Blogplasings

Erik du Preez het My Recipe Room in Oktober 2017 begin met die oog daarop om sy kreatiwiteit uit te leef in die skepping van sy produkte. Die onderneming vervaardig gourmet soutmengsels wat nie net heerlik is nie, maar ook boonop vry is van sowel MSG as kleurstof. Erik is ’n toonbeeld van die deursettingsvermoë wat entrepreneurs aan die dag moet lê. Hy het die onderneming met feitlik geen aanvangskapitaal uit sy tannie se huis begin nie en het aanvanklik sy unieke soute uit sy voertuig verkoop. Nou, nog nie eers drie jaar later nie, het Erik al meer as 300 000 bottels sout verkoop!

Erik glo wat sy onderneming uniek maak is die feit dat hy vir ondernemings sout meng wat by hulle logo of korporatiewe kleure pas. Hy noem dat hy byvoorbeeld vir DHL, die koeriermaatskappy, ’n pynappel-en-kersiesout gemeng het met hul eie etiket wat dan as korporatiewe geskenk aan hulle kliënte uitgedeel is. Aangesien elke kliënt ook sy eie etiket kan kies, is die produk ook ’n wenner as geskenke vir gaste wat troues bywoon. Erik glo een van die faktore wat beslis tot sy sukses bygedra het is dat hy nooit nee sê vir klein bestellings nie. Dít, goeie kliëntediens en gehalteprodukte het bygedra tot die ongelooflike groei wat Erik oor die laaste drie jaar ervaar het.

Die grootste inspirasie en beste mentors in Erik se lewe is sy ouers, Pieter en Elsa du Preez. Sy ouers se motivering het Erik gedryf om die suksesvolle entrepreneur te word wat hy vandag is. Erik gee ook eer aan God vir inspirasie en hulp op sy entrepreneurspad. “Alles kom neer op die Skepper, Hy sal nie planne en drome by jou laat opkom as Hy nie wou hê jy moet daarmee woeker nie. Ek bid en hoop dat die manier waarop ek my besigheid bedryf mense sal beïnvloed.” Sy advies aan ander entrepreneurs is om aan te hou woeker en op verkope te fokus. Verkope is die belangrikste aspek van enige onderneming en volgens Erik sal alle ander logistieke probleme in plek val.

Die toekoms van My Recipe Room is blink. Erik droom daarvan om ’n interaktiewe webtuiste te skep waarop sy kliënte hul eie soute kan meng met hul gunstelinggeure en -bestanddele. Elke kliënt sal dan ook sommer op die webtuiste hul eie etikette kan ontwerp wat dan vervaardig, verpak en versend sal word. Erik droom ook daarvan dat kosliefhebbers van reg oor die wêreld met mekaar in kontak kan kom op sy webtuiste. Dié droom is bewaarheid danksy die ontwikkeling van ’n toepassing wat besoekers toelaat om hul eie resepte te skep en met ander te deel. Hou ook My Recipe Room se webtuiste dop vir nuwe produkte wat in die pyplyn is, want Erik du Preez droom groot!

 

Deel die artikel