Emosionele Intelligensie: Geheime om jou onderneming te groei

Emosies is die kragtige gereedskap om doelwitte te bereik, maar kan ook ons grootste struikelblok wees. Baie mense word groot met die idee dat emosies negatief is en dat dit in die sakewêreld vermy moet word. Maar studies bewys die teendeel – dat emosies wat reg aangewend word veel meer werd is as om dit net te vermy. Emosies is ’n rigtingaanwyser van wat werk en wat nie. Dit is ’n termometer waarmee ons kan toets of dit wat ons doen die regte resultate kry. Dit is ook ’n venster wat vir ons ’n magdom bruikbare data verskaf.

Resultate van EI sluit in:

  • Beter verhoudings met en tussen werknemers.
  • Doelwitte word makliker bereik.
  • Minder tyd word aan onbenullighede spandeer.
  • Minder konflik of meer produktiewe konflik lei tot groter produktiwiteit.
  • Om resultate van EI in jou onderneming te sien, is hierdie vier stappe ’n goeie begin:

Ken jouself

Om jouself te ken, is ’n erkende EI-eienskap. Dit beteken nie net dat jy oppervlakkig weet wat jou sterk- en swakpunte is of dat jy weet wat jou kwaad maak en wat nie. Gallup se aanlyn Strengthfinder-toetse is ’n goeie manier om dieper te begin delf. Jy kan ook ’n sake-afrigter of konsultant raadpleeg wat jou besluite vanuit ’n ander perspektief kan waarneem. Om jouself te ken, is om te besef dat jy vol blindekolle is.

Hoe beter jy jouself ken, hoe beter gaan jy jou waardes kan dikteer. Waardes is die diep onbewustelike oortuiging van wat vir ons belangrik is. Vir een persoon mag eerlikheid ’n absolute waarde wees, vir ’n ander nie. Vir een mag stiptelikheid, erkenning of deursigtigheid van groot belang wees, vir ’n ander kan pret en buigbaarheid eerder belangrik wees. Die maatstaf is dan die wyse waarop ons meet of ons die waarde bereik. As jy negatiewe gewoontes het soos om altyd laat te wees, te rook, mense weg te stoot of bang is om voor mense te praat – is dit altyd ’n waarde wat dit dryf en ’n maatstaf waarvolgens jy dit doen. Byvoorbeeld, as dit vir jou ’n waarde is om gesag by ander af te dwing, kan die maatstaf wees dat jy jou kollegas heeltyd probeer verkeerd bewys. Jy kan dan kies om jou waarde te verander soos om eerder diensbaarheid as ’n waarde te hê as gesag. Of jy kan net die wyse waarop jy gesag meet, verander. Jy kan die kwaliteit van jou verhoudings met jou kollegas dalk eerder die maatstaf maak vir hoeveel gesag jy in die onderneming het.

Om jouself te ken is om te weet wat jou positiewe en negatiewe waardes is, en dit te kan aanpas volgens wat jou doelwitte is.

Reguleer jouself

Alles wat om ons gebeur, het ’n effek op ons. Die musiek wat op die radio speel, die gesprekke met jou kollegas en die nuus op die televisie. Om emosioneel intelligent te wees, is om te weet wat jou beïnvloed en dan te kies hoe jy wil reageer. As jy in ’n slegte bui is en jy weet dat ’n sekere liedjie jou sal opbeur, moet jy dit gebruik. Ons emosies is geanker in duisende verskillende dinge en eersteklasleiers gebruik hul omgewing en gedagtes om hul emosies te beheer.

Aangesien gedagtes ons emosies beïnvloed, moet ons weet wat met ons gedagtes gebeur voordat ons dit kan verander. Alle kommunikasie wat jy ontvang, word op drie maniere in jou brein gefiltreer, naamlik veralgemening, verdraaiing en verwydering.

Veralgemening: Ons gedagtes veralgemeen dikwels inligting en dit beïnvloed hoe ons daaroor voel. As jy ’n ervaring gehad het waar ’n persoon van ’n sekere geslag of ras oneffektief was, word daardie eienskap maklik veralgemeen na almal anders in daardie demografie. So veralgemeen ons ook vrese, ons oortuigings oor besigheid, tendense of enige iets anders waarin ons al ervaring het. Ons moet daarom deurentyd ons oortuigings bevraagteken.

Verdraaiing: As jou werknemer vir jou sê: “Jy lyk netjies vandag”, kan jy dit verdraai na “Jy lyk nie gewoonlik netjies nie”. Die brein is daarop uit om alle inligting wat ontvang word, aan te pas by dit wat jy alreeds glo van die wêreld of van jouself.

Verwydering: Baie van wat ons hoor word eenvoudig verwyder. Op dieselfde manier wat jy bloot kan vergeet waar jy jou sleutels neergesit het, so gaan jou werknemers ook jou visie vergeet as jy dit nie keer op keer herhaal nie.

EI gaan daaroor om jouself te kan reguleer, om jou emosies te bevraagteken wanneer dit opduik en dit dan aan te pas tot die omgewing, situasie of doelwit.

Ken ander

’n Leier wat emosioneel intelligent is, is iemand wat ander se reaksies en emosies raaksien en daarop reageer. Let op hoe een werknemer se liggaamstaal verander as hulle opgewonde is oor ’n projek, of hoe ’n ander negatief is as hulle nie ’n verhoging kry nie. Weet hoe jou werknemers se liggaamstaal of gesprekke lyk wanneer hulle gelukkig en gemotiveerd is, teenoor wanneer die wind uit hulle seile is. Dit sal vir jou goeie data verskaf om te kan weet wat jou werknemers voel wanneer hulle dit nie verwoord nie. Daar is talle fisiologiese tekens waarvoor jy kan uitkyk en verder navorsing oor kan doen, soos hoe om na mense se oë, gesigsuitdrukkings, asemhaling, stemtoon en woordkeuse op te let.

Motiveer ander

Motiveer jou werknemers deur die waardes te bevorder wat vir hulle belangrik is. As een van jou werknemers ontwikkeling as ’n belangrike waarde ag, voed hulle daarmee. As jou tydelike werknemer sekuriteit nastreef, bevestig dit deur ’n dienskontrak. As jy weet watter positiewe en negatiewe waardes jou werknemers het, gaan dit jou nie net help om hulle gedrag in konteks te sien nie, maar gaan jy ook weet hoe om hulle te motiveer.

Mense word gedryf deur waardes. Waardes beïnvloed hoe ons voel (emosies) en dit beïnvloed weer ons gedrag en hoe produktief ons is. Emosioneel intelligente leiers bou beter maatskappye, lok beter werknemers en het minder groeipyne as hulle mededingers. Leierskapplafonne is ook ondernemings se groeiplafonne; ontwikkel jouself en die resultate sal volg.