Entrepreneursfokus: Seepglad op die pad na sukses

Carinus Lemmer en die span van Seepglad lewer noodsaaklike produkte by mense en ondernemings af. Die bekende gesegde: “Dit gaan oor wie jy ken” het die onderneming aan die gang gesit. Carinus het sy vriende se hulp ingespan om produkte by mense se tuistes of ondernemings af te lewer en waar dit oorspronklik ’n groep vriende was wat vir mekaar produkte afgelewer het, kan kliënte ook nou baat by die inisiatief. Jy kan in die gemak van jou eie huis vir Seepglad skakel om jou inkopies en aflewerings te behartig.

Ons het by Carinus gaan inloer om meer te leer oor die Seepglad-inisiatief. Wanneer Carinus dink aan die ontwikkeling en innovering wat sinoniem is met sy onderneming, is die woord “droom” die eerste wat by hom opkom. Hy droom groot oor sy onderneming en probeer dan om die droom ’n realiteit te maak – dit speel ook ’n belangrike rol wanneer hy sy strategiese beplanning aanpak. Seepglad se strategiese beplanning begin as ’n droom waarmee die span woeker totdat dit ’n realiteit word.

Bemarking is ’n waardevolle sleutel tot enige onderneming en Carinus glo dat die belangrikste bemarkingsinstrument “word of mouth” is, soos wat dit in Engels bekend staan. Goeie dienslewering verseker dat Seepglad hul goeie naam gestand hou.

Ons het hom gevra of hy enige advies het vir jong werkendes wat hul drome ’n realiteit wil maak. Sy antwoord hierop is: “Leer vir jouself die aspekte wat die werk inhou, asook wat dit vir die toekoms sal inhou sodat jy ander ook kan leer, kan help en die beste diens aan mense kan verskaf.”

’n Sterk dryfkrag agter Carinus se bestuurstyl is die ondervinding wat hy opgedoen het gedurende sy tyd in die korporatiewe wêreld. Dié ondervinding en lesse gaan gepaard met sy entrepreneuriese vaardighede om ’n plan seepglad te laat verloop.

Seepglad lewer nie net noodsaaklike produkte aan kliënte nie, maar Carinus glo ook dat dit belangrik is om iets positief tot die gemeenskap by te dra. Om dié rede is Seepglad op ’n vrywillige basis as fietsrykoerier betrokke by die gemeenskapsaksie Stellenbosch Unite.

Om bekostigbare, slim en omgewingsvriendelike maniere te vind om ’n verskeidenheid produkte aan mense te lewer, is die visie wat hierdie droom ’n realiteit hou!