deursettingsvermoë en beginselvaste diens. My volgende groot mikpunt is die oprigting van ’n LP-gasdepot – stadig maar seker, sonder om kernwaardes prys te gee.
Tegnologie speel ’n sleutelrol in my toekomsplanne. Ek weet relevansie in die bedryf vereis dat ek altyd op die voorpunt van nuwe produkte en prosesse moet bly. My geheim? Innovasie met integriteit – die kliënt bly koning, altyd.
’n Reis van groei en gee
As daar een les is wat dié pad my geleer het, is dit geduld. Ek balanseer my werk en persoonlike lewe deur grense te trek: Werk bly by die werk, en tuis is heilig. My raad aan jong entrepreneurs is eenvoudig: “Doen jou huiswerk behoorlik.” My visie vir impak is nie net op wins gefokus nie, maar ook op betrokkenheid by niewinsgewende aksies en die groei van die gasbedryf in Suid-Afrika.
Ek onthou steeds die beste raad wat ek ooit gekry het: om altyd ten minste drie maande se kontantvloei in die bank te hou. Hierdie eenvoudige maar kragtige beginsel het Winelands Gas nie net deur moeilike tye soos COVID-19 gedra nie, maar dit is een van die redes waarom mense die onderneming onthou as standvastig en betroubaar en vir puik diens.