
Entrepreneur van die Jaar-kompetisie
AfriForum Sakenetwerk bied sedert 2017 die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie aan. In 2026 bou ons voort op die verlede en bou sterker aan die toekoms van dié kompetisie.
Die geskiedenis van die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie
AfriForum Sakenetwerk bied sedert 2017 die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie aan. In 2026 bou ons voort op die verlede en bou sterker aan die toekoms van dié kompetisie.
Sedert 2017 het meer as 520 entrepreneurs vir die kompetisie ingeskryf en het meer as 28 000 lede van die publiek vir hul gunstelinge gestem. Louis Loubser het in 2017 met sy onderneming Tree Hog gewen, in 2018 het die dames van Oh-Lief met die louere weggestap, en in 2019 het Marita Bezuidenhout van Magies vol Liefde koning gekraai. In 2021 het Elzabeth van der Bijl (Fynbos SA) in die kategorie vir entrepreneurs wat minder as sewe jaar handel dryf gewen, terwyl Alita du Plessis (Purple Carrot), weggestap het met die titel Entrepreneur van die Jaar in die kategorie vir entrepreneurs wat langer as sewe jaar handel dryf. 2022 se wenner, Bertha Lewis, het skoonskip gemaak met haar pratende beertjie, Lingi. 2023 se titel het aan Danie Rossouw, eienaar van The Butcher and Son gegaan en in 2024 wen Awie Krog – hy het intussen reeds sy kontantprys aangewend om nog ’n onderneming te vestig. Hy is die eienaar van Craft Braai en die nuutgevestigde LEM. WC Reynders van FitFoodz was 2025 se Entrepreneur van die Jaar.
2026 se kriteria en tydlyn
In 2026 is daar slegs een kategorie – entrepreneurs met ondernemings wat meer as 1 000 dae bestaan en/of reeds winsgewend is, maar minder as 10 jaar bestaan en/of winsgewend is.
- Inskrywings maak op 12 September oop en sluit 5 Oktober om 17:00.
- Stemme deur die publiek open op 6 Oktober. Agt van die tien semifinaliste word deur die publiek bepaal en twee deur die beoordelaars.
- Die stemproses sluit op 18 Oktober om 12:00 en die semifinaliste word op 19 Oktober aangekondig.
- Daarna kies die beoordelaars die vyf finaliste wat dan deurdring na die finaal.
- Op 23 Oktober word die finaliste aangekondig wat dan deurdring na die finaal wat van 10 tot 11 November in Pretoria plaasvind.
- Hierdie jaar sal die kompetisie as TV-program verfilm word vir AfriForumTV.
Wanneer jy deurdring as semifinalis sal daar van jou verwag word om ’n kort portefeulje saam te stel om beoordelaars te oorreed dat jý die een is wat moet deurdring na die finaal. Inskrywings word noukeurig nagegaan deur ’n interne paneel (alle venote) om seker te maak die semifinaliste wat deurgaan na die stemproses is van hoogstaande gehalte en voldoen aan die kriteria. Die kriteria hiervoor bly dieselfde as uiteengesit onder “Kriteria”. Om jou te help met daardie belangrike portefeulje, sal daar ’n mentor aan die semifinaliste toegeken word om te help met hul portefeuljes. Dit behels slegs een aanlyn sessie wat jy kan bywoon om hulp te verskaf met jou portefeulje. Die mentor sal iemand wees wat voorheen deelgeneem het, ’n borg wat al jare betrokke is by die kompetisie, of ’n vorige beoordelaar. Die portefeulje bepaal of jy as finalis genooi word na die finale rondte om dit uit te spook vir die gesogte Entrepreneur van die Jaar-titel.
Alle semifinaliste kan ook hierdie jaar uitsien na vier addisionele meesterklasse wat deur van die beoordelaars aangebied word.
Skryf in en jy kan dalk wegstap met die Entrepreneur van die Jaar-titel, ’n splinternuwe netwerk van entrepreneurs wat jy op hierdie pad sal ontmoet, meer as R150 000 se mediablootstelling op Maroela Media, twee nagte verblyf, bed en ontbyt ingesluit, by Le Franschhoek Hotel & Spa ter waarde van R13 000; en R50 000 kontant – moontlik gemaak deur Version 8 Media Group.
Die beskerming van jou handelsmerk: Alle finaliste ontvang ’n pakket van SteynIP (wenner: R150 000 vol portefeulje, R12 000 handelsmerkregistrasie vir finaliste). Die finaliste en beoordelaars kan ook uitsien na ’n keurige proe-ervaring wat aangebied word deur Rocket Distillery.
Maak gereed vir die ervaring van ’n leeftyd by vanjaar se AfriForum Sakenetwerk Entrepreneur van die Jaar-kompetisie!
Stem hier
"*" indicates required fields
KRITERIA & VOORWAARDES EN BEPALINGS
ALGEMENE KRITERIA
Die entrepreneur se ervaring moet ooreenstem met die tyd wat hy/sy in die bedryf of by die onderneming betrokke is.
Die volgende sal deur die beoordelaars op ’n skaal beoordeel word:
1. Die entrepreneur
- Die entrepreneur se rol in die onderneming.
- Dit is duidelik watter verskil die entrepreneur se betrokkenheid aan die onderneming maak.
- Die entrepreneur beskik oor die nodige ervaring en ondervinding om die onderneming suksesvol te bestuur.
2. Afrikaans
- Dit is duidelik dat die produk of diens ook in Afrikaans aangebied word.
3. Produk of diens
- Die produk of diens is mededingend.
- Die entrepreneur beskik oor ’n unieke produk of diens.
- Daar is ’n duidelike mededingende voordeel.
4. Toeganklikheid
- Maklike toegang tot die produk of diens.
- Die produk of diens is maklik toeganklik vir die teikenmark.
- Die produk of diens kan sonder buitensporige wagtye gelewer word.
5. Volhoubaarheid
- Die produk of diens spreek ’n werklike behoefte in die mark aan.
- Die entrepreneur het werkbare voorstelle om die onderneming volhoubaar te bestuur.
6. Groei
- Potensiaal vir uitbreiding
- Duidelike en realistiese uitbreidingsplanne
- Doelwitte vir uitbreiding is haalbaar
7. Finansiële beplanning
- Die entrepreneur verstaan die onderneming se kostes, inkomste en finansiële posisie.
- Die finansiële syfers is realisties.
8. Gebruik van tegnologie
- Tegnologie word effektief gebruik om die onderneming te bestuur en uit te brei.
- Sosiale media word effektief vir bemarking benut.
9. Bemarking
- Daar is ’n duidelike bemarkingsplan.
- Die bemarking is geskik vir die teikenmark.
10. Gemeenskapsimpak
- Die onderneming maak ’n verskil in die plaaslike ekonomie.
- Die produk of diens is plaaslik vervaardig en/of skep werk vir plaaslike mense.
INSKRYWINGSVEREISTE VIR 2026
Daar is slegs een kategorie:
- Die onderneming moet meer as 1 000 dae bestaan.
- Die onderneming moet reeds winsgewend wees.
- Die onderneming moet minder as 10 jaar in bedryf wees.
BEPALINGS EN VOORWAARDES
- Vorige algehele wenners mag nie weer inskryf nie.
- Vorige deelnemers wat in 2025 ’n finalis was (topvyf), mag nie inskryf nie.
- Direkte familie van AfriForum- of Akademia-personeel, of persone met ’n belang by hoofborge, mag nie deelneem nie.
- Inskrywings moet elektronies voor die sluitingsdatum ingedien word.
- Geen veranderinge aan ’n inskrywing ná die sluitingsdatum word toegelaat nie.
- Die beoordelaars se beslissing is finaal.
- Persoonlike inligting word volgens die POPI-wet verwerk.
- Deelnemers stem toe dat hul inligting vir borg- en bemarkingsdoeleindes gebruik mag word.
- Slegs een stem per persoon word tydens die publieke stemfase toegelaat.
- Stemknoeiery (byvoorbeeld manipulasie van e-posadresse, IP-adresse of selfoonnommers) kan tot diskwalifikasie lei.
Beoordelaars

Charl Oberholzer 
Juanita Vorster 
Kobus Galloway 
Jandré de Beer 
Rhona Erasmus








