Franse nostalgie in Canettevallei – Ingrid de Waal deel haar inspirasie

In die hart van Stellenbosch se wynlande is ’n prentjiemooi landskap geskets deur die betowerende herinneringe aan Provence se laventellande in volle blom. Ingrid de Waal en haar man het ’n mooi herinnering in ’n besigheidsplan omskep wat nie binnekort sal ophou blom nie. Canettevallei laventel-en-wynplaas produseer wyn en ’n reeks laventelprodukte wat onder andere gelys word op Faithful to Nature en Hello Pretty. Van laventelolie tot droë laventel wat gebruik word in lekkerruiksakkies, confetti, droë bossies blomme, tot laventelheuning, kulinêre laventel, en meer as 40 verskillende tipes seep, presteer dié konsep (en ruik boonop ook heerlik!).

Ingrid en haar man woon op die plaas Canettevallei, ’n ou wynplaas met twee wynhandelsmerke naamlik Pella en Mount Sutherland. Sy het in Frankryk gewoon en gewerk en dit is hiér waar die laventelgogga haar gebyt het.

“Ek was betower deur die intensiteit van die kleure, geure, bye en klanke van Provence. Ek en my man is albei dol oor die Mediterreense kultuur en leefstyl,” vertel sy.

Uit ’n toeris se oogpunt het hul geweet dat die wynplaas sou floreer met ’n proelokaal en ’n laventellandskap wat die prentjie voltooi.

“Die vlugtige olies het my ook aangetrek en dit het net sin gemaak om met ’n olievariëteit te boer. Ons het die lande in 2004 geplant en ons eerste oes in 2005 ingesamel. Daarna het meer en meer produkte bygekom en het ek ’n handelsmerk geregistreer,” verduidelik Ingrid.

Groei volgens jou seisoen

Ingrid glo dat entrepreneurskap treetjie vir treetjie ontwikkel. Dit is belangrik om jou sesde sintuig te volg, asook om aanpasbaar te wees en innoverend te dink. Sy verduidelik dat die grootste fout wat entrepreneurs maak die geneigdheid is om té vinnig, té veel te wil bereik.

“Neem klein risiko’s, groei treetjie vir treetjie om skuld te vermy – dikwels speel nuwe besighede na twee jaar bankrot omdat hul te vinnig groei en die eienaar dan groot risiko’s neem.”

Sy beklemtoon ook die verskil tussen ’n entrepreneur en ’n besigheidspersoon – die nuanse lê in die onderskeid tussen ’n nuutskepping en die bestuur van daardie konsep:

“Entrepreneurs skep iets uit niks; hul begin ’n besigheid met ’n nuwe idee wat nog nooit vantevore in hul omgewing beskikbaar was nie, terwyl ’n besigheidspersoon ’n besigheid begin met ’n ou konsep.”

Ingrid ag haarself as ’n entrepreneur (hoogs gepas aangesien dié woord uit Frans ontwikkel het en verwys na iemand wat ondernemend is). Met die redenasie dat ’n entrepreneur iets nuut skep, vertel sy die storie van hoe sy laventelrys vir die eerste keer in die mark geplaas het.

“Toe ek dié produk 15 jaar gelede in die mark geplaas het, het niemand nog ooit die woord gehoor of geweet waarvan ek praat nie. Ek het ’n aanvraag geskep vir ’n produk wat nie bestaan het voor ek daarmee begin boer het nie. ’n Entrepreneur wil ’n sukses maak. As ’n produk nie goed verkoop nie, sal ek die produk wysig (bestanddele/voorkoms/naam) totdat dit werk.”

Groei organies, eerder as strategies

Ingrid vertel dat sy nooit met ’n formele besigheidsplan te werk gegaan het nie, en dat sy eerder organies ontwikkel het uit die goeie verwysings van die mense wat kwaliteitprodukte by haar gekoop het. Die belangrikheid van ’n netwerk met mense wat innoverend dink en ondersteunend optree, is ook kardinaal tot Canettevallei se sukses.

“Ek het jong kinders wat krities is en idees gee. As daar ’n aanvraag in die mark is vir ’n sekere produk of diens wil ek probeer om dit aan te bied.”

Een van die dinge wat sy wens sy toé, eerder as nou, geweet het, is dat ’n netwerk van mense goed maar ook noodsaaklik is tot die groei van ’n besigheid.

“Aan die begin wou ek alles self doen. As ek meer aan die werkers oorgelaat het, kon ek vinniger meer handelstakke besoek het omdat ek meer voorraad sou hê.”

Groei waar jy geplant is

Ingrid glo dat alle mense gebore is met ’n natuurlike kreatiwiteit.

“Jy moes dit noodgedwonge hê in die antieke tye om te oorleef. Jy moes kreatiewe planne maak om kos te kry, om ’n “huis” aanmekaar te sit, of om jou familie te beveilig. Dit is soos ’n spier wat geoefen kan word, hoe meer kreatiewe oplossings jy moet maak in jou daaglikse doen en late en werk, hoe makliker word hierdie tipe dinge.”

’n Natuurlike kreatiwiteit wakker dus innovering aan en dit is dié twee elemente wat Ingrid in staat gestel het om ’n besigheidsmark te identifiseer. Sy glo dat haar kreatiwiteit ’n unieke stempel op haar besigheid afgedruk het.

“In my spesifieke geval wat agriprosessering is (waardetoevoeging tot ’n landbouproduk), het ek nie ’n keuse gehad nie. Ek moes baie kreatief wees om te oorleef omdat dit ’n nuwe produk in die mark was.”

Canettevallei is ’n gepaste voorbeeld van ’n emosie wat ’n idee geword het, ’n idee wat ’n konsep geword het, en ’n konsep wat ’n suksesvolle besigheid geword het. Haar emotiewe belangstelling gekombineer met ’n natuurlike kreatiwiteit en doelgerigtheid het tot ’n produk gelei waar die hart en siel sigbaar is.

Leer meer oor Canetttevallei en hul produkte op hul webtuiste.