Ek hou van my werk maar minder van my baas. Wat nou?

As jou baas jou geluk by die werk beïnvloed, is jy beslis nie die enigste een nie. ’n Meningspeiling deur OfficeTeam wys dat amper helfte van werknemers wil afstand doen van hulle werk of pos omdat hulle direkte bestuurders hulle nie waardeer nie. Daar is dikwels ’n kommunikasiegaping tussen werknemers en hulle bestuurders wat in allerlei konflik manifesteer. Maar hoe verbeter jy jou verhouding met jou baas en wanneer weet jy of dit tyd is om te skuif?

Verstaan voor jy verstaan wil word

Die eerste stap is om te verstaan voor jy verstaan wil word. As julle weer ’n uitval het, vra jouself af wat ’n rede vir jou bestuurder se optrede kon wees wat sal maak dat jy hulle vergewe? Dit kan help om te besef dat jou bestuurder dalk oorwerk is, hulle ook onder druk van ander bestuurders is of dalk help dit jou om na hulle bestuurstyl van ’n ander perspektief te sien. Die tweede stap is om jouself te vra wat jou bestuurder se motivering is. Alle mense maak besluite as gevolg van twee redes, naamlik, om van pyn te vlug of plesier te volg. Jou baas se motivering vir onbillike reëls kan byvoorbeeld wees dat hy die pyn wil vermy van ’n vorige werknemer wat kanse gevat het. Vra jouself af vir watter rede hulle moontlik so kan optree en dit sal jou help om hom of haar te verstaan, selfs al is dit die laaste ding wat jy voel jy wil doen.

Bly een stap voor

Dit is ook so dat talle werknemers aan bestuurders rapporteer wat bloot net onaangenaam kan wees, selfs al probeer jy sy motivering verstaan. Die beste korttermyn plan is om een stap voor te bly, as jou bestuurder gal afgaan as jy een minuut oor agt by die kantoor instap, wees 7:45 daar. Of as hy altyd jou verslag ’n dag voor die spertyd soek, handel dit vinniger af. Begin oplet wat dit is wat jou bestuurder dryf tot negatiewe gedrag en probeer daarby aanpas, binne redelikheid natuurlik.

Huweliksberading met jou bestuurder

As die verhouding tot so mate versleg het dat jy steeds raadop is, kry ’n berader. Soos ’n huwelik soms ’n eksterne persoon nodig het om geskille op te los, so het jy ’n mentor nodig wat jou kan bystaan. Maak kontak met Menslike Hulpbronne en dui aan wat jy reeds probeer het om die verhouding te herstel en vra raad. Jy kan ook ’n senior mentor figuur binne die maatskappy kry vir wie jy in vertroue kan vra om jou deur die proses te mentor. Dit wys bereidwilligheid van jou kant af en maak ook ander bewus van die probleem.

Dit is egter belangrik, soos in enige huwelik ook, dat jy eers seker is jy het tenvolle jou grief met jou bestuurder verwoord. As daar konflik is tussen jou en jou bestuurder, moet jy duidelik weet of dit bloot was weens ’n verskil in verwagtinge, gebrek aan duidelike doelwitte of net ’n kommunikasiegaping. Om dit te vermy, gebruik beradingstaal deur opdragte te her-verwoord, soos bv: “Bedoel jy dat ek hierdie taak voor Vrydag moet voltooi en daarna terugvoer gee aan die span? Is dit wat jy bedoel het?”

Goeie heinings maak goeie bure

Jy het probeer verstaan en selfs probeer om die ekstra myl te gaan, nou is dit tyd om grense te stel. Jy moet weet  tot waar jy bereid is om te gaan, by watter reëls jy bereid is om in te val en watter waardes jy nie sal oortree nie. Stel vir jouself grense op van wat jy bereid is om te doen en wat nie. Hoeveel aande is jy bereid om by die kantoor te spandeer eerder as by jou kinders? Hoe verwag jy moet iemand met jou praat as hulle jou respekteer en wil jy verskoning vra vir iets wat nie jou skuld was nie? As jou grense gestel is moet jy daarby hou, as jou bestuurder sien daar is sekere dinge waarop hy jou kan druk, en ander nie, kan dit ’n gee en neem verhouding word. Om grense te stel beteken ook jy trek ’n lyn oor wanneer jy bereid is om weg te stap. As daar van jou verwag word om oor en oor jou waardes te oortree, dan is daar ’n kultuurverskil tussen jou en jou maatskappy en sal jy gelukkiger wees elders.

Dit is altyd slim om gebruik te maak van soveel hulpbronne as wat jy kan kry, vir konflikhantering kan jy beslis loer na Crucial Conversation deur Joseph Grenny, David Maxfield, Ron McMillan en Kerry Patterson. Jy kan ook gerus The 3rd Alternative deur Stephen Covey lees – dit behoort jou tonne opsies te gee oor hoe jy te werk kan gaan!