Entrepreneursfokus: Aitsa! Eenvoudig stylvol in Afrikaans

Met ‘n eenvoudige dog stylvolle idee beantwoord Chantelle Meyer (29) en Lizca Engels (27) talle vrouens se eeue-oue vraag: “Wat kan ek aantrek wat gemaklik, stylvol, maar steeds uniek is?”

Die antwoord op dié vraag is ‘n reeks hempies wat by enige styl, liggaamstipe, houding en begroting pas. Hulle het Aitsa op 26 Julie 2019 op die been gebring en verskaf reeds vyf verskillende ontwerpe vir vroue asook ‘n “kabouter”-reeks sodat ma en dogter of ma en seun ewe spoggerig kan lyk.

“Elke hempie se ontwerp is uniek, en daar is iets wat by elke mens se persoonlikheid pas. Die doel was om ‘n hempie te maak wat vroue by enigiets kan dra en wat hulle vrolik en vroulik sal laat voel,” verduidelik Chantelle.

Aitsa is in Port Elizabeth gebaseer, maar die hempies is beskikbaar vir ‘n ieder en ‘n elk wat aanlyn wil kyk en koop. Die meesterbreine agter dié handelsmerk verduidelik dat hul grootste inspirasie en dryfkrag die begeerte is na ‘n voorkoms wat altyd trots Afrikaans is.

“Sekere goed klink net beter in Afrikaans!”

Groei- en leerproses: Van idee tot finale produk

Aitsa is nou al ‘n geruime tyd op die been, maar Chantelle en Lizca glo hulle kan nog baie bereik en sien dus uit na die toekoms. “Om ‘n nuwe besigheid te begin, is nooit maklik nie. Dit verg baie harde werk, maar as jy doen waarvoor jy lief is en ‘n passie het, is dit die geld, tyd en sweet werd,” vertel hulle.

Dié twee entrepreneurs se filosofie is om anders maar steeds relevant te wees. Hulle glo die volle koopproses is belangrik om die kliënt se vertroue en lojaliteit te wen: “Kliënte moet ‘n positiewe ervaring hê van die oomblik wat hulle ons webblad of Instagram besoek om ‘n hempie te kies tot hulle die boksie waarin die hempie verpak is oopmaak.”

Chantelle en Lizca het in die eerste jaar van Aitsa se bestaan duur maar belangrike lesse geleer. Een van dié lesse is kundigheid oor materiaal – hulle het gou besef duurder beteken nie noodwendig beter kwaliteit nie. Hulle het ook geleer hulle kan besnoei op elemente soos verpakking en steeds puik kwaliteit verseker.

“Dis vir ons baie belangrik om seker te maak ons gebruik die beste materiaal en drukwerk. Ons spandeer baie tyd om seker te maak elke hempie se ontwerp en materiaal is van ‘n hoë standaard. Unieke hempies van goeie gehalte is waarna ons streef!”

‘n Bestuurstyl waar kreatiwiteit floreer

Albei ontwerpers se kreatiewe vryheid dryf die onderneming. Hulle voer aan dat dit makliker is om iets te produseer waarop hulle trots is as dit nie soos in ‘n korporatiewe maatskappy deur ‘n lang besluitnemingsproses aan bande gelê word nie.

“Daar is meer vryheid om nuwe idees te toets en te implementeer. As die eienaars moet ons voortdurend beplan en verseker dat ons ons kliënte gelukkig hou. Ons is aanspreeklik vir alle besluite.”

Chantelle en Lizca vul mekaar goed aan. Die een is meer gefokus op kreatiewe innovasie en die ander behartig die administrasie. COVID-19 het hulle, net soos vir baie ander maatskappye, gedwing om weer na hul langtermynstrategie te kyk. Hulle het dus hul aanslag op sosiale media aangepas om meer verbruikersvriendelik te wees.

Aitsa se besigheidstrategie stem ooreen met hul ontwerpstrategie: om eenvoudig dog stylvol en relevant te bly. Hulle wil dus voortdurend nuwe ontwerpe bekendstel, maar nie die mark oorspoel nie. Daarom maak hulle staat op gereelde terugvoer van hul kliënte en slaan ag op wat die nuutste tendense in die mark is.

“Die ontwerp van ons produk tel definitief in ons guns. Eenvoudige T-hemde was nog altyd deel van die meeste dames en kinders se klerekas. Ons probeer ook ‘n element in elke hempie inbring wat karakter gee en inpas by verskillende persoonlikhede.”

Neem inspirasie uit die alledaagse

Die twee Aitsa-vennote dink daagliks hoe hulle hul besigheid nog ‘n stappie verder kan voer. Dit verg kreatiwiteit en innovasie.

“Ons moet aanhoudend aan nuwe maniere dink om ons kliënte se aandag te trek en te behou sodat ons hempies bo ander soortgelyke produkte gekies word.”

Hulle beklemtoon dat kreatiwiteit nie net die skryf van gedigte of kuns behels nie, maar ook probleemoplossing: “Om kreatief te wees, moet jy probleme kan oplos, met nuwe idees vorendag kom en ‘n visie hê vir die pad vorentoe. Dit gaan gepaard met innovering en die wyse waarop inspirasie uit die alledaagse lewe geneem word.”

Chantelle en Lizca glo almal word gebore met die potensiaal om hul kreatiewe denke en innoverende idees te ontwikkel. Met ‘n trots Afrikaanse Aitsa-hempie as begin is dit dalk net nog makliker!