Blogplasings

Daar is ’n fyn lyn tussen selfversekerd en arrogant. Dit is soms moeilik om nederig te wees wanneer jy uitblink op ’n gebied. Jy mag dalk ’n ongelooflike werk hê, ’n groot salaris verdien of geag word as die nommer een persoon in jou gekose veld, maar jou sukses behoort nie jou ego so te affekteer dat jy jouself beter ag as ander nie. Wanneer jy uitblink, is dit belangrik om daarop te fokus om nederig te wees. Hier is ’n paar praktiese maniere hoe jy nie net selfvertroue kan hê nie, maar ook nederig kan wees.

Vra vrae

Ten spyte van wat mense mag dink, is dit ’n goeie ding om vrae te vra. Alhoewel jy mag voel dat dit jou onintelligent of oningelig kan laat voorkom, is die teenoorgestelde juis waar. Ander mense respekteer gewoonlik jou belangstelling of bereidheid om te wys dat jy nie ’n kenner op elke gebied is nie. Deur vrae te vra, wys jy eerder dat jy belangstel, goeie luistervaardighede het en dat jy ander mense se opinies respekteer.

Deel jou kennis

Om nederig te wees, beteken nie om nooit jou kennis met ander mense te deel nie. Dit gaan eerder oor die wyse waarop jy jou kennis oordra. Deur jou kennis te deel, laat jy ander mense voel asof jy hulle insluit en dat jy nie inligting eksklusief vir jouself wil hou nie. Let egter op hoe jy dit doen. Wanneer die wyse waarop jy kennis deel ander minderwaardig laat voel, word jy beslis nie as nederig geag nie.

Hanteer almal gelyk

Mense wat nederig is, pas nie hulle optrede aan volgens die status van die persoon waarmee hulle te doen het nie. Of jou kollega, kennis of vriend die hoof van die departement of bloot ’n junior is, moenie bepaal hoe jy hulle hanteer nie. Mense wat werklik nederig is, heg nie die persoon se waarde aan hul prestasies of posisie nie, maar eerder aan hul menswees. Nederige mense hanteer ander vriendelik en hoflik, ongeag hul posisie.

Vra vir terugvoer

Iemand wat ander se opinies in ag neem en nie net bloot aanneem dat hulle eie oortuigings reg is nie, is nie vasgevang in hulle eie ego nie. Jy stel jouself bloot aan kritiek deur ander mense te vra vir terugvoer oor jou werk of idees, maar terselfdertyd wys dit dat jy ander in ag neem. Deur ander se insette in ag te neem, is dit duidelik dat jy nie bloot net jou eie opinie ag nie.

Vermy goeie nuus – tensy iemand jou vra

Wanneer jy goeie nuus of ’n nuwe verwikkeling in jou loopbaan deel sonder dat iemand daaroor gevra het, kan dit lyk asof jy grootpraat. In stede daarvan om bloot te lys hoe goed dit met jou gaan, is dit beter om eers jou suksesse toe noem wanneer iemand spesifiek daaroor uitvra. ’n Goeie reël is om meer oor die ander persoon te praat as oor jouself.

Gee krediet aan ander

Baie min mense word uiters suksesvol sonder hulp van ander mense. Of dit jou ouers is wat jou ondersteun het, jou man of vrou of ’n mentor, is dit goed om aan hulle krediet te gee. Niemand word oornag ’n sukses nie en die kans is goed dat jy op jou pad deur baie ander mense gehelp is. Wanneer jy besef dat jy nie alleen jou posisie bereik het nie leer dit jou werklike nederigheid.

Besef jy het steeds tekortkominge

Maak nie saak hoeveel jy in jou lewe bereik nie, jy gaan steeds êrens tekort skiet. Die besef dat jy bloot ’n mens met foute is, is die vinnigste manier om jou terug aarde toe te bring. Indien jy voel asof jy grootkop kry, is dit ’n goeie oefening om te sit en al jou tekortkominge neer te skryf. Moontlik het jy ’n kort humeur of sukkel jy om sagmoedig te wees? Wanneer jy jou eie foute raaksien, kan jy daaraan werk om dit te verbeter en tree nederigheid sommer terselfdertyd in.

 

Deel die artikel