Het jy ’n slegte week? Hierdie vinnige wenke kan help.

Het jy ’n slegte week? Gaan dinge by die werk woes en dinge by die huis nog wilder?

Kom ons kyk of hierdie vinnige wenke jou deur die week kan help.

  1. Probeer om neutraal te bly

Dit is altyd goed om beheer oor jou gesigsuitdrukkings te hê. Namate jy dit meer en meer regkry, help dit jou om jou persoonlike probleme te skei van wat by die werk aangaan. Anders loop jy moontlik die risiko om elke emosie vir elke kollega te wys. Dit help ook om nie in trane uit te bars wanneer ’n kollega jou vra of alles ‘oukei’ is nie.

  1. Skryf alles wat gedoen moet word in jou dagboek neer

Wanneer alles skeefloop of gelyktydig gebeur, help rondsit en ginnegaap glad nie. As jy weet jou aandag word maklik afgetrek, is dit des te meer belangrik om georganiseerd te bly.

Om georganiseerd te wees, bevorder produktiwiteit en help jou om jou fokus te behou – en selfs ’n dreigende angsaanval af te weer.

  1. Stel grense

Sperdatums by die werk en persoonlike kwessies by die huis werk nie lekker saam nie. Jy het dalk jou kar gestamp of ’n familielid is in die hospitaal en jy moet al die hooi op die vurk hou terwyl jy persoonlike oproepe by die werk moet neem om op hoogte te bly van persoonlike kwessies elders ook.

Beplan spesifieke tye in die dag wanneer jy met die paneelklopper of jou familie by die hospitaal kan skakel en doen alles dan in daardie tien minute. ’n Goeie tyd hiervoor is wanneer die res van die kantoor met ’n koffiepouse of middagete is.

’n Goue reël, wat jou ook minder laat stres, is om jouself af te vra of jy iets aan die situasie kan doen en of dit iets is wat kan wag.

  1. Moenie altyd probeer om die held of heldin te wees nie

Net omdat jy sterk en bekwaam is, beteken dit nie jy hoef noodwendig alles alleen aan te pak of gedoen te kry nie. Leer hoe om vir hulp of leiding te vra wanneer jy dit nodig het.

Wanneer dinge regtig sleg gaan by die huis, vra jou baas of die menslikehulpbronafdeling of jy dalk ’n dag of twee kan neem om die situasie uit te sorteer. ’n Noodgeval is nie iets om voor skaam te wees nie.

Vra naby kollegas vir hulp. Een van hulle se man of vrou is dalk ’n prokureur of dokter en het dalk net die raad wat jy nodig het.

Nie net leer jy hoe bekwaam jy gedurende ’n stresvolle tyd is nie, maar jy kom ook agter hoe dankbaar jy kan wees vir goeie kollegas.

orspronklike artikel: Erin Palmer vir Brazen Life.