Entrepreneursfokus: Anneke Joubert – Bouter Happies

Anneke Joubert se kennis van kos was beslis die inspirasie vir die totstandkoming van Bouter Happies se voedsame reeks. As sjef en dieetkundige was sy opsoek na vinnige en maklike kosopsies wat steeds gesond is vir haar eie dogter. Toe haar dogtertjie maar ses maande oud was, het Anneke begin om gesonde kos vir haar voor te berei. Die aanvanklike moeite het uiteindelik gelei tot ’n volwaardige besigheid. Volgens Anneke is veral hul gesonde kitsnoedels en hul baba- en kleutervriendelike speserye baie gewild.

Bouter Happies se missie is om gesonder kitskosopsies te bied vir vandag se besige ouers, sodat ouers weet wat hul kinders eet sonder om hulself ure voor die stoof af te sloof. Hul noedels kom in verskeie geure, onder andere “wortel en pampoen” en “groen mamba” wat ’n kombinasie van spinasie, murgpampoentjies en ertjies is. Dié noedels kan gegeur word met hul eie reeks speserye en bevat geen bygevoegde suiker, sout of preserveermiddels nie.

Ander items in die reeks sluit in:

  • Brekkie spice-speserye
  • Popeye spice-speserye
  • Rainbow flakes-speserye
  • Just BEET it-speserye
  • Keep calm and carrot on-speserye
  • Soetpatatbruintjies
  • Suikervrye koekies
  • Hoenderhappies
  • Gesonde pizzabasisse
  • ’n Verskeidenheid babakosse
  • Hoenderrisotto
  • Kitshawermout
  • Biltong
  • Spiertier- vegetariese proteïenpoeier
  • Koeskoes met beet en spinasie

Anneke se rede vir die stigting van haar besigheid was baie persoonlik – sy wou seker maak daar is ’n gesonde kitsopsie vir haar eie dogtertjie se ete. Haar besigheid het egter vinnig gegroei en vir Anneke is daar niks beter as om in die oggend haar rekenaar aan te skakel en ’n klomp bestellings in haar e-pos te sien nie. Bouter Happies verskaf aan ’n reeks winkels en hul koerier ook landswyd aan kliënte wat aanlyn bestel. Anneke se droom is om haar produkreeks uit te brei en ook haar produkte in kettingwinkels te versprei.

Vir Anneke was een van haar groot inspirasies Marita Bezuidenhout wat die gesonde kosreeks Magies vol Liefde begin het. Anneke wou graag vir haarself werk en het verskeie idees uitgedink en getoets om te kyk of iets vir haar ’n inkomste kan genereer. Om haar eie besigheid te begin het haar in staat gestel om meer tyd saam met haar kinders te spandeer – veral terwyl hul nog klein is. Met die groei van haar besigheid voel Anneke geseënd dat dit werklik ’n voltydse werk geword het waarna sy elke oggend kan uitsien!