Entrepreneursfokus: Miné van Schalkwyk – Hadassa Clothing

Miné van Schalkwyk het die handelsmerk Hadassa Clothing in September 2016 van stapel gestuur nadat sy en haar gesin in Januarie 2016 na Somerset-Wes verhuis het. Volgens Miné was die aanpassing in ’n nuwe omgewing ’n bydraende faktor tot die vestiging van haar handelsmerk. Hadassa (wat Esther in Hebreeus beteken) is die produk van Miné se wandeling met God in dié tyd. Sy wou ’n klerereeks skep wat ’n storie vertel waarmee vroue in hulle wandeling met God kan assosieer.

Miné se eerste stap was om ’n Google-soektog te doen om seker te maak dat die naam Hadassa nie vir enige ander klere in Suid-Afrika gebruik word nie. Haar doel is om klere te verkoop wat ’n boodskap van hoop vir vroue bring. Die reeks fokus op jong vroue tussen die ouderdomme van 25 en 45. Elke kledingstuk word deur Miné self ontwerp en kom met ’n inspirerende Bybelvers wat met die kledingstuk assosieer. Vir haar was die grootste les wat sy oor die afgelope vier jaar geleer het dat ’n mens jou roeping moet uitleef. Miné getuig dat “die Here nog elke keer deurgekom en voorsien het vandat Hadassa Clothing bestaan”. Daarom glo sy dat elke persoon wat ’n onderneming begin het of wil begin by die Here moet aanklop vir leiding en wysheid. “As jou besigheid Sy wil is vir jou, sal Hy sorg dat dit ’n sukses is. Ek het dit op die harde manier geleer.”

Die klerereeks het oor die laaste vier jaar organies gegroei soos wat Miné se gesin ook gegroei het. In 2019 het hulle na Mosselbaai verhuis terwyl sy 34 weke swanger was. Met die trek en die restourasie van ’n nuwe huis het die onderneming ook saam gegroei. Haar droom is om meer items te vervaardig en die reeks uit te brei sodra die beperkings van die COVID-19-pandemie ’n bietjie gelig word.

Grootste inspirasie

Miné se grootste inspirasie om haar eie onderneming te begin is haar pa. “My pa het sy eie besigheid gehad vandat ek kon onthou. Ek onthou ook dat hy baie spanning ervaar het in moeilike tye, want daar is geen vaste inkomste as jy vir jouself werk nie.” Sy lang ure en toegewyde werk dien steeds as motivering vir haar in haar eie entrepreneuriese drome. “My pa het altyd gesê dat jy jou besigheid teen jou bors vashou. Hy is ook die vrygewigste mens wat ek ken. Hy help altyd finansieel as mense swaarkry, selfs noudat hy afgetree is. Ek glo sy oop hand het bygedra dat sy besigheid so geseënd was. Ek volg sy raad elke dag!”

Raad vir entrepreneurs

Miné se raad aan ander entrepreneurs is om gehoorsaam te wees aan God se opdragte en doel vir jou lewe. En natuurlik harde werk om jou roeping uit te leef. “My man wat my sonder terughou op elke vlak van die besigheid ondersteun, veral as ek saans laat moet werk en oor naweke moet inhaal wanneer die kinders slaap.” Sy stel ook voor dat ’n mens professionele hulp kry vir die ontwerp van jou webtuiste en vir opleiding in sosialemediabemarking. Miné beveel Heni’z Creative Studio in Stellenbosch aan wat haar gehelp het om haar aanlyn winkel en logo reg te kry, asook Pretty Social vir hul kursusse in sosialemediabemarking. Albei hierdie ondernemings bly op hoogte van die jongste neigings en help ander ondernemings om hulle sosialemediabladsye te bestuur en te groei.