Blogplasings

Die gesig van Deur die Blare Blomkuns is Alta Scott, ’n gebore Mosselbaaier, wat nie gestudeer het nie, maar ’n ewige student is.

Deur die Blare se ideale kliënt in die blommebedryf is familie en vriende wat vêr is en ’n middelman nodig het om hul geliefdes wat hier woon te bederf wanneer hulle self regoor die wêreld verspreid is. Ons is eintlik in die bederfbedryf, met blomme of geskenkboksies volgens die kliënt se behoeftes.

Deur die Blare is al ’n hele paar jaar aan die gang. Ek is self ’n bietjie “deur die blare” en aangesien ons met blomme en blare werk, was dit vir my so gepas en pret. Deur die Blare Blomkuns vorm dan vandag deel van Altarnatief wat laasjaar gebore is.

Altarnatief hou alles mooi “Altasaam” – dit het weer ’n storie en inspirasie van sy eie met o.a. die ontstaan van my naam Alta.

“Ek is maar “Altarnatief” en kom uit ’n “Altarnatiewe” familie en is ’n bietjie van ’n rebel; wil my eie ding doen en my eie reëls volg. Kreatiwiteit speel ’n groot rol en dat mens vir jouself nuwe uitdagings skep. Ek het met die inperkingstyd besef die belangrikste is om kreatief en positief te bly om ’n ekstra inkomste te genereer. Soos mens jouself beter leer ken, besef mens wat jy nodig het om die beste weergawe van jouself te wees. Om my hart en siel te volg, maak my gelukkig en dit is vir my regtig lekker om te kan gee.”

Deur die Blare lewer ’n hartlike, persoonlike en kreatiewe diens. As ek Altarnatief ook in oënskou neem, kom daar unieke produkte soos bv .die PENPêL, die pikkewyne-reeks, die Altasaam-reeks en die nuutste is, GraBag.

Die grootste struikelblok of uitdaging bly kapitaal of kontantvloei, veral as ’n enkelpersoon. Die enigste manier is om alles wat ek wil doen dag vir dag te neem. Twyfel in mens self kom loer natuurlik ook van tyd tot tyd in en die wonder of mens op die regte pad is, maar om positief, optimisties en dankbaar te bly, is die enigste oplossing. Alles is ’n geloofsprong en gelukkig spoel die see al jou bekommernisse af.

Alta rangskik al blomme vandat sy 20 is en het voorheen ’n blommewinkel saam met haar ouma besit. Dit is ’n werk en ’n inkomste, maar om blomme te rangskik is vir my “Alta” lekker en ’n manier om van myself te kan gee. Dis wonderlik om kliënte te verras, te bederf en gelukkig te maak. Deur die Blare en Altarnatief is gebou op “om te kan gee”.

Daar is baie planne, idees en drome!! Alta is in die proses om Deur die Blare se handelsmerk verder uit te bou met nog vele produkte geïnspireer deur ons blomontwerpe en kombinasies. Ons kan gevolg word op Facebook en Instagram.

Alta glo om eerder ’n geïnspireerde lewe te lei as ’n ambisieuse lewe. As mens geïnspireerd en entoesiasties is en bly, val baie dinge makliker in plek. “To be inspired is to be in Spirit”. Sy doen niks alleen nie. Al haar idees, kreatiwiteit kom van Bo! Altarnatief en Deur die Blare is totaal en al op ’n spirituele grondslag gebou. “As my onderneming suksesvol is, is ek en dan kan ek weer vir ander goed doen.”

“Passie, entoesiasme, opgewondenheid en opregtheid. Dis wanneer jy so mal is oor wat jy doen dat dit nie voel soos werk nie. En ’n groot dankbaarheid”, sê Alta.

“Ek is gelukkig en trots met wat ek tot dusver vermag het. Veral as ek terug kyk na waar ek was en waar ek nou is, staan ek verstom. Ek is verskriklik dankbaar vir die hulp, ondersteuning en lojaliteit van vriende, kollegas en kliënte. Daarsonder is mens niks. Al wat ek miskien sou wou verander, is dat sommige dinge vinniger gebeur, soos my webtuiste en ’n groter werkspasie.”

Balans. Alta dink dis uiters belangrik dat jy mal is oor wat jy doen! Sy hou nie van die woord werk nie. Dit voel na ’n swaar woord amper asof dit ’n straf is om werk toe te gaan.

Besoek Deur die Blare:

Klik hier om Deur die Blare se Facebook-blad te besoek.

Klik hier om Deur die Blare se webtuiste te besoek.

Klik hier om Deur die Blare se Instagram-blad te besoek.

 

Deel die artikel