Entrepreneursfokus: Rina Lombard – Is Moz Bos

Hou die muskiete eenkant. Dít is Is Moz Bos se mantra wat hierdie oulike handelsmerk oor die afgelope vier jaar van krag tot krag laat groei het. Is Moz Bos is amptelik in Desember 2016 deur Rina Lombard begin ná ’n vakansie in die bos. Tydens dié vakansie het sy ervaar dat daar nie werklik goeie produkte op die mark is wat muskiete afweer nie en het gedink dat ’n Afrikaanse produk nodig is.

Vir Rina gaan dit daaroor om ’n stukkie bosveld saam met elkeen van haar produkte te verkoop. Die wenresep is op ’n verlate grondpad in Botswana gebore toe die aanloklike reuk van wildesalie haar aandag getrek het. Sy het bondels en takke bymekaar gemaak en verpak en huis toe vertrek met ’n tas vol wildesalie. Haar jarelange ervaring het ook gehelp om die eindproduk daar te stel. Rina het tydens haar studies by 1 Militêre Hospitaal met verskeie formules geëksperimenteer, oftewel “gekook met medisyne” soos sy daarna verwys. Kort voor lank het sy ’n verskeidenheid lyfprodukte begin vervaardig wat nou in verskeie winkels beskikbaar is. Veral haar seep is ’n treffer; dit word gemaak met sitronella-ekstrak en wildesalie en is ’n eenstop-insekweerder vir muskiete, bosluise en sandvlooie, en boonop ruik dit ook nog lekker.

Rina se liefde vir kruie en plante is nie oornag gekweek nie maar eerder oor die jare geïnspireer. Sy vertel dat sy jare terug vir ’n maatskappy gewerk het wat Margaret Roberts se produkte vervaardig het. Vir haar was Roberts ’n groot inspirasie. Sy het die eerste organiese plase in Suid-Afrika begin en sowat 40 boeke oor kruie gepubliseer. Rina onthou hoe Roberts self haar laventeloes afgelewer het en haar aangemoedig het om haar drome na te jaag.

Die bron van Is Moz Bos se sukses is goeie diens in jou taal, ’n hoëgehalteproduk en ’n wye verspreidingsnetwerk. Rina se produkte is beskikbaar by Outdoor Warehouse-takke reg oor die land, Van Heerden Apteke, De Afrikander Handelshuis, die Skukuza-geskenkwinkel in die Nasionale Krugerwildtuin en verskeie vakansieoorde reg oor die land. Haar sukses het haar ook onlangs op die populêre program Winslyn op kykNET laat verskyn. Tog eindig Rina se planne vir die toekoms nie hier nie. Haar aanlyn winkel is onlangs van stapel gestuur en sy is hard aan die ontwikkel van nuwe formules en produkte wat sy beplan om binnekort op die mark te plaas.

 

Rina se raad vir ander entrepreneurs:

Rina glo dat entrepreneurs self hulle produkte moet toets – hoe anders verkoop jy ’n produk as jy nie self daarin glo nie. Toe sy haar eerste formules gefinaliseer het, het sy haar produk self gebruik en dit eers daarna aan jagters bemark. Sy glo ook dat dit belangrik is vir elke onderneming om ’n goeie grafiese ontwerper te gebruik wat die identiteit van jou onderneming verstaan en jou kan help om die handelsmerk te groei. Laastens glo sy dat alle ondernemings van plaaslike verskaffers gebruik moet maak. Nie net stimuleer dit die plaaslike ekonomie nie, maar dit verseker ook dat jou produk altyd beskikbaar is – selfs in onvoorsiene omstandighede soos tydens die COVID-19-pandemie toe ondernemings wat van buitelandse verskaffers afhanklik is, gestrand gelaat is.