Entrepreneur van die Jaar-kompetisie 2022: Hiér is die wenners

Mediaverklaring

7 Oktober 2022

AfriForum Sakenetwerk het op 28 en 29 September in samewerking met Akademia, Pretoria FM, Steyn IP en Kwikstert die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie by Seeplaas in Grootbrakrivier aangebied. Tydens dié spoggerige geleentheid is Bertha Lewis as wenner van dié kompetisie, wat vanaf 2017 aangebied word, aangewys.

Bertha Lewis is die eienaar van Lingi in Afrikaans. Lingi is ’n Afrikaanssprekende teddiebeer wat kinders van kleure, digbundels, stories en ledemate van die liggaam leer. Lewis is ’n oudioloog en spraakterapeut wat verseker dat kinders presies weet hoe om woorde korrek  aan te leer sowel as uit te spreek.

Tydens hierdie kompetisie het finaliste voorleggings aan ’n uitgesoekte paneel voorgelê. Die finaliste en beoordelaars is ook gevra om ’n wenner vir die toekenning van netwerker van formaat aan te wys. René Kleynhans, eienaar van Intiem Weddings in Pretoria, het dié eer te beurt geval. Sy het tydens Covid-19 besluit om vir paartjies die geleentheid te bied om klein troues te hou en vandag loop haar naweke van troues en kosmaak oor.

Die beoordelaars by vanjaar se kompetisie was Mia Louw (inhoudsregisseur van Winslyn), Annette Muller (hoof- uitvoerende beampte by Flexyforce), Elmarie Berry (eienaar van Berry Good Foods en mede-eienaar van Samesyn), Dr Johan Beukes (ondernemings-, lewens- en leierskapafrigter) en Marco van Niekerk (hoof- uitvoerend beampte van Outdoor Investment Holdings).

“Hoewel daar groot pryse op die spel is, is die kompetisie ook uniek danksy die platform wat dit aan die wenner bied. Die wenner se produk of diens word wyd op verskillende sosialemediaplatforms versprei, asook op nuusplatforms soos Pretoria FM, Maroela Media en Forum Tydskrif. Ons wil deur dié kompetisie plaaslike entrepreneurs aanmoedig en beloon. Ons sien hulle harde werk raak en harde werk is noodsaaklik om in Suid-Afrika suksesvol te wees. Die finaliste in vanjaar se kompetisie het weereens bewys dat Suid-Afrikaanse en veral Afrikaanse entrepreneurs geen einde aan kreatiewe vermoëns het nie,” sê Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk.

“Akademia is ’n trotse vennoot van dié Afrikaanse entrepreneurskompetisie wat elke jaar net nóg groter en beter word. Die kompetisie skep die ideale geleentheid vir entrepreneurs wat ’n publisiteitshupstoot nodig het en uitstekende advies van kundiges in die gebied wil ontvang. Ons sien uit om die kompetisie volgende jaar verder uit te bou en kennis met nóg entrepreneurs te maak wat ’n verskil in hulle gemeenskappe maak,” sê Mareli Swanepoel, projekbestuurder by Akademia.