Entrepreneursfokus: Corné Sassenberg – Padstal Winkel

Padstal Winkel is nog splinternuut. Hulle het in November 2019 naby The Grove Mall in Lynnwood, Pretoria oopgemaak. Corné Sassenberg het dié oulike winkel begin as ’n uitlaatklep vir sy passie om te skep. Hy verwys na homself as so ’n bietjie van ’n DIY-entoesias wat nie net opgewonde raak oor die eindresultaat nie, maar ook oor die kreatiewe proses.

Padstal Winkel stel unieke, eg Suid-Afrikaanse produkte op hulle rakke beskikbaar. Corné wil graag hê kliënte moet in die winkel rondsnuffel vir produkte wat hulle nie sommer in enige ander winkel sal opspoor nie. “Ek wil ook graag ’n gevoel vasvang in ons winkel, ’n stukkie platteland hier in die stad waar almal welkom voel en jy met die instap so tuis voel soos in ’n groot ou plaaskombuis.” Corné bereik sy doel met ’n verskeidenheid produkte van hoë gehalte – van ingelegde lekkernye, konfyte, balsamiese reduksies en asyne tot olyfprodukte, speserye en lekker brandsouse.

By Padstal Winkel kry jy sommer met die intrapslag ’n smakie van die land se heerlike geure. Daar is olyf-sjokolade-salami van die Darling-kontrei en kersieroomyssous van die Constantia-kersieplaas naby Clocolan in die Vrystaat. Tussen al die lekkernye is daar ook handgemaakte leerprodukte en ’n verskeidenheid geskenke.

As inkopies nie heeltemal in jou smaak val nie, kan jy ’n heerlike ontbyt, middagete of aandete in Padstal Winkel se restaurant geniet. Op die spyskaart is tradisionele Suid-Afrikaanse geregte, en jy kan dan selfs ’n vuurtjie aansteek terwyl julle na lekker musiek van bekende plaaslike talent luister.

Om die Padstal Winkel te begin, was vir Corné ’n groot sprong. Hy sê hy het oor die laaste jaar geleer om kanse te waag en op die Here te vertrou. “Sy genade sal jou wys wat is die beste benadering en die regte pad. Met jou eie besigheid, het ek gevind, leer jy konstant en wonder jy gereeld oor jou besluite. Wanneer dit gebeur, is dit ’n saak van gebed, die enigste opsie waarop jy volkome kan vertrou.” Corné se droom is deur sy familie geïnspireer. Veral sy ma moedig hom voortdurend aan en ondersteun hom. Sy het hom ook die waarde van nederigheid geleer.

Padstal Winkel se toekomsplanne is om hulle aanlyn winkel uit te bou, veral noudat aanlyn verkope tydens die staat van inperking so toegeneem het. Corné meen alle voornemende entrepreneurs wat aanlyn wil bemark en verkoop, moet goeie opleiding oor sosiale media kry. Op sy moet-doenlysie is Kat Coroy se Instagram Makeover wat kliënte leer om beter Instagram-plasings te maak om hul kliëntebasis uit te brei.