Entrepreneursfokus: Jan die Toffieman van New Beginnings

Jan Snyder en sy vrou is die enigste klein besigheid in Suid-Afrika wat nog regte, handgemaakte toffies volgens ’n tradisionele Engelse resep maak. Jan en sy vrou maak al toffies in Centurion van 2009 af nadat hy sy werk verloor het. Hy was vir 35 jaar lank ’n bestuurder en het ’n MBA-graad verwerf maar na die verandering in omstandighede moes hy noodgedwonge ’n besigheid begin om ‘n inkomste te genereer. Jan som dit goed op, “in Suid-Afrika begin jy dikwels ’n besigheid vir een van twee redes, omdat jy jou werk verloor het of omdat ‘n stokperdjie lonend word.”

New Beginnings maak eksklusiewe toffies en sjokolade karamels met unieke reekse wat biltong, spek, olywe, sout en peper, wynverweefde en selfs mengeldrankie-reekse insluit!

Moeilike tye en BEE

Jan is eerlik oor die uitdagings wat hy beleef. Behalwe dat hy gesukkel het om werk te kry weens breë-basis swart ekonomiese bemagtiging, sê hy dat die regering se onvermoeë om klein besighede gedurende die koronavirus-tydperk by te staan, ’n groot impak op hulle besigheid het. Terugskouend sê Jan hy wens hy het meer kapitaal opgebou voor hy die besigheid begin het, dit sou hom ook meer tyd gegee het om die mark toe te tree as hy ’n ekstra jaar of twee nog kon aanhou werk. “Entrepreneurskap beteken jy bedryf ’n besigheid met ‘n hoë risiko faktor om ‘n wins te maak. So jy moet waag om te wen en soms loop dinge lelik verkeerd,” sê Jan.

Uit moeilike tye kom daar egter weer nuwe geleenthede en Jan beplan om sy besigheid na Orania te skuif en met ’n nuwe pekaneut-reeks weg te spring. Die besigheid se naam is nie verniet New Beginnings nie!

Advies vir ander entrepreneurs

New Beginnings het al die ervaring wat hulle nodig het, met die Vryfees-toekennings wat hulle die afgelope jaar gewen het en hulle unieke sjokolades wat orals ’n treffer is, is daar twee brokkies raad wat hulle vir ander entrepreneurs het. “Sorg dat jou boekhouding van die begin af reg gedoen word, want niemand gee vir jou geld as jy nie kan wys hoe jy besigheid doen nie. En tweedens, dink groot, jou doel moenie net wees om ’n bestaan te maak nie, maar om groot te gaan!”

Hy stel ook voor entrepreneurs doen ’n kursus in strategiese bestuur, kry hulp met die administrasie van die besigheid en kyk soveel moontlik opleidingsvideos op Youtube oor hoe om sosiale media te gebruik.

Weet waarheen jy gaan

Jan kry inspirasie by Mark Lamberti, Uitvoerende hoof van Massmart. “Hy het sy doelwitte en waardes op 30 vasgestel en vir 20 jaar nooit daarvan afgewyk nie. Weet waarheen jy wil gaan en moenie afwyk van daardie pad nie. Mark het altyd gesê: ‘As jy nie weet waarheen jy gaan nie, sal enige pad jou soontoe neem,’ “ sê Jan.

New Beginnings is gekenmerk deur keer op keer ’n nuwe begin te kan maak. Die drie grootste faktore vir New Beginnings se sukses is uithouvermoeë, konstante innovering en om deurentyd hulle netwerk uit te brei. Korona of nie, New Beginnings is reeds besig om beleggers te soek vir ’n lekker-produk wat grootmaat verkoop sal word en groot volhoubaarheid kan skep vir die besigheid. So as jy daardie belegger is, praat met Jan die Toffieman!