Entrepreneursfokus: Skryfyster 

Skryfyster Copy & Content is die produk van Anna-Bet Stemmet se entoesiasme vir die skeppende karakter van taal – hetsy in Afrikaans of Engels. Dié kreatiewe brein het al werk gedoen vir groot handelsname soos Jan Hendrik van der Westhuizen, Old Khaki, Poetry en verskeie ander handelsmerke. Anna-Bet spesialiseer in webinhoud, vertaling en taalversorging, maar is ook aktief in die skryf van draaiboeke vir TV en radio.

Hoe dit begin het

Anna-Bet het haar dienste as vryskutskrywer begin bemark ná die geboorte van haar dogtertjie, Alexandra. Voorheen het sy as kopieskrywer vir advertensie-agentskappe in Kaapstad gewerk, maar ná Alexandra se koms het familie en ’n bietjie meer vryheid al meer belangrik begin word.

Waar die naam vandaan kom

Skryfyster het in 2018 die tweede plek in die Woordeboek vir die Afrikaanse Taal se kompetisie vir die treffendste Afrikaanse handelsnaam gewen. Dié pluimpie is blykbaar weens ’n gelukkige tikfout wat Anna-Bet reeds tien jaar gelede gemaak het toe sy besig was om haar Gmail-e-posadres op te stel. “Toe ek tien jaar gelede my Gmail-e-posadres opgestel het, het ek ’n tikfout begaan. Wat veronderstel was om “skryfster” te wees, was toe ewe skielik “skryfyster”. Dit het egter lekker op die oor geval en toe ek mettertyd as vryskutskrywer begin werk, het ek daarop besluit as handelsmerk,” vertel sy.

Anna-Bet glo dat die naam van haar onderneming in haar guns tel in die Swartland waar sy woon. “Die naam maak meestal dadelik ’n indruk omdat dit so speels is. Mý Afrikaans was nog altyd ’n wulpse, kwinkslagtige rabbedoe met ’n goeie skoot dwarstrekker in die mengsel – ’n kombinasie van Liz Meiring en Nataniël, maar met ’n agterstevoor keps en ’n ninja-ster in die voorskootsak. Dit is, in my opinie, die gevoel wat die naam weergee, en daardeur lok ek die soort kliënte wat aanklank vind by my natuurlike aanslag tot skryfwerk. Dit dien gereeld as kortpad tot wedersyds voordelige sakegeleenthede”.

Resep vir sukses

Anna-Bet meen die grootste bydraende faktore wat tot die sukses van haar besigheid gelei het, is persoonlike tydsbestuur, vinnige kommunikasie en konsekwente gehalte. Een van die grootste uitdagings vir vryskutwerkers is sekerlik die vermoë om jou tyd doeltreffend te bestuur en Anna-Bet vind dat vroegoggend die beste vir haar werk. “Ek het ’n baie streng baas nodig wat al my truuks ken en my in die bek kan ruk indien nodig, en ekself is die enigste persoon wat dit sover kon regkry!”