Entrepreneurskap en entrepreneurskapsopleiding: Kom ons bou saam die toekoms

Deur: Dr Rachel Maritz (Dekaan: Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Akademia)

Dit is duidelik dat die inperking in 2020 en die COVID-19 pandemie Suid-Afrika (en die res van die wêreld) ’n dwarsklap gegee het. Ekonomiese aktiwiteit in Suid-Afrika het met 7% verminder van 2019 tot 2020 – die laagste sedert 1946 (ná Wêreldoorlog II). Ons ekonomie het so gekrimp dat dit tans so groot is soos in 2012, inflasie in ag geneem. Die ekonomiese groei in Suid-Afrika sukkel reeds vanaf 2014 om by te hou by die bevolkingsgroei (Statssa, 2020; 2021). Nodeloos om te sê, is dit nou die tyd en geleentheid vir entrepreneurs om in te spring en ’n bydrae te maak tot die groei van die ekonomie en werkskepping.

Alle entrepreneurs begin met drie soorte middele: (1) wie hulle is (hul natuurlike aanleg, vermoëns en voorkeure); (2) wat hulle weet (vorige onderrig, opleiding, ervaring en kundigheid) en (3) wie hulle ken (sosiale en professionele netwerke) (Sarasvathy, 2001). Die entrepreneur kan daadwerklik verander aan wat hy weet, deur onderrig (met die klem op kennis) en opleiding (met die klem op vaardigheidsontwikkeling). Kursusse en werkswinkels wat op die onderrig en opleiding van entrepreneurs fokus, is dus krities om entrepreneurskap in Suid-Afrika aan te moedig en te ontwikkel.

Dit is nooit te laat om entrepreneursvaardighede te ontwikkel nie. Navorsing het bewys dat kinders van entrepreneurs ’n 60% hoër kans het om self entrepreneurs te word, maar dit is te danke aan opvoeding eerder as genetika (Linquist, Sol en Van Praag, 2015). Opleiding kan egter op enige tydstip in ’n entrepreneur se lewe die vuurhoutjie wees wat entrepreneuriese gereedheid aansteek (Olugbola, 2017).

’n Kompetisie soos AfriForum se “Entrepreneur van die Jaar” moedig entrepreneurs aan om besigheidsgeleenthede te ondersoek en te benut. Dit bied ook ’n waardevolle geleentheid vir opleiding asook om professionele netwerke uit te bou.

Peter Drucker het gesê: “Die beste manier om die toekoms te voorspel, is om dit te skep”.

Moenie langer op die kantlyn staan nie – die toekoms het entrepreneurs nodig!

Bronne

Lindquist, M.J., Sol, J. and Van Praag, M., 2015. Why do entrepreneurial parents have entrepreneurial children? Journal of Labor Economics33(2), pp.269-296.

Olugbola, S.A., 2017. Exploring entrepreneurial readiness of youth and startup success components: Entrepreneurship training as a moderator. Journal of Innovation & Knowledge2(3), pp.155-171.

Sarasvathy, Saras D. 2001. What Makes Entrepreneurs Entrepreneurial? Darden Case No. UVA-ENT-0065, Beskikbaar by SSRN: https://ssrn.com/abstract=909038

Statssa. 2020. Steep slump in GDP as COVID-19 takes its toll on the economy. [Aanlyn] Beskikbaar van: http: http://www.statssa.gov.za/?p=13601 [toegang: 2021-05-20]

Statssa. 2021. GDP: Quantifying SA’s economic performance in 2020. [Aanlyn] Beskikbaar van: http: http://www.statssa.gov.za/?p=14074 [toegang: 2021-05-25]