Entrepreneursfokus: Johnny Hexburg – liplekker brandrissiesouse

Die liplekker souse en soute het in September 2016 begin by ’n plaaslike mark met die oog op deli-produkte, banting-produkte, suikervrye lekkernye en natuurlik hulle bekende brandrissiesous. Derek en Marihett Bredenkamp se inspirasie vir die ontwikkeling van hulle unieke reeks was die behoefte om vir hulself te werk en die droom om iets te bou wat hul vir hulle twee kinders kan nalaat. Daardie eerste mark in 2016 het ’n goeie aanduiding gegee waarna Johnny Hexburg se kliënte smag en het hulle vierkantig in die brandrissiesousmark geplaas. Gedurende die laaste vier jaar het dié klein besigheid gegroei weens een kernwaarde – ’n fokus op goeie kliëntediens.

Die sous- en produktereeks se unieke naam het ’n oulike herkoms. Die paartjie se oudste seun, wat nou 11 jaar oud is, het op die ouderdom van drie ’n denkbeeldige maatjie gehad met die naam Johnny Hexburg. Vandaar was die naam Johnny Hexburg deel van die Bredenkamp-familie. Met die totstandkoming van die souse-reeks het Derek en Marihett toestemming gevra om dié naam te gebruik vir hulle reeks. Nou help hy ook self by markte om die reeks, wat sy denkbeeldige maatjie se naam dra, te bemark.

Die paartjie glo ook in die ontwikkeling van nuwe produkte. Dit is ook vir hulle belangrik om iets nuuts vir bestaande kliënte beskikbaar te stel. Dit hou hulle produkte nuut, vars en relevant vir hul mark. Die reeks bestaan nou uit ’n wye verskeidenheid produkte wat die brandrissiekenmerk dra, van brandrissiefudge tot chipotle-heuning. Hulle vind inspirasie by groot name in die kosbedryf soos Ina Paarman. Hulle glo mentors in enige industrie is uiters belangrik vir die groei van enige entrepreneur.

Derek en Marihett se geloof in hulle produk en hulle uitstekende diens het oor die laaste paar jaar vrugte afgewerp. Kliënte van regoor die wêreld eet reeds hulle bekende souse. Johnny Hexburg-souse word na Duitsland uitgevoer en deur die hele Europese Unie versprei nadat een toeris hulle souse geproe het. Hulle is ook tans in gesprek met verspreiders in Engeland, die VSA en Australië om hulle souse in dié lande beskikbaar te stel. En net om te bewys dat die paartjie hulle brandrissiesouse ken, is hulle ook onlangs gekies om as beoordelaars vir die Global Hot Sauce Awards op te tree.

Ten spyte van die internasionale bekendheid van Johnny Hexburg-souse word die besigheid steeds tuis bedryf. Die toekomsplanne is om die heerlike souse en byprodukte aan ’n groter mark beskikbaar te stel. Hulle droom ook reeds van ’n groter werksperseel met ’n fabriekswinkel op die perseel waar kliënte enige tyd van die week hulle hand op die heerlike souse kan lê. Johnny Hexburg is beslis op pad om ’n vriend in elke huis te word!