Entrepreneursfokus: Swier

AfriForum Sakenetwerk het vir Sandri Spies van Swier in Pretoria gaan besoek. Sandri Spies is die gesig agter Swier Pretoria. Sy noem dat om ’n entrepreneur te wees in haar bloed is. Die waardes van Swier is om te leef en te laat leef. Entrepreneur wees is maklik en lekker vir Sandri.

Sy beskryf die woord entrepreneur soos volg: Om kreatief te dink en konsekwent elke liewe dag klein takies te verrig wat oor ’n tydperk vrugte afwerp.Sandri is altyd op die uitkyk vir iemand wat die ekstra myl wil stap en ervaar altyd ’n emosie van opgewondenheid, dankbaarheid en blydskap as dit kom by haar onderneming.

Dit is vir ons ’n groot voorreg om die volgende oor Swier te deel.

Wat is die geskiedenis van Swier?

Swier Pretoria is in die inperking gebore, nadat ek reeds drie maande by die huis was as gevolg van die reisbedryf wat nie weer op dreef kon kom na Covid-19 nie. Alhoewel die onderneming in die inperking sterk geword het en gebore is, was hierdie tydperk ook Swier se grootste struikelblok as gevolg van die lukrake aankondigings van ’n hoër vlak van inperking.

Wie is Swier se ideale kliënt?

Die ideale kliënt hou van mooi goed en om vir unieke items te soek in ’n pragtige klein winkeltjie. Die kombinasie van verskillende produkte is wat Swier so uniek maak.

Hoe het jul die gaping in die mark geïdentifiseer?

Ek is ’n volbloed Pretorianer, maar die Kaap het baie produkte waartoe ons nie toegang het nie. Ek het besluit om ’n stukkie van die Kaap Pretoria toe te bring. 80% van my produkte word “ingevoer” vanaf die Kaap.

Is jul meeste verkope aanlyn of in ’n fisiese winkel?

Swier Pretoria besit op die oomblik slegs ’n fisiese winkel by Green Olive in Zambezi.

Indien ek onbeperkte hulpbronne het, sal ek definitief nog ’n winkel op die been bring.

Die volgende is wel op die horison vir al Swier se kliënte:

  • Swier bied binnekort Gin&T(ea) en nougat “pairings” aan as ’n manier om die lewe te vier!
  • Ons is besig met ’n aanlyn winkel en webwerf wat binnekort beskikbaar sal wees.

Wat het jy die meeste geniet toe jy met jou onderneming begin het?

Om te sien hoe ’n idee, ’n plan en ’n droom groei en gestalte aanneem.

Wat is die kerndoel van die onderneming?

Dekor en geskenke op jou voorstoep en jy kan die winkelsentrums vermy.

Dink jy dis moontlik om op enige ouderdom die skuif te maak van voltydse werknemer na ’n entrepreneur?

Ja definitief, maar dis nie altyd so maklik om jou gemaksone agter te laat nie. Ek wou dit al lankal doen. Die inperking het my uit my gemaklike nes uitgeskop.

Watter risiko’s en opofferinge hou dit in om ’n effektiewe entrepreneur te wees?

Finansiële risiko’s is definitief ’n groot faktor. Gesinstyd word menigmaal opgeoffer. Dit verg baie goeie kommunikasie en ’n gesin wat saam die groter prentjie kan raaksien.

Hoe lyk jou dag as entrepreneur?

Ek staan 05:30 op. Gaan gimnasium toe. Doen my dag se beplanning. Werk in die winkel tot 15:00 en daarna ry ek hoërskoolkinders rond na hulle aktiwiteite toe.