Entrepreneursfokus: Andries Hendrik Potgieter
Die begin van ’n onderneming genaam Toerbroers
Ons het met die stigters van Toerbroers gesels om te hoor hoe hulle begin het met ’n droom tot waar hulle vandag is.
- Wat het jou geïnspireer om jou onderneming te begin?
Na jare in die sang en modelbedryf wou ek graag iets begin wat deel van ons ‘aftreeplan’ is, vir ons as gesin vreugde sal verskaf maar ook ‘n vaste inkomste sal genereer. Die idee was om ons passie vir toer in ‘n besigheid te omskep en dan die wêreld te sien terwyl ander saam met ons gaan. Min het ons geweet dit sou so ontplof. - Hoe het jy die idee vir jou besigheid gekry?
Ek, my broer, Wiaan en my vrou, Sya, het nog ons lewe lank getoer en was betrokke by baie natuurbewaringsprojekte. Ons aanhangers het altyd gevra hulle wil ook doen wat ons doen, maar ons het nooit regtig daaraan aandag gegee nie. Elke Oktober het ons ook Thailand toe gegaan en daaroor op ons sosiale media blaaie gepost. Flight Centre het ons een jaar genader omrede hulle navra die hoogte inskiet elke keer as ons in Thailand is. Hulle het voorgestel dat ons ‘n groep vat. Ons het toe ons eerste Phuket toer saamgestel en 20 sitplekke beskikbaar gestel. Dit is in 20 minute uitverkoop en daar is die saadjie geplant! Ons het toe begin om gaste na ons renoster onthorning naweke en 3 lande toere te vat. Ons het stukkie vir stukkie aan ons toerporftolio begin bou as die twee broers wat toer – dus, Toerbroers. - Watter struikelblokke het jy teëgekom toe jy begin het, en hoe het jy dit oorkom?
Die grootste uitdaging was om verbruikersvertroue daar te stel omrede die toerismebedryf een van die sektore is waar baie korrupsie betrokke is. Mense verloor gereeld geld op vakansies wat betaal word en dan hardloop ‘n agentskap met die geld weg. Ons gehoor het vertroue in ons as publieke figure, sangers en media kenners gehad, maar nou moes ons ‘n nuwe veld betree en ons staal wys. Ons moes dus klein begin en het ons sosiale media platforms gebruik om te wys dat wanneer ons ‘n toer adverteer, gaste opgedaag het en hulle het gekry wat hulle voor betaal het. Ons tweede grootste uitdaging was die Covid-19 pandemie. Ons toere vir 2020 was volbespreek toe die pandemie uitgebreek het maar ons het ongelooflike lojale gaste wat net hulle datums uitgeskuif het en nie gekanseleer het nie. Toe ons weer kon toer het ons seker gemaak ons het met plaaslike en internasionale verskaffers vir die beste pryse onderhandel. Ons kon toe dus pakkette beskikbaarstel wat bekostigbaar is en gaste kon afbetaal. Vir internasionale toere het ons ‘n venootskap met Lancet aangegaan waar ons gaste PCR toetse vir ‘n verlaagde prys by hulle kon doen en ons kon so ook groot groepe elke maand bv oor die Swaziland en Mosambiek grense vervoer. Terwyl ander maatskappye swaar deur die pandemie getref is, het ons seker 3 keer groter geword as voor Covid. Ons gaste het ons met goeie pryse, waarde vir geld en ongelooflike toere geassosieer. - Was daar ’n spesifieke oomblik toe jy geweet het jou besigheid sou suksesvol wees?
Ek dink mens twyfel nog elke dag, nie oor die sukses, maar of jy dit kan volhou as mens soms buite faktore soos die ekonomie in ag neem. Ek dink wel mens het die smaak van sukses gekry toe die toere wat jy begin uitsit vol bespreek, gaste hulle depositos betaal en natuurlik wanneer gaste weer en weer vir toere bespreek. Dis die grootste getuigskrif.
Die Onderneming Self
- Hoe sou jy jou besigheid beskryf aan iemand wat daarvan nog nie gehoor het nie?
Toerbroers is ‘n organisme wat heeltyd verander en groei, ons probeer nooit stagneer nie. Toerbroers is tans die grootste Afrikaanse reisagentskap in die wêreld maar ons het in 2019 ons eerste volwaardige tree in die bedryf gegee en sedertdien het ons die toerismebedryf binne Suid-Afrika omgekeer.
Toerbroers bied tans meer as 100 toere per jaar na dele regoor die wêreld aan wat selfs ‘bucketlist toere’ soos Alaska, Lapland, die gorillas in Rwanda en Serengeti insluit. Ons 30 000 gaste per jaar plaaslik en internasionaal insluit en hulle word almal in Afrikaans bedien.
Toerbroers spog met ‘n suiwer Afrikaanse toerisme kampus en 9 trek kampus venote wat geakkrediteerde opleiding gee in Toerisme, Wildsplaasbestuur, Dieregesondheid en Natuurkunde. Ons akkreditasie met Cathseta, Agrisetha, QCTO en SAQA word ook internasionaal erken. Ons fasiliteer ook die werksplasing van ons studente na meer as 300 verskaffers wereldwyd.
Die eerste Kyknet tv-reeks, Toerbroers Jou Toekoms, het vanjaar op die kassie verskyn en is vir nog 6 seisoene hernu. Die realiteitsreeks gee ‘n kykie agter die skerms van ons toerisme kampus, die opleiding wat die studente ontvang en hoe ons werksgeleenthede vir hierdie jong mense skep. Seisoen 2 word reeds in Oktober 2026 uitgesaai.
Toerbroers Finansies is al vir 3 jaar ‘n NKB kredietverskaffer wat rente vrye, lae rente en afbetaalopsies aan ons gaste en studente verskaf om hulle weer die geleentheid te gee om te reis of studeer.
Ons het ook gronde in Marloth Park ontwikkel met sy eie besigheidslisensie en die Toerbroers Mediese Kliniek bedien tans meer as 1800 inwoners van die omgewing.
Verder het ons natuurbewarings projekte oor die laaste 4 jaar nagenoeg R3.75 miljoen vir die bewaring van renosters, jagluiperde, leeus en olifante bewillig, die oorgrote meerderheid in die privaatsektor.
In ‘n baie kort tydperk het Toerbroers sy merk gemaak en ek weet dat ek die skoene van Entrepreneur van die Jaar kan volstaan.
2. Wat onderskei jou produk of diens van jou mededingers s’n?
Daar is baie ander reisagentskappe wat ook baie suksesvol is maar ons probeer jaar na jaar unieke toere vir ons gaste bied. Verder kan gaste ‘n deposito betaal en het tot en met 8 weke voor vertrek om hulle pakket te betaal. Die finansieringsopsie maak ons baie uniek in die sin dat ander reisagentskappe nie hierdie opsie het nie. Maar groter as dit, Toerbroers is ‘n familie en ons glo aan ‘n persoonlike aanslag. Ons reis in Afrikaans en ons gidse het ‘n persoonlike verhouding met ons gaste sodat hulle nooit alleen of verward voel nie. As jy eers deel is van die Toerbroers familie sal jy dit altyd bly.
3. Hoe betrek jy jou kliënte en bou jy ’n lojale kliëntebasis?
Ons grootste platform vir bemarking en interaksie is sosiale media en ons probeer elke boodskap en ‘comment/opmerking’ of navraag antwoord. Ons spanne is opgelei om kliente se navrae vinnig en akkuraat te beantwoord en elke vraag of kommer wat hulle het gerus te stel. Kommunikasie is van die grootste belang en ons kommunikeer gereeld sodat hulle nooit in die donker is nie, hulle weet altyd wat gebeur en beplan word. Ons as hoofspan en gidse gee persoonlike aandag aan elke gas op toer, hulle voel deel van die familie – een keer ‘n Toerbroers, altyd ‘n Toerbroer.
4. Wat was die grootste uitdagings wat jy onlangs in jou besigheid ervaar het?
Die meeste besighede sal hierdie nie as ‘n uitdaging sien maar vir ons is die feit dat ons teen ‘n geweldige spoed groei ‘n ‘goeie’ probleem. Ons moes meer administratiewe persooneel, gidse en kampus personeel aanstel. Bowenal moet ons seker maak dat ons nie te korporatief raak dat ons die Toerbroers aanslag van familiesein verloor nie.
Groeiproses
- Hoe het jou besigheid mettertyd gegroei? Watter strategiese besluite het jy geneem om groei te verseker?
Met die toere het ons ‘n groter verskeidenheid van toere daargestel en steeds probeer om dit so bekostigbaar as moontlik te hou. Dit help nie om jou wins vir die jaar met een toer te maak. Bied eerder 4 verskillende toere aan en maak steeds jou geld. Ons het ook besluit om die Toerbroers Finansies opsie daar te stel sodat ons gaste die geleentheid het om hulle toere maandeliks deur middel van finansiering af te betaal wat ‘n baie goeie skuif was. Ons Kampus het baie vinnig tot stand gekom maar om dit met die Kyknet televisie reeks te kombineer het vir ongelooflike bemarking gesorg wat beteken dat ons klasse vir 2026 reeds uitverkoop is.
2. Hoe balanseer julle innovasie met die behoud van jou kernwaardes?
Ons moet ons self net elke dag herhinner dat Toerbroers ‘n familie besigheid is waar ons gaste ‘n tuiste vind en net agteroor kan sit en hulle toere kan geniet.
3. Watter foute het jy gemaak, en wat het jy daaruit geleer?
Aan die begin het ons byvoorbeeld nie ‘n kansellasiebeleid gehad nie en dis iets wat baie belangrik is vir ‘n reisagentskap. Ons het dit binne die eerste 6 maande besef en reggestel. Ook het ons geleer dat ons hoef nie altyd die eerste prys wat verskaffers vir ons gee te aanvaar nie. As jy die voete bring, het jy die koopkrag as te ware om seker te maak jou gaste kry die beste pryse.
4. Hoe hanteer jy risiko in jou besigheid?
My agtergrond is besigheids ontledings bestuur, dus is dit maar deel van my daaglikse bestaan om altyd die risiko van elke fasset te evalueer.
Leierskap en Span
- Hoe sou jy jou leierskapstyl beskryf?
Ek is ‘n mense mens en wil graag hê my span moet soos familie voel. ‘n Plek waar hulle veilig is maar ook waar hulle avonture beleef en hulself kan uitleef. Ek is baie streng, is ‘n voorstander van orde maar ek gee ook my span hulle kreatiewe spasie om hulle karakters en passie uit te leef.
2. Wat is vir jou belangrik wanneer jy ’n span bou?
Dis belangrik dat elke persoon weet waar hy in die prentjie pas en hoe hy/sy moet saamwerk om sukses te verseker.
3. Hoe inspireer en motiveer jy jou werknemers?
Ek probeer hulle deur my eie voorbeeld te inspireer. Ek sal nooit iets van hulle verwag wat ek nie self voor kans sien nie. Daar is ongelooflike groei ruimte binne Toerbroers en gidse byvoorbeeld word aangemoedig om met hulle eie toere vorendag te kom. Hulle sit dit dan bymekaar, beplan dit en moet dit ook aanbied. Vir daardie toere of besigheidsidees kry hulle dan kommissie bo op hulle normale salaris.
Hoe hanteer jy uitdagings binne jou span of organisasie?
Ons is ‘n baie oop, eerlike en reguit span. As iets pla of krap, praat ons daaroor, sorteer dit uit en beweeg aan.
Die Toekoms
Wat is jou langtermynvisie vir jou besigheid?
Toerbroers het reeds vertroue gewen in ons gemeenskap in terme van opvoeding, reis, natuurbewaring en meer. My droom is om die besigheid nog verder te ontwikkel dat dit die huis word waar Afrikaanse kultuur nie net kan rus en leer nie, maar ook ‘n dryfveer sal wees vir werkskepping, hetsy in Toerbroers self of deur middel van venootskappe wat ons deur ons groeiende voetafdruk skep. Dit is vir my belangrik om ‘n werksmag te bou binne toerisme wat nie afhanklik of blootgestel is soos baie van die ander industriee in die land nie. Toerisme het soveel geleenthede, jy moet net wakker en gereed wees. Ons word nie gebind deur sekere regulasies wat ander sektore onder gebuk gaan nie. Met ons kwalifikasies kan ons in die buiteland of binne SA se grense werk, ongeag van ons velkleur of kultuur. My hoop is om ‘n groter werksmag daar te stel omrede ons self die industrie kan hardloop, besit of bestuur.
Watter rol speel tegnologie in jou besigheidsplanne vir die toekoms?
Ons maak meestal van sosiale media gebruik om met die publiek te kommunikeer en te bemark dus moet ons altyd op hoogte van die nuutste tendense wees. Ons weet dat AI ook binnekort ‘n baie groter rol gaan speel in bemarking en ons is al klaar besig om dit te inkorporeer.
Hoe bly jy relevant en mededingend in ’n vinnig veranderende mark?
Ons luister na ons gaste en kliente, dis belangrik om nooit voeling met hulle te verloor wat die pot aan die kook hou nie.
Wat is jou volgende groot doelwit, en hoe beplan jy om dit te bereik?
Ek is reeds besig met die beplanning en implementering van my volgende doelwit en dit is om genetika te teel onder verskillende wildsoorte vir eco-toerisme. As die Here my spaar sal die proses teen Februarie 2026 begin uitrol. Ons sal dan op ons nuwe Toerbroers Genetika Kampus nie net witflank en ‘dabble’ rooibokke ontvang vir teeldoeleindes nie, maar ook studente van regoor die wereld lok om in genetika praktiese opleiding te ontvang. Ons permitte is reeds in plek en ons is besig om nuwe studente behuisings eenhede, kampe, vanggange en meer te bou.
Persoonlike Reis
Wat het jou entrepreneursreis jou oor jouself geleer?
Mens hoef nie bang te wees of terug te staan nie. Wees net jouself en gee jou beste. Jy gaan ook nooit almal tevrede stel of sonder kritiek kan beweeg nie. Ons werk met mense maar solank as wat jy weet jy het jou 110% gegee is dit genoeg.
Hoe balanseer jy werk en persoonlike lewe?
As jy jou eie besigheid het, veral een waar jy meeste weke van die jaar nie by die huis is nie, is daar nie regtig ‘n balans nie. Maar wanneer jy doen waarvoor jy lief is, is die balans nie regtig ‘n prioriteit nie. My vrou werk saam met my aan die besigheid en dis soos ons kind, ons weet hoekom ons dit doen en daarom gee ons, ons alles.
Watter advies sal jy gee aan aspirant-entrepreneurs?
As jy sewe keer val moet jy agt keer opstaan
Watter impak hoop jy om op jou gemeenskap of bedryf te hê?
Ons grooste begeerte is om vir mense die geleentheid te gee om hulle drome te laat uitleef, of dit nou is om na ‘n nuwe land te reis of om hulself in toerisme op te lei, ons wil deel wees van daardie avontuur.
Slotsom
Wat is die beste raad wat jy ooit gekry het, en hoe het dit jou besigheid beïnvloed?
Die beste raad wat ek al ooit gekry het was ‘Just show up / Daag net op’. Al voel jy moeg, bang of onseker, solank jy opdaag het jy die stryd halfpad gewen.
As jy enige deel van jou reis kon oor doen, wat sou jy anders gedoen het?
Ek glo nie ek sal iets verander nie want elke pad wat mens neem of fout wat jy gemaak het, het jou ‘n les geleer en gebring waar jy vandag is.
Hoe wil jy hê mense moet jou besigheid en jou nalatenskap onthou?
Toerbroers se motto is; om te reis is om jouself te vind. Ek sal graag wil he mense moet onthou hoe lekker dit was om in Afrikaans nuwe grondgebiede te verken, nuwe vriendskappe te smee en meer van hulself te leer. Ook dat met al jou reise besef jy dat Suid-Afrika nog steeds die beste plek is om te bly. Ek wil hê hulle moet onthou dat ons ook ‘n hart vir diere gehad het en dat ons oor die skepping aangestel is om hulle te beskerm. Vir Toerbroers Kampus is ons droom dat daar een dag ‘n magdom jongmense is wat binne die toerisme veld hulle voete gevind het en ‘n nuwe generasie van leiers is wat vir ‘n toekoms werk.








