Blogplasings

Gestig 21 Februarie 2019

Wanneer jy ’n passie het vir iets en jy leef dit elke dag uit, glo ek dat mens ware geluk in die lewe ervaar….

Ons as tweeling kan voorwaar sê ons is elke dag gelukkig om in ons kombuise te kan wees en te doen waarvoor ons al van kleins af lief is! Dit was ons albei beskore om met boere te trou wat een ongelooflike voorreg is (al eet jy saam tien sakke sout op deur die droogtes en moeilike tye). Gelukkig weet ons dat sout ’n belangrike bestanddeel is wanneer daar kos gemaak word.

Entrepreneurskap vloei sterk deur ons are, want van kleins af het ons raakvat-ma en -pa ons daarvan geleer. As 6-jariges was ons al lief daarvoor om kos te maak en is ons in die kombuis toegelaat om te bak en brou, al het dit na die tyd gelyk asof ’n orkaan die kombuis getref het. Ons moes self vir ons sporttoere op skool betaal en kosverkope was altyd ’n wenner.

Ongelooflike herinneringe soos om op die kombuisvloer te sit en die sjokoladekoek se deeg uit die bak te lek dat ons bruin van oor tot oor is, bly ons by terwyl ons as vroue en entrepreneurs nou self ook bak. Ons sien onsself in ons kinders as hul ook doen wat ons gedoen het.

Michelle se Kombuis is ’n onderneming wat ontstaan het a.g.v. droogtes op ons plase en die blote feit dat ons as boervrouens ons mans finansieel moes bystaan. Jy kan enige iemand vra en hul sal sê dat dit skrikwekkend is om ’n nuwe onderneming te begin, maar ek glo die liefde wat ons elke dag ingesit het en die feit dat ons op daardie stadium nie ’n ander uitweg gehad het nie, het in minder as twee jaar na ons suksesverhaal gelei.

Eers het Sandri met haar kennis van kos my gehelp met idees en resepte vir ons Suid-Afrikaanse tak en ’n jaar daarna het sy haar eie Michelle se Kombuis geopen in Namibië wat reusesukses behaal het en waar sy ook nou haar droom kan uitleef.

Ons wil graag ander vrouens inspireer om dit waarvoor hul lief is, na te streef en dit ’n realiteit te maak. Om vanaf die huis jou eie onderneming te kan bestuur, is ’n groot voorreg en genade. Ons kinders leer ook nou eerstehands van entrepreneurskap. Hul handjies is altyd reg om te help en hul roer graag die potte en maak bakkies toe.

Kreatiewe nuwe idees vir disse kom meeste van die tyd uit die herinneringe wat ons albei het van toe ons oorsee gebly of getoer het saam met ons familie, maar meeste van ons geregte is gebaseer op tradisionele boerekos. Daar is min dinge wat so bevredigend is soos om te sien, hoor of weet iemand eet lekker aan jou kos nie.

Michelle se Kombuis se gevriesde geregte is ’n vinnige, gesonde en lekker ete wat jy in ’n japtrap vir jou gesin kan voorsit. Dit is ook ideaal vir studente en selfs die ou mensies wat ’n gesonde ete wil geniet.

Ons werk elke dag aan nuwe idees en resepte en groei stap vir stap saam met ons onderneming. Dit is ook lekker dat ons mans en kinders by Michelle se Kombuis betrokke is. Hulle maak groentetuine en skaf nuwe diere aan om vir ons organiese vleis, groente, melk en eiers te kan voorsien, maar sonder ons getroue kliënte, familie en vriende wat in ons glo, sou ons nie wees waar ons vandag is nie.

Dis ’n voorreg om as identiese tweeling so iets saam aan te pak!

Deel die artikel