Entrepreneursfokus: Francois Prinsloo – Agri-Boost

Francois Prinsloo wou nog altyd boere help. Sy oupagrootjie het drie plase in die Noord-Kaap gehad en dít is waar Francois se liefde vir die plaaslewe begin het. Sy 13 jaar lange rugbyloopbaan het hom ook laat besef as jy dissipline het, val dinge altyd in plek. Francois geniet die buitelewe hopeloos te veel om in ’n kantoor te sit. Daarom het hy Agri-Boost in die Paarl begin om boere te help om hulle oeste en opbrengste te vergroot – en dít met ’n produk waarop hy reeds vyf jaar terug afgekom het.

Agri-Boost – ’n drie-in-een

Agri-Boost is ’n bekostigbare, hoë kwaliteit, drie-in-een organiese kunsmis. Maar Francois sê die besigheid bestaan uit veel meer as net die produk. Hulle lewer ook advies oor die voorbereiding van die grond voor en gedurende die plantseisoen en oor die toediening van die kunsmis. Agri-Boost doen wat min besighede in dié bedryf regkry: Hulle lewer die produk direk by die boer af.

Hoe het Agri-Boost ’n kompeterende voordeel geskep?

“Ons mark is grotendeels boere, maar ook enigiemand wat graag vrugte, sitrus, avokado’s of gras plant,” sê Francois. Hy reken wat sy produk uniek maak, is dat Agri-Boost dit in verskeie volumes teen ’n bekostigbare prys kan lewer: 250 mℓ, 1 ℓ, 5 ℓ, 25 ℓ en 1 000 ℓ. Die produk bevat proteïne, ’n groeistimulant en wortelvoeding. Boere betaal nie net minder nie, maar kry ook meer waarde.

Moenie die klein goedjies onderskat nie

Francois vertel hoe hy al 100 km moes ry om 1 ℓ Agri-Boost af te lewer. “Maar ‘n mens moenie die klein goedjies onderskat nie,” sê Francois. Hy het ’n eenvoudige doelstelling: om boere se lewens te verbeter, en as die boer gelukkig is, is hy gelukkig. Francois bewys ook dat dié beginsel vrugte afwerp – hulle blootstelling het die afgelope ruk drasties gegroei en die positiewe terugvoer van boere af is oorweldigend.

“Wanneer die einddoel uitdagend lyk, fokus ons net op wat hierdie week moet gebeur. Wanneer ons moedeloos raak oor al die werk, dan word ons weer gemotiveer deur ons einddoel,” sê Francois.

Drie resepte vir sukses

Hier is die drie groot redes waarom Francois dink hulle sukses behaal het:

  • Goeie verhoudings hou ’n mens sterk. ’n Goeie verhouding met God vir wysheid en leiding en ’n liefdevolle gesin wat jou help om te herlaai, is al wat nodig is!
  • Betroubare verskaffers help jou om ’n konsekwente diens te lewer sodat kliënte altyd ’n vaste standaard kan verwag.
  • Leer uit jou foute. As jy met integriteit besigheid doen, gaan jy ook bereid wees om uit jou foute te leer.

Inspirasie

Francois put sy inspirasie uit ’n lang lys mentors en hulpbronne. Hier is ’n paar wat hy aanbeveel:

  • Die leierskapskrywer John Maxwell en die bekende spreker Jim Rohn het hom geleer dat jy nie net sakevaardighede nodig het nie, maar ook lewensvaardighede.
  • Geestelike leiers soos Angus Buchan en Joyce Meyer.
  • Jody Aufrichtig wys dat enigiets moontlik is as jy energie daaraan afstaan.
  • Die boek The richest man who ever lived: King Solomon’s secrets to success, wealth, and happiness deur Steven K. Scot.
  • Die boek Live the let go life: Breaking free from stress, worry, and anxiety deur Joseph Prince.

Francois verkoop nie net Agri-Boost nie, maar tree ook op as mentor vir talle boere en ander individue wat meer vervulde lewens wil lei. Sy grootste inspirasie is sy pa, Johan Prinsloo, wat van 1984 tot 2007 Eskom se elektrisiteitspesialis was en wat hom geleer het: “Integriteit kom altyd eerste. Doen dinge reg en eerlik. Lewe vir die nou.”