Blogplasings

AfriForum Sakenetwerk het die geleentheid gehad om by Koekies en Klitsers te gaan kuier en meer te leer oor wat hulle doen, hoekom hulle dit doen en wat vir hulle die lekkerste is van entrepreneurskap.Tanya Jacobs, eienaar van Koekies en Klitsers, sê dat opgewondenheid, trots en dankbaarheid haar gevoel teenoor Koekies en Klitsers beskryf.

Lees meer oor Koekies en Klitsers.

Wie is jul ideale kliënt?

Ons ideale kliënt is enige iemand wat uitsien na ’n heerlike en ongelooflike mooi temakoekie vir elke spesiale geleentheid. Van troues tot Kersfees, jy gee die idee, en ek maak jou koekiedrome waar. Dis natuurlik ook nie NET koekies nie, maar ook kolwyntjies, groot koeke en meer wat gebak word!

Wat is die geskiedenis van die onderneming?

Dit het alles begin by die outydse koekies wat my liefste man saam werk toe geneem het. Mense wou bestel, en ek wou bak! Ek het deur ’n moeilike swangerskap gegaan en ek kon nie werk nie, maar stilsit en bedrus was ook nie juis my sterkpunt nie, en so het ek maar in die kombuis begin speel met my ouma se resepte. Alles nog in onse en ponde. Wonder bo wonder het dit heerlik uitgekom en almal wou bestel. Van daar af het mense al hoe meer gevra oor temakoekies, koeke en so meer. En ek het my nie laat stuit nie. Hier is ek nou sewe jaar later en het meer hoogtes bereik as wat ek ooit verwag het. Jesus het my ’n passie gegee vir bak en suikerkuns, en ek geniet elke oomblik daarvan.

Is jul meeste verkope aanlyn of in ’n winkel?

Meeste van my bestellings kom van verwysings af. Ek adverteer nooit op sosiale media nie, omdat ek reeds so baie bestellings inkry net van verwysings. Van daar af word elke bestelling, groot en klein, vars gebak in die kombuis, versier, mooi verpak en afgegee of gestuur met koerier na die kliënte.

Wat is vir jou uniek aan jou onderneming?

Ek dink wat my onderneming uniek maak, is nie die koekies of die verpakking of selfs die naam nie. Dit is dat my passie absoluut van die Here af kom. Ek maak elke koekie en elke gebak, asof ek dit direk vir Hom doen. Ek bid vir elke kliënt om geseënd te wees. Elke bestelling word soos my enigste bestelling hanteer. Ek is altyd flink en vriendelik met my kliënte en saam met hulle kinderlik opgewonde oor hulle spesiale dae. Koekies en Klitsers is gevestig met opdrag van die Here af. “Wees stil en bak” was vir my gesê.

Wat doen jy graag in jou vrye tyd?

Ek ry perd en geniet die buitelug op die plaas saam met my twee seuntjies. Ek neem hulle vir melkskommel en bordspeletjies is altyd ’n gunsteling!

Indien jy onbeperkte hulpbronne kry, wat sal jy daarmee doen?

Ek sal beslis my droomkombuis bou! My eie spasie waar ek gemaklik al my bakwerk kan doen! En dan sal ek natuurlik kan bekostig om hulp aan te stel wat dan weer werk skep vir iemand wat soos ek, gaande is oor die kombuis en alles wat daarmee saamgaan. Dit sal my 112 ure weke bietjie rustiger maak en ’n ander mamma help om ’n inkomste te verdien.

 

Deel die artikel