Blogplasings

Elzabeth van der Bijl is die eienaar van Fynbos SA en glo in mode en vroulikheid.

AfriForum Sakenetwerk het die geleentheid gehad om ’n pad saam met Elzabeth te stap aangesien sy as die Entrepreneur van die Jaar bekroon is vir ondernemings wat minder as sewe jaar handeldryf.

Elzabeth sê dat haar ouma, Betsie Schoeman, een van die stylvolste vroue was wat sy ooit geken het. “Sy het geweet hoe om te kook, te versorg en lief te hê. Sy het ook geweet van ‘met ’n ysterhand regeer’, maar kon met ’n teer hand (en ’n stuk koek) die hartseer wegvee. Selfs deur haar stryd met kanker was haar vroulikheid en styl iets wat uitgestaan het.” Haar ma San-Marie en haar ouma Betsie is Elzabeth se grootste inspirasie en ’n groot rede vir die motivering en aanpak van al die uitdagings wat hand aan hand met Fynbos gaan.

“Wanneer het vroue ophou rokke dra? Wanneer het ons besluit dat dit ‘koeklik’ is om net eenvoudig ‘mooi’ te lyk? Sien, mode is nie altyd mooi nie. Mooi is nie altyd koeklik nie. Sexy is nie altyd stylvol nie, maar stylvol is altyd sexy.”

“By Fynbos is ons ‘vreesloos vroulik’. Ons is nie bang of skaam vir emosies en oorreageer en kurwes nie. Ons is vrou en trots daarop. Verder glo ons in styl, meer as mode. Ons glo elegansie is tydloos. Ons glo in sagte lap, vroulike patrone en vlyende snitte. Ons glo dat kleredrag wat vroulik en stylvol is, ’n baie sterker indruk maak (en laat) as die nuutste mode wat mense laat koppe draai en verward agterna staar. Ons glo in help mekaar, al sien niemand nie. Ons glo in fyn koppies en fyner onderklere. Ons glo in koek eet en tee drink en giggel en bloos. Ons glo in vrouwees.”

Elzabeth sê dat entrepreneurskap eerstens vir haar beteken om oor ’n paar spesifieke eienskappe te beskik. “Entrepreneurs is mense wat oorspronklik kan dink, kreatief is, nie bang is om ’n kans te waag nie, wat onafhanklik van ander kan werk en vasbyt wanneer dinge moeilik raak.” Sy glo om suksesvol te wees en nie weg te raak in ’n see van onafhanklike ondernemings nie, moet jy weet hoekom jy dit wil doen.

“Ons leef in ’n wêreld waar mense geneig is om net saam met die stroom te swem en nie regtig op te staan vir dit waarin hulle glo, of die beginsels wat vir hulle belangrik is nie … jy en jou onderneming moet bereid wees om teen die stroom te gaan, jy moet staan vir iets en daardie boodskap uitstraal en uitleef. Jy moet weet wat jy wil doen, maar ook weet hoekom jy dit wil doen, om dit volhoubaar en suksesvol te kan uitvoer. Om vooraf te besluit waarvoor jy staan, hoekom jy dit wil doen ensovoorts maak ook dat ons gefokus kan bly op ons missie en doel en help dat jy (eerstens) nie afdwaal omdat jy heeltyd oor jou skouer kyk na wat ander doen nie, maar ook dat jy minder kwesbaar is vir mense wat jou idee gaan wil steel: Mense hou van opregtheid en koop/ondersteun tot ’n groot mate by iemand, nie net by ’n onderneming nie. So as jy vasstaan en opreg is, sal mense dit raaksien en jou ondersteun, selfs al blaas die kompetisie in jou nek.”

Sy glo dat bo enigiets anders, moet ’n suksesvolle entrepreneur bereid wees om ontsettend hard te werk (gewoonlik sonder enige erkenning), in hulself glo en onthou dat dit eintlik als net genade is. Harde werk is dalk nie altyd genoeg nie, maar genade is.

Fynbos

Vreesloos vroulik

 

Deel die artikel