Die rol van handelsbeperkingsklousules in dienskontrakte

’n Handelsbeperking (Engels: “restraint of trade”) is ’n ooreenkoms waarin een party ooreenkom om sy handelsvryheid vir ’n vasgestelde tydperk ten gunste van ’n ander party te beperk. Daar is geen arbeidswette wat handelsbeperkingsooreenkomste reguleer nie en dit word derhalwe deur kontraktereg gereguleer.

Hierdie soort klousules is noodsaaklik – veral waar meer gespesialiseerde besigheidsaktiwiteite plaasvind – om vertroulike inligting (bv. ’n kliëntelys of pryslyste), besigheidsprosesse en patente te beskerm en te voorkom dat sensitiewe inligting ’n onderneming se mededingers ’n onregmatige voordeel gee.

Wanneer ’n dienskontrak beëindig word, besit die werknemer gewoonlik sensitiewe inligting en industrieverwante kennis wat oorgedra kan word aan ’n werkgewer se mededingers. Werkgewers moet hierdie risiko dus op ’n proaktiewe manier bestuur om die volhoubaarheid en winsgewendheid van hul maatskappy te verseker.

Handelsbeperkingsklousules is omstrede omdat dit ’n konflik van basiese regte behels. Aan die een kant is daar handelsvryheid, wat ’n erkende reg in die grondwet is, en aan die ander kant is daar algemene kontrakteervryheid wat daarop staatmaak dat partye aan kontrakte gebonde is.

Soos met alle kontrakte is handelsbeperkings prima facie geldig en afdwingbaar. ’n Onredelike beperking, wat teen die openbare belang is, sal egter nie afgedwing kan word nie. Die mate waartoe ’n handelsbeperkingsklousule as redelik beskou kan word, word beoordeel volgens die belange van die breër gemeenskap en die belange van die individu self.

Die howe het bepaal dat ooreenkomste nie aangepas kan word bloot om mededinging vir ’n maatskappy uit te skakel of om ’n persoon daarvan te weerhou om elders ’n sinvolle werk te kry nie. Daar moet ’n spesifieke rede wees vir die verbod, soos die beskerming van ’n geheime produkformule of inligting oor kliënte of kontrakte in die spesifieke bedryf.

In die appèlhofsaak Magna Alloys & Research v. Ellis 1984 (4) SA 874 (A) het die hof die volgende beginsels neergelê:

  • Ooreenkomste wat teen die openbare belang is, kan nie afgedwing word nie, en ’n ooreenkoms wat iemand se handelsvryheid inkort, is teen die openbare belang en is dus onafdwingbaar indien die opdwing van die ooreenkoms die openbare belang sou skaad.
  • Dit is in die openbare belang dat kontrakte wat vrylik aangegaan is, nagekom moet word. Maar dit is ook in die openbare belang dat elke persoon handelsvryheid moet hê. Die openbare belang sou geskaad word indien die beperking op iemand se handelsvryheid onredelik is.
  • Die vraag of ’n verbod op mededinging afdwingbaar is, hang dus af van die vraag of die opdwing daarvan die openbare belang sou skaad.

“Redelikheid” word bepaal deur verskeie faktore, bv. het die werkgewer ’n beskermingswaardige belang, en wat is die geografiese omvang en tydperk van die handelsbeperking?

Die onus/bewyslas dat die afdwinging van die beperking onredelik is en dat dit nie in die openbare belang is as die ooreenkoms afgedwing word nie, berus by die werknemer.