Kies ’n trefferproduk om aanlyn te verkoop

Besigheidseienaars is soms geneig om bloot herhaaldelik te bly doen wat werk – vir so lank as wat dit werk. Met vandag se vinnig veranderende mark is dit egter nodig om partykeer die nuwe neigings in die mark te volg om voor die kompetisie te bly. Aanlyn verkope wen ál meer veld in Suid-Afrika. Volgens navorsing gaan dit teen 2022 ’n 2%-markaandeel van alle verkope hê. In 2020 het daar ’n merkwaardige toename in aanlyn verkope plaasgevind; volgens Mobicred het aanlyn transaksies met sowat 40% toegeneem. Verder het kliënte oor die ouderdom van 60, wat gewoonlik skrikkerig is vir aanlyn aankope, se aanlyn aankope met ’n ongelooflike 90% gegroei.

Dié merkwaardige groei kan grootliks toegeskryf word aan die inperkings gedurende die grendeltyd. Omdat mense meer tyd tuis moes spandeer, het aanlyn aankope sowel makliker as geriefliker geword. Alle navorsing en statistiek dui op ’n groot groei in aanlyn handel en dit is nóú die tyd om deel te word van dié neiging. Die vraag is egter hoe kies ’n mens die regte produkte om aanlyn te verkoop. Volgens Bizcommunity is die drie populêrste kategorieë vir aanlyn aankope in Suid-Afrika die volgende:

  • Klere en bykomstighede
  • Vermaak (digitaal/aflaaibaar)
  • Kaartjies vir vertonings

Dit is daarom maklik om te verstaan hoekom webtuistes soos Computicket en Superbalist so goed vaar. Dit beteken egter nie dat besigheidseienaars nie ander trefferprodukte kan beskikbaar stel nie. As jy ’n produk op die regte tyd in die mark plaas, kan dit sowel jou reikwydte verbreed as jou verkope ’n hupstoot gee. Hier is ’n paar wenke om te bepaal watter produk jy moet verkoop:

  • Kyk watter produkte jy op sosiale media en aanlyn advertensies opmerk. Die kans is goed dat jy dit raaksien omdat dit die huidige produktendens weerspieël.
  • Doen navorsing. Soek vir trefferprodukte wat tans in ander lande goed verkoop en probeer bepaal of dit in Suid-Afrika net so suksesvol gaan wees. Gaan loer veral op platforms soos Google Trends en Amazon wat topverkopers is. Dit kan jou dalk insig gee in wat die volgende groot produk in Suid-Afrika gaan wees.
  • Bepaal of daar ’n vraag is na die produk waarop jy besluit. Sommige produkte skep ’n nuwe nis in die mark, maar dit is veiliger om eers te bepaal of daar ’n behoefte is aan die produk.
  • Stel vas of jy die produk maklik in die hande kan kry. Dit is uiters belangrik om ’n vervaardiger of verskaffer vir jou produk te kry. Dit help nie jy kan ’n mark vir die produk skep as jy dit nie kan lewer nie. Maak seker jy het ’n betroubare verskaffer wat teen ’n konstante prys die produk vir jou kan lewer sodat jy nie momentum verloor wanneer verkope begin optel nie.
  • Vind uit of jy die produk moet verskeep. Nie alle produkte is ideaal vir aanlyn verkope nie. Meubels is byvoorbeeld groot en meestal te duur om te versend. Die ideaal is om ’n produk te kies wat jy maklik in ’n koeriersak kan verpak. Dit bring die versendingskoste vir kliënte af en maak hulle meer geneig om met die transaksie voort te gaan.
  • Bereken of die produk winsgewend is. Dit mag voor die hand liggend klink, maar dit is belangrik om die werklike koste van jou produk te bepaal. Indien jy dit invoer, beteken dit natuurlik jy moet nie net die koste van die produk in ag neem nie, maar ook die koste van verskeping na Suid-Afrika, die invoerbelasting en alle ander koste soos verpakking en jou webtuiste se koste. Sluit al die koste by jou berekening in en bepaal dan of dit steeds winsgewend gaan wees.

Om die aanlyn mark te betree kan opwindend wees. Maar om dit die moeite werd te maak, moet jy doodseker wees dat jy reeds die regte produk het of dit gaan ontwikkel. Om ’n trefferproduk op die mark te sit is nie ’n vloekskoot nie. Dit vereis baie navorsing en produkontwikkeling, maar kan oor die lang termyn betalend wees. Maak gebruik van die onlangse groei in aanlyn verkope om op dié geleentheid te kapitaliseer.