Blogplasings

LAPA Uitgewers was vanjaar deel van die Tinteltong Toekennings en het ’n toekenning ontvang onder die kategorie stories, uitgewers en bloggers.

LAPA Uitgewers identifiseer hul ideale kliënt natuurlik as mense wat mal is oor lees, veral in Afrikaans! LAPA Uitgewers het lesers van alle ouderdomme en kultuurgroepe, en dis vir hulle belangrik om iets vir almal te publiseer en om ’n liefde vir boeke van ’n jong ouderdom af te kweek.LAPA kom van ver af. Voor die Tweede Wêreldoorlog al het wyle Johannes Petrus van der Walt ’n publikasieprogram, Springbok Biblioteek, begin onder die vaandel van die destydse Unie Boekhandel. Deur die oorlog het Springbok Biblioteek voortgegaan met hulle bedrywighede, hoewel die rantsoenering van papier verhoed het dat die maatskappy groei.

In 1958 het J.P. van der Walt se seun, Manie, as besturende direkteur aangesluit. In 1961 is die maatskappy herdoop na J.P. van der Walt en Seun (Edms.) Bpk. Dié naam sou vir baie jare sinoniem wees met klubboeke.

In Oktober 1996 het die ATKV die maatskappy gekoop. Die naam van die maatskappy is daarna verander na LAPA – jou leestuiste.

Gedurende Februarie 2020 is LAPA deur Penguin Random House SA (Edms.) Bpk. oorgeneem, wat aan ons ’n veel groter voetspoor bied.
LAPA weet dat die meeste lesers steeds ’n boek in die hand verkies, maar ons stories is ook in e-formaat beskikbaar.

Alhoewel LAPA Uitgewers een van die min uitgewers in Suid-Afrika is met ’n aanlyn winkel, is verkope deur fisiese boekwinkels steeds hul grootste bron van inkomste.

 
LAPA Uitgewers beklemtoon die feit dat hulle lesers vir hulle baie belangrik is, daarom stel hulle vir hulself standaarde wat baie hoog is. Die redakteurs doen baie moeite met die ontwikkeling van skrywers en manuskripte. Dit is nie maklik om ’n LAPA-skrywer te word nie, maar diegene wat wel by hulle publiseer, weet dat kopers LAPA as ’n betroubare handelsmerk sien. “LAPA se skrywers het nie verniet al tientalle pryse gewen nie,” skryf Amanda van Rhyn.

“Ons is bevoorreg om ’n fantastiese bemarkingspan te hê met jare se ondervinding in die bemarking van boeke. Deesdae is aanlyn bemarking vir ons baie belangrik, van sosiale platforms deur tot nuusbriewe, en natuurlik is ons verhoudings met die media ook van kardinale belang want hulle help ons om die noodsaaklike publisiteit te kry wat ons boeke nodig het.”

Kontak gerus vir LAPA Uitgewers:

E-posadres: lapa@lapa.co.za 

Kontaknommer: 011 327 3550

Klik hier om LAPA op Facebook te besoek.

Klik hier om LAPA se webtuiste te besoek.

Deel die artikel