Blogplasings

AfriForum Sakenetwerk het die geleentheid gehad om by Liewe Lente te gaan kuier en meer te leer oor wat hulle doen, hoekom hulle dit doen en wat vir hulle die lekkerste is van entrepreneurskap.

Illze Lourens, mede-eienaar van Liewe Lente, sê dat hulle verwagtinge van die onderneming is om van krag tot krag te gaan en noem dat trots, dankbaarheid en ook harde klippe kou die woorde is wat hulle emosie oor Liewe Lente beskryf.

Lees meer oor die gesigte agter Liewe Lente en soveel meer.

Wie is die gesig agter die onderneming?

Illze Lourens, mede-eienaar, het die onderneming gestig waar sy haar ma Elsje Bolton en suster Inge Bolton betrek het. Die Liewe Lente-span het impulsief op die Lente-trein geklim en tot nou toe nog net vorentoe gery. Daar is nie ’n beter vennoot as jou sussie en ma nie. Ons drie saam skep ’n perfekte balans tussen pligte en dryfkrag om Lente deur elke seisoen te dra.

Wie is jul ideale kliënt?

Iemand wat lief is vir mode, nie bang is om iets “anders” te dra nie en die beste manier om dit te doen is met selfvertroue.

Wat is die geskiedenis van die onderneming?

My ma se hande het nog altyd vir niks verkeerd gestaan nie. Met haar naaldwerkagtergrond het ons altyd gehoop ons kan saam met haar, haar passie uitleef. Toe sy vir ons klere gemaak het en ons twee sussies model-model kon speel, het ons altyd geweet ons ma gaan vir meer as net ons twee klere maak. Met my sussie, Illze Lourens, se kunstige oog in ontwerp en handelsware en my eie in verkope en aankope, vorm elkeen van ons gawes mooi deel van die uiteindelike sukses van Lente.

Wat het jou geïnspireer om ’n entrepreneur te word?

Illze Lourens se man was ’n groot deel van die inspirasie van Lente. Lente was God se genade en die tydsberekening was toevallig perfek gewees. Illze het juis vir die dame wat haar aanlyn onderneming verkoop het, Jeanri, vertel dat haar man die onderneming wou koop en Jeanri het geweet dat die vorige eienaar die onderneming wou verkoop. Ons het dit gekoop, sonder enige voorraad, boeke of leiding, en dankbaar is al wat ons nou is.

Hoe het jou prioriteite verander vandat jy ’n entrepreneur is?

Tyd: die manier hoe tyd bestee word het verander, omdat dit net ons drie is. Ek en my sussie werk deur die week en my moeder van ’n Dinsdag tot ’n Vrydag. Dit is immers ’n groot verandering in prioriteite in terme van tyd, en dis definitief nie net naweke nie. Daar is verantwoordelikhede wat deur die week ook nagekom moet word.

As jy toe geweet het wat jy nou weet, wat sou jy verander?

Niks nie, dalk hoop dat geld uit ons vingerpunte spring om groter uitgawes te kan dek en meer mense te kan help om gemaklik in hulle eie velle te voel.

Hoe het jy besluit waar jy jou onderneming gaan vestig?

Ons het die onderneming begin by Green Olive Village omdat ons die vorige eienaar se onderneming gekoop het, min wetend dat dit die perfekte omgewing sal wees om ons handelmerk te vestig en die verskil te maak waarna ons hunker.

Is jul meeste verkope aanlyn of in ’n fisiese winkel?

Tot dusver is ons beste verkope in ons fisiese winkel, aangesien ons teikenmark gemakliker voel om ietsie aan te pas voor hul dit aankoop. Ons vrouens geniet die hele uitstappie, om eers ’n koffie saam met hulle vriendinne of familie te geniet en dan saam hulle opinie oor klere ook in Lente te gee. Party vrouens se dogters of selfs mans help hulle kies en dis ’n spesiale deel van die ervaring.

Wat is vir jou uniek aan jou onderneming?

Ons het al talle kere by mense gehoor dat ons ’n warm en verwelkomende atmosfeer in Lente self het, waar kliënte opgebou word en “genoeg” voel na hulle uitstappie in Lente. Liewe Lente bring vir baie mense ’n veilige hawe om gemaklik klere aan te pas en seker te wees oor hulle kopie. Solank ons kliënte met ’n klein bietjie nuwe hoop oor hulself by Lente uitstap, maak ons ’n verskil.

Wat het jy die meeste geniet toe jy met jou onderneming begin het?

Eerlik waar, om jou eie unieke afdruk te maak op ’n produk is besonders bevredigend. Ons drie was self verstom. Ons het so trots gevoel toe ons die finale, eksieperfeksie Lente-klere op die rak sien hang het. Natuurlik ook om saam met my ma en sussie oor naweke in die winkel te werk, en die mense se uiteindelike, verbaasde reaksies te sien oor ons reeks. Hulle woorde sal gewoonlik wees “Julle klere is so anders”, “Julle het regtig die eksotiesste klere” en “Boonop nog bekostigbaar”. Dit bring groot vreugde vir ons drie om te sien ons is in die kol.

Wat is die waardes waarmee die onderneming handeldryf?

My ma sê altyd: “Vriendelikheid kos niks”, en ek (Inge Bolton) moet sê omdat ons drie self in die winkel werk, maak ons ’n punt daarvan om aandag en tyd aan ons kliënte toe te wy. Ons grootste begeerte vir Lente is dat vrouens geliefd, waardig en vol selfvertroue voel as hulle ons klere aantrek. Ons drie as entrepreneurs maak ’n punt daarvan om opregte komplimente vir ons kliënte te gee, elke vrou het haar eie mooi en dit word beklemtoon met ’n bloesie of eksotiese sonrokkie. Sommige vrouens kom besoek ons byvoorbeeld na ’n groot operasie en dan nadat hulle geselsies aangeknoop het en ietsie by Lente gekoop het, voel hulle sommer weer mooi of waardig. By Lente raak ons lojale kliënte sommer vriendinne, en onsself moet oppas om nie te veel koffie saam met hulle te drink nie.  

Wat is die kerndoel van die onderneming?

Lente se doel is om vrouens van alle ouderdomme en tipes te akkommodeer en hulle selfvertroue op te bou wat deesdae so skaars is soos hoendertande. Ons het lank en hard gedink hoekom vrouens sal terugkom na ’n winkel soos Lente toe, en ons het tot die slotsom gekom dat ons klere bekostigbaar bly. Dit help vrouens onderbewustelik om minder skuldig te voel oor hulle aankope.

Het julle enige toekomsplanne en waar kan die gehoor julle volg? (sosiale media, webtuiste, ens.)

Ons sal graag aanlyn wil uitbrei asook in ons fisiese winkeltjie, moontlik nog ’n tak in die Kaap of Hartebeespoort oopmaak.

Is daar ’n interessante staaltjie agter die ontstaan van die onderneming?

Illze het eintlik alleen besluit namens ons drie vennote om Lente, voorheen ’n ongeregistreerde maatskappy, te koop. Hiervandaan het ons Lente geregistreer en dit ons eie onderneming gemaak.

Het die onderneming begin in jou vrye tyd of was jy ’n voltydse werknemer?

Dit word bestuur deur die drie van ons, en ons dankbaar daarvoor. Elkeen vertolk sy eie rol. Inge doen hoofsaaklik sosiale media, Ilze aankope en die twee sussies roteer die naweke. Ons moeder, Elsje, is besig deur die week en doen enige nodige verstellings aan die klere.

Hoe handhaaf jul dissipline in die entrepreneurswêreld?

Dit is uitdagend, siende dat elkeen ondernemings het op naweke. Ook dat Inge en Ilze permanente werke het en moeder Elsje gedurende die week werk. Dit voel gereeld asof mens jou lewe om lewe vir Lente, nie dat dit enigsins ’n slegte eienskap is nie.

Liewe Lente vat vlam aanlyn onder www.liewelente.com asook op Facebook en Instagram onder @liewe_lente.

 

 

Deel die artikel