Fatale foute wat entrepreneurs sink

Onlangse navorsing deur prof. Christian Friedrich wys dat tussen 70% en 80 % van klein ondernemings in Suid-Afrika binne 5 jaar hulle deure toemaak. Net 1% van mikro-ondernemings wat met minder as vyf werknemers begin het, kon groei om tien mense of meer in diens te neem. Wat is die foute wat entrepreneurs maak waarvan hulle nie kan herstel nie? Hier is die top vyf redes:

  1. Al wat jy kort is geld

As jy meer tyd spandeer om befondsing te soek as om jou produkte te verkoop of jou onderneming te bou – gaan jy deel word van die statistiek. “As jou besigheidsmodel nie werk nie, gaan meer geld dit nie regmaak nie”, het Carter Cast van die Pritzker Groep gesê. Het jy genoeg tyd spandeer om die kreukels uit te stryk vir befondsing om bloot die olie op ’n vuur te wees?

Teveel entrepreneurs gee befondsing die skuld vir hulle ondernemings wat nie werk nie. Dit is eintlik ’n gulde geleentheid om kontantvloei, begrotingskwessies en jou verkoopstrategie te analiseer. Die enigste rede waarom jy befondsing moet nodig hê, is om ’n model wat reeds goeie resultate lewer, bloot op groter skaal te implementeer. In so geval, is befondsing nie so moeilik soos meeste sou voorhou nie. Vermy om soos baie entrepreneurs befondsing te jaag tot in die afgrond in.

  1. Meer tyd aan ontwikkeling spandeer as verkope

Die bekende besigheidsfilosofie van Eric Ries, genaamd “The Lean Startup Principle” meen dat indien jy ’n perfekte produk in die mark sit, jy reeds te laat is. Entrepreneurs wat al hulle tyd aan die ontwikkeling van die idee of die produk spandeer en nie vinnig genoeg hulle produkte in die mark kry nie se tyd hardloop vinnig uit. Hoe beter entrepreneurs dink hulle hul produkte ken, hoe meer geneig is hulle om te dink dat hulle nie terugvoer nodig het nie. Loods eerder jou halfgebakte e-winkel en begin verkoop, want jy gaan vinniger lesse leer as die een wat agt maande langer vat om alles 100% te kry.

Soos jou onderneming groei raak dit weer en weer ’n risiko vir entrepreneurs soos hulle hul aandag verskuif van verkope na projekte wat hulle meer geniet. Verkope is die hartklop van jou onderneming en entrepreneurs wat te lank vat om hulle vinger weer op die pols te kry, trap gou in die kontantvloeislaggat.

  1. Jouself te isoleer – en nie ondersteuning te kry nie

Leierskap, fokus en unieke sakekennis is mededingende voordele wat jou mededingers nie kan namaak nie. Entrepreneurskap is dikwels ’n eensame bedryf waar jy met jou eie idees stoei en self al die besluite maak. Dit kan in ’n oogwink gebeur dat jy jouself isoleer van ander entrepreneurs of kliënte wat van buite af na jou onderneming kyk. As jy nie aanhou om jouself te ontwikkel, jou netwerk te bou en nie met jou kliënte in aanraking te kom nie – is jou dae getel.

Maak ’n punt daarvan om boeke of artikels te lees oor die uitdagings wat jy in jou onderneming ervaar. Kry ’n groep vriende, besigheidseienaars of mense wat jy respekteer met wie jy op ’n gereelde basis mee kan bymekaarkom om jou idees te toets. Kry ’n mentor wat jou kan help met struikelblokke wat opduik en hou aan om jou netwerk uit te brei.

  1. Verwar ’n produk met ’n onderneming

Produkte is ’n voertuig wat ondernemings gebruik om geld te genereer, ondernemings is nie voertuie om produkte mee te verkoop nie. Daar is ’n verskil tussen ’n produk wat jy verkoop en die strukture, hulpbronne en sisteme wat produkte vir jou verkoop. Entrepreneurs maak die fout om te dink dat hulle ondernemings bedryf, terwyl hulle hele onderneming van ’n enkele produk afhanklik is. Die gevaar is dat jy nooit jou onderneming werklik groei nie en jou onderneming maklik vatbaar is vir onstabiliteit.

Probeer jou inkomstestrome diversifiseer so gou jy kan, toets produkte vinnig sodat jy meer produkte kry wat werk. Stel werknemers aan of kontrakteer spesialistake uit sodat jy ’n span kan bou. Bou ’n bemarkingsisteem wat vir jou deurentyd verkope kan verseker en versamel datalyste van jou kliënte. Alles wat opgerig word wat nie meer die entrepreneur nodig het om te funksioneer nie, is iets wat ’n onderneming bou en nie net ’n produk nie.

  1. Om die data te ignoreer

Data is altyd beskikbaar. Entrepreneurs het toegang tot die hoeveelheid verkope wat hulle maak in verhouding tot die bemarking wat hulle doen. Hulle het toegang tot wie hulle beste kliënte is en wie hulle beste werknemers is – maar hulle gebruik dit nie om besluite te neem nie. As jou nuwe produk nie verkoop nie, en die syfers bewys dit, help dit nie jy probeer jouself flous nie. Entrepreneurs sukkel om hulle ondernemings om te draai as hulle al teveel nodige besluite oorgesien het. Sny die produk af wat swak presteer, kanselleer die kontrak met die diensverskaffer wat nie presteer nie en dank die werknemer af wat jou onderneming se tyd en potensiaal steel.

Om foute te maak is deel van entrepreneurskap. Die geheim is om foute vinnig te maak en nie saam te sleep vir die res van jou entrepreneursreis nie. Werk aan jou onderneming eerder as net in jou onderneming – en jy sal die noodligte sien lank voor dit fataal is!