Jou persoonlike handelsmerk: Hoe om jouself te bemark  

Het jy al ooit gewonder wat jou persoonlike handelsmerk is? Jou handelsmerk, soos met ’n maatskappy, is die boodskap wat jy van jouself aan ander kommunikeer. Baie jongmense en veral entrepreneurs het veelsydige identiteite, hulle is ouers, broers of susters, sosiale media kenners, ontwikkelaars, ontwerpers en sommer verkoopsagente ook. Die waarde om ’n primêre identiteit uit te lig is dat mense jou leer ken as iemand wat sekere dienste kan lewer of vir spesifieke geleenthede benodig.

As jy jouself byvoorbeeld as ’n entrepreneur bestempel dan weet ander dat jy altyd opsoek is na nuwe besigheidsidees, dat jy moontlik finansiering soek vir projekte of dat jy in jou spesifieke industrie ’n groter netwerk wil bou. Die resultaat is dat jou nabye netwerk veel vinniger jou kan bystaan om jou doelwitte te bereik. As jy weet jou vriend is ’n loodgieter, sal jy makliker vir hom verwysings kan doen as wat jy nie seker is of hy eintlik spesialiseer in elektrisiënswerk en of hy ’n loodgieter is nie, bloot omdat hy iets van alles doen. In ’n wêreld waar ons meer en meer identiteite aanneem, kan dit moeilik wees om waarde uit jou netwerk te put.

Om te weet hoe jy jou handelsmerk moet vasstel, vra jouself die volgende vrae:

  • Wat dink my vriende is my sterkste vaardigheid?
  • Waarvoor word mense na my toe verwys?
  • Wat is die waarde wat ek kan toevoeg?
  • Vir watter identiteit wil ek bekendstaan?
  • Vir watter van my identiteite wil ek ’n groter netwerk bou?

Alles wat jy sê en wat op jou publieke profiele is, skep ’n beeld waarmee mense jou assosieer. Dit is waardevol vir werk soek, nuwe geleenthede ontdek of mense in jou industrie te leer ken. Maar hoe kan jy jou handelsmerk herdefinieer? Hier is ’n paar idees:

  • Definieer die beeld wat jy wil uitstraal en waarvoor jy wil bekendstaan. Is jy ’n skrywer, ’n bemarker, ’n sakeman, entrepreneur of kreatiewe denker? Skryf in maksimum twee sinne neer wat die vaardighede of diens is wat jy voel jy voor geroep is.
  • Vergroot jou aanlyn teenwoordigheid met ’n blog, skep ’n LinkedIn profiel en begin om Facebook en Twitter te gebruik om jou professionele beeld uit te bou. Let daarop om nie sosiale media blaaie of profiele te begin wat jy nie gereeld kan opdateer nie, moet ook nie ’n blog begin as jy nie inhoud het om te deel nie. Sosiale media is ’n langtermyn strategie en daar is dikwels beter maniere om jou tyd te spandeer, maar dit is ’n goeie wegspringplek as jy jouself wil herdefinieer en waardevolle inhoud het om met ander te deel.
  • Kry verwysings en getuigskrifte by kliënte wat jou vaardighede, diens of prestasies benadruk. Dit kan handig op LinkedIn gebruik word en op jou webtuiste. Dit is verder ook ’n manier om toekomstige kliënte gerus te stel dat jy ’n spesialis in jou gebied is.
  • Versamel positiewe e-posse of geskrewe kommentare wat jy by kollegas, jou baas of kliënte kry – jy kan dit weer gebruik vir werkgewers, op jou kwotasies aanbring of in jou CV sit. Dit is meer geloofwaardig as ander mense jou karaktereienskappe of vaardighede bevestig as net jyself.
  • Netwerk gedurig met mense in jou industrie, woon netwerk geleenthede of praatjies by wat jy in belangstel. Nie net help dit jou om te ontwikkel nie, maar dit gee jou geleentheid om jou netwerk te vergroot en waardevolle verhoudings op te bou.
  • Indien jy ’n goeie skrywer is, skryf insiggewende artikels vir plaaslike nuusblaaie oor relevante nuusgebeure. Daar is ook aanlyn nuusblaaie waar jy blogs voor kan instuur vir plasing. As jy stadsbeplanner is, soek iets relevant in die nuus wat jou toelaat om jou opinie te gee oor hoe die stad uitbrei en waarvoor die regering moet uitkyk. As jy ’n prokureur is, bespreek nuwe wetgewing wat belangrik is vir verbruikers. Heg jou vaardighede aan kwessies wat mense se alledaagse lewe raak.
  • Jy kan ook oorweeg om e-boeke te skryf en dit gratis vir jou volgelinge beskikbaarstel. ’n E-boek kan ’n paar bladsye wees of ’n boek, maar moet aflaaibaar wees en ontwerp word soos ’n boek se uitleg. As jy waarde skep vir ander deur middel van inhoud, sal hulle jou ook verwys of self van jou diens gebruik maak.
  • Besoek com en kyk of daar groepe in jou omgewing is waar jy kan inskakel. Meetup is die wêreld se grootste netwerk en maak dit maklik vir enige iemand om ’n geleentheid te hou of aan te sluit by bestaande gemeenskapsgroepe. Met 250 000 maandelikse byeenkomste in 79 000 stede, behoort jy maklik iets naby jou te kry.

Om ’n gedefinieerde handelsmerk te hê is om jouself ook beter te verstaan. Die doel moet nooit wees om titels na te jaag of om met jouself te spog nie, maar eerder om duidelikheid te hê en duidelikheid te gee oor waar jy wil waarde toevoeg. Om ’n sterk persoonlike handelsmerk te vestig gaan hand aan hand met nederigheid. Jy kan selfvertroue hê oor jou vaardigheid en vermoë om ander by te staan met dit waarin jy goed is, maar dit met deernis en nederigheid doen. Wees jouself, vind dit wat jou hande vind om te doen en kry mense vir wie jy dit kan doen – laat die res oor aan jou netwerk.